Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
GTI-gesin wys hul spiere

Jy gaan nie sommer ’n Duitse motorvervaardiger van ’n halsoorkop gedagte beskuldig nie. Planmatig en inkrementeel is eerder die wagwoorde waarlangs dié suksesvolle maatskappye wandel.

Die jongste Golf-gesin, nommer agt, het pas die lig gesien. Hier is die hibridiese GTE, die petrolgedrewe GTI en die warm diesel-GTD in gelid.

Neem die nuwe Golf GTI, wat pas in Genève saam met sy nefies die GTD en GTE wêreldwyd bekend gestel is. Vir die agtste generasie van hierdie staatmaker op VW se portefeuljelysie het die groep geen verrassings opgedis nie.

Dit is eerder ’n doeltreffende, voorspelbare stap vorentoe in elke aspek wat die luikrug-blitsbukse gegee het.

Wat het ons hier?

Die nuwe GTI het slegs hier en daar iets ekstra teenoor sy gewone Golf-stalmaat om hom van die standaardmodelle te onderskei. Maar ook onder die enjinkap is die enjin net genoeg opgeknap om hom ’n raps beter as vantevore te maak.

Te min? Nie noodwendig nie. Dit is ’n resep wat Wolfsburg al vanaf die 1970’s volg, en dit werk. Oor die hele wêreld. Waarom torring hieraan?

Die nuwe GTI kry ’n dun, breë sierrooster met die bekende swart heuningkoek-rooster wat nou al standaard vir elke GTI-generasie is. Aan die bokant maak ’n dun strepie LED-liggies egter hul debuut, en ons moet sê dit lyk dadelik treffend, al was die gevaar daar dat so iets ’n geur van ’n namarkse oordadigheid kon hê.

Onder, op die hoeke van die neus, is daar nou ook vyf klein misligte wat in ’n X gerangskik is. Goed, dit is ’n opsionele mislig wat jy in dié gedaante kan bestel, maar dit lyk werklik treffend.

Agter kry jy voortaan ook ’n groot lugsnoer tussen die twee vet uitlaatpype, terwyl die syskorte by die deure groter is as op die gewone Golf s’n.

Agter die stuur

Binne ontvang die GTI lekker diep sportsitplekke met ’n vet, klein leerstuurwiel voor jou. Maar net soos met ander, nuwe Volksies kry die GTI nou ook ’n ten volle digitale instrumentpaneel.

Voor die bestuurder is ’n digitale skerm wat in verskillende kleur-agtergronde jou rit-inligting wys, terwyl die groot skerm in die middel van die instrumentpaneel al jou nutsfunksies, die tru-kamera en satnav-stelsel inkorporeer.

VW sê daar is klein LED-stroke regdeur die kajuit wat mooi stemmingsbeligting in die ruim skep. Jy kan uit 30 kleure kies om by jou bui te pas.

Druk hom, swaer

Die belangrikste vraag is natuurlik wat het VW onder die enjinkap aangevang. Die goeie nuus is dat daar wel ’n kragverbetering is, hoewel dit in egte VW-tradisie slegs ’n klein stap vorentoe is.

Die gesoute 2.0-liter-turbo wat VW nou al vir jare in sy verrigtingsmodelle inspan, is behou. Waar die enjin in die ou GTI 169 kW en 350 Nm uitgepomp het, lewer hy nou 180 kW en 370 Nm.

Krag gaan steeds na die voorwiele, en in Europa kan jy kies tussen ’n sesgang-handratkas of ’n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaartipe).

Maar nou is daar ’n bykomende elektroniese truuk in die vorm van aanpasbare skokbrekers wat elektronies gemoduleer word.

Die ou GTI se XDS-stelsel, waar die blikbrein die binneste voorwiel se rem liggies kan vasknyp om krag na die buitenste wiel te dwing as jy om ’n draai wil vet gee, is behou.

Maar nou is daar ’n bykomende elektroniese truuk in die vorm van aanpasbare skokbrekers wat elektronies gemoduleer word.

VW sê die blikbrein kan nou die XDS-stelsel en elektroniese dempers in tandem laat saamwerk.

Die dempers se viskositeit kan aangepas word om ’n fermer rit te bied, of bloot net die buitenste wiele se fermheid stywer te maak as jy na links om ’n draai skiet, byvoorbeeld.

. . . en ’n skoon diesel

Met die huidige klem op uit-laatgasse en Dieselgate nog vars in die geheue, het die VW-direksie die rûe styf gemaak deur steeds ’n GTD-model gelyktydig saam met die GTI bekend te stel.

Die nuwe GTD (die diesel-weergawe van die petrol-GTI) ry met dieselfde 2.0-liter-turbodiesel as vantevore, maar krag is nou verbeter na 147 kW (+17 kW) en 400 Nm (+50 Nm).

VW het egter nog geen verrigtingsyfers bekend gemaak nie.

Dieselmodelle se achilleshiel is hul NOx-uitlaatgasse, en om dit te oorkom kry die nuwe GTD ’n uitlaatstelsel wat ’n dubbele dosis van die sogenaamde AdBlue-gas in die uitlaatpyp blaas om die lug skoner en binne wetlike perke te kry.

En laastens is daar in Europa ook ’n nuwe GTE-weergawe, die “groen” GTI as jy wil.

Die GTE benut die VW-groep se bekende 1.4-liter-turbopetrol gekombineer met ’n elektriese battery. Die stelsel lewer 180 kW en 400 Nm wringkrag, wat op papier perfek inpas by die GTI en GTD se kragsyfers.

VW het egter nog geen verrigtingsyfers bekend gemaak nie.

Die GTE se klein battery, wat as hupstoot dien vir die klein petrolenjin, kan nou ’n e-reikafstand van 60 km bied, sê VW.

Die GTI kom in die derde kwartaal na Suid-Afrika.

Meer oor:  Motors  |  Golf Gti
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.