Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
GTI, T-Roc – só lyk VW se planne
Ons raai VWSA gaan dié gawe oopdak-weergawe van die T-Roc ook na ons mark bring, later die jaar. Dit sal die enigste klein oopdak-sportnuts op die mark wees.

Jy sal voor die einde van volgende jaar Volkswagen se nuwe doelgeboude e-voertuig, die ID.3, op ons paaie kan sien, maar die eerste e-motors wat jy uit dié stal sal kan koop, sal die groep se ID.4-sportnuts oor minstens nog twee jaar wees.

VWSA het verlede week sy jongste planne vir die nabye toekoms bekend gemaak. Selfs te midde van ’n pap ekonomiese klimaat het die groep ’n lang lys nuwe produkte wat ons mark sal betree.

Dit is grootliks bekende name, maar ook die eerste toetrede van sy nuwe geslag e-voertuie wat ’n nuwe era vir die Duitse handelsmerk inlui.

Volkswagen het pas ses e-Golfs na die land gebring waar verskillende groepe (gewone verbruikers, motorjoernaliste) dit op ’n normale wyse gaan gebruik om hul terugvoering oor die praktiese voor- en nadele van saamleef met so ’n unieke produk weer te gee.

Die e-Golf is op die Golf 7.5 geskoei en is reeds in Europa te koop, maar hierdie ses is die enigstes wat na die land gebring gaan word. Dit sal net as toetsmuile benut word.

Die e-Golf sal volgende jaar deur nog ’n toetsvloot, bestaande uit die ID.3, opgevolg word. Die ID.3 is VW se eerste doelgeboude e-motor. Hy het die voorkoms van ’n luikrug, maar is ’n raps langer as ’n Golf.

Dit nou omrede jy dan ’n groter battery in die vloerpan van die voertuig kan inpas, wat hom ’n beter reikafstand sal gee.

Die groep beplan om toetsmuile selfs aan munisipaliteite te gee sodat ook dié terugvoering aan VWSA kan gee oor hoe prakties dit tans is om met so ’n voertuig in die vloot saam te leef.

Wat meer praktiese rygoed betref, lyk die res van 2020 ook glad nie te sleg nie.

Die warmste nuus is seker die koms van die nuwe Golf 8 later vanjaar. Dit sal by ons bes moontlik in die vierde kwartaal plaasvind, en wel in die gedaante van die GTI wat volgende week sy wêreldbuiging by die Geneefse skou gaan maak.

’n Nuwe Golf is altyd groot nuus, maar die luikrug-segment is al meer onder druk en nou met die geboorte van die ID.3 is daar gissings dat hierdie straks die laaste binnebrandenjin-Golf ooit kan wees.

Net voor die GTI sy swart rubberstrepe in Oktober op ons paaie gaan neersit, kan jy ook uitsien na die aankoms van VW se ander klein sportnuts, die T-Roc. Die T-Roc benut die Golf se onderstel en is op ’n mespunt gebalanseer tussen die Polo-grootte T-Cross en die heelwat langer Tiguan.

Nie net is die T-Roc groter as die T-Cross nie, maar hy is ook deftiger afgewerk en sal meer van ’n weelde-opsie bied teenoor die sakpas waarde van die T-Cross.

Oorsee is daar ook reeds ’n oopdak-T-Roc, en jy het dit hier die eerste keer gehoor: Ons verwag hy gaan ook ’n verskyning maak as ’n baie unieke nismo-del.

Maar dit is nie waar die lysie vir VW vir die jaar ophou nie. Later die jaar gaan die T-Cross (wat alreeds fluks groei in gewildheid) se gesin uitgebrei word met ’n model aan die bo- en onderkant van die reeks. Bo kom ’n 1.5-liter-turbo, en heel onder sal ’n sakpas 1.0-liter sy deure vir intreekopers oopswaai.

Ander nuus is dat VWSA sy hande op 300 modelle van die warm Golf GTI TCR gelê het vir ons mark. Dit is ’n beperkte model uit Wolfsburg en is die warmste weergawe van die GTI nog.

Die Tiguan en Caravelle-kombi kry albei ontrimpelings vanjaar, met ’n nuwe enjin in die reeks die grootste nuus hier. Moet ook nie vergeet van die langverwagte V6-dieselmodel van die Amarok met ’n ongelooflike 190 kW nie. Dit behoort die leefstylmark skoon deurmekaar te krap.

As een van die grootste vervaardigers in die land met ’n 25%-markaandeel sit VWSA in ’n goeie posisie om die huidige golf van swak ekonomiese syfers uit te ry. Sy modelaanbieding is breed en gediversifiseerd, iets wat die ander vervaardigers nie kan sê nie.

Daardie warm Amarok en net-reg-T-Roc is die twee modelle waarna ons die meeste uitsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.