Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hamilton heers oor futlose F1

In 2003 het Tim Richardson, ’n lekkerny-historikus, die herkoms van Turkish Delight bevraagteken. In Sweets: A History of Temptation, redeneer hy dat “name en ontstaansdatums dikwels opsetlik verkeerdelik geassosieer word met die skep van sekere lekkergoed, dikwels om kommersiële redes.”

Dat die verwringing van feite ’n suur smaak in die mond los – ongeag die spreekwoordelike kos – is nie altemit nie.

In dieselfde trant is die massa-histerie (veral deur die Britse pers) rondom Lewis Hamilton se ewenaar van Michael Schumacher se rekord van sewe jaers­krone, wat hy Sondag in die Turkse Grand Prix behaal het – in ’n jaar wat hy statisties (saam met 2015) die minste weerstand van enige mededinger ervaar het – onvermydelik bevraagtekenbaar.

Is die 2020-kampioenskapstitel, wat afgerammel is met ’n volle drie rondes wat nog uitgespook moet word – boonop in ’n verkorte seisoen – deur Hamilton gewen, of is dit eerder deur ander verloor?

Sebastian Vettel het Sondag moedig met sy Ferrari op ’n nat en gladde Turkse renbaan probeer om die Mercedesse in te katrol. Foto: Getty Images

Reeds in die voorseisoense toetse is Ferrari as een van Mercedes se twee tradisionele mede-titelaanspraakmakers uit Hamilton se pad verwyder toe hulle weens knoeiery met hul motor se toegelate brandstofvloei in die bek geruk is en daarna die kruis van ’n gekastreerde enjin vir die hele jaar moes dra. Die resultaat was Ferrari se tweede swakste jaar sedert hul stigting in 1950.

Die onus om Mercedes in toom te (probeer) hou, het dus uitsluitlik op Red Bull geval, waar daar weer geworstel is met die RB16 se wankelrige wipstert tydens die indraaifase; wat selfs Max Verstappen as kroongesalfde soms uitgevang het en wat sy spanmaat, Alex Albon, nooit kon kleinkry nie.

Buitendien was die Bulle selde snel of betroubaar genoeg om die Mercedesse die stryd aan te sê; en Verstappen die alleenagent terwyl Albon meestal in die middelveld rondgeploeg het.

Sonder enige buite-bedreiging was Hamilton gelaat met sy spanmaat, Valtteri Bottas, as sy “strafste” mededinger. Bottas is egter in 2017 deur die span aangestel as ’n ondersteuner eerder as mededinger vir die Britse superster, en Mercedes het nog nooit verwag of verlang dat hy die kampioenskap moet verower nie.

Tog, ná die twee openingsrenne in Oostenryk het Bottas se naam bo-aan die punteleer gepronk, maar ná die derde ronde in Hongarye het hy geabdikeer toe die Hamilton-stoomtrein die krane begin oopdraai het. By die eerste van die twee Britse rondes het Bottas nóg harpuis geruik toe ’n gebarste band hom van al sy punte beroof het, terwyl sy spanleier met dieselfde probleem in ’n vonkesee op drie wiele eerste verby die geruite vlag kon kruip. Ná vyf renne was die puntegaping tussen die twee Mercedes-jaers reeds 30 punte, oftewel meer as een wen – ’n tekort wat daarna soos ’n bungeetou net sou aanhou rek.

Bottas se mees onbenutte oomblik het by Monza gekom, toe Hamilton sy voortou kwyt is weens ’n oortreding en nie verder as sewende kon vorder nie. Ten spyte van ’n gulde geleentheid vir regstellende aksie kon Bottas self nie beter as vyfde haal nie – en was die vier puntjies wat hy van Hamilton kon teruggaps, skrale troos.

Die 13de ronde by Imola was ’n ewe ongelukkige nommer vir Bottas. Met ’n stratosferiese agterstand van 77 punte en vier rondes oor om te beslis, was die titelstryd so goed soos verlore en die bietjie wat oor was van sy gees, teen daardie tyd platter as Dudu Myeni se stoelkussing by ’n Zondo-kommissiesitting.

Hamilton is bevoordeel deur ’n welberekende kuipestop in die veiligheidsmotortydperk, terwyl Bottas se motor getrou het met ’n stuk van Vettel se Ferrari-voorvlerk, verrigting ingeboet het en vir die soveelste keer strooimeisie moes speel.

Teen Oktober-maandeinde het Verstappen se enkele sege by Silverstone al hoe meer soos ’n frats eerder as ’n voorspelling gelyk. Sy titelkanse was tot niet nadat hy in al drie van die rondes in Italië moes onttrek; daarenteen het Hamilton nege goue bekers op hande gehad en ’n beteuterde Bottas net twee.

En toe kom Sondag se Turkse ren – ’n lotery vergestalt deur reën en ’n geoliede baanoppervlak wat twee weke gelede oorgeteer is en nie betyds kon uitdroog nie; en in yskoue toestande die Pirelli’s in swart seep­blokke verander het. Daar was geen twyfel dat dié ren, wat onthou sal word vir sy skaatsery eerder as kragmetery, die manne van hul minderes sou skei.

As 2020 ’n futlose, uitsiglose en eensydige Formule Een-jaar was, was Hamilton se wegspring vanaf die sesde plek, en gevolglike bemeestering van omstandigheid en opponent, ’n herinnering van sy perkelose talent en ’n roomvertoon van ’n waardige, veelvoudige wêreldkampioen sonder gelyke. Terwyl ander jaers gedobbel het met bandkeuses – en hul veiligheid, soos hulle verwoed gestoei het om hul motors op die pad te hou (Bottas het ses keer getol) – het Hamilton koelkop gebly en nooit getwyfel of geweifel in sy vermoë nie. Of sy lot as F1 se verdienstelikste heerser nie.

Sy ontroerende, virtuose vertoning kon geen duideliker antwoord aan die twyfelaars basuin waarom Hamilton die beste jaer van sy generasie is nie, en in elke opsig die gelyke van sy kinderheld – Ayrton Senna – en natuurlik Schumacher, langs wie sy naam nou met reg in die geskiedenisboeke verskyn.

Dis uiteraard betreurenswaardig dat daar vanjaar geen maatstaf was wat lank of hoog genoeg was om die diepte van Hamilton se talent deurlopend te kon toets nie.

En dit dwing ’n mens tot net een gevoel: Ná die verslind van ’n koek met te veel versiersuiker, laat die afwesigheid van enige mededingers – die deeg – ’n mens al hoe meer na ietsie bitter smag.

  • Die Bahreinse Grand Prix vind volgende Sondag by Sakhir plaas.
Meer oor:  Grand Prix  |  Motors  |  Hamilton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.