Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hei, straatslim Everest rol yskoud binne

Die nuwe, onderbeklemtoonde Everest Sport het verlede week sy buiging in die Klein-Karoo gemaak.

Diegene wat kan doen sonder ’n oordosis chroom wat jou oë in die son verblind, sal aanklank vind by die Everest Sport. Hierdie nuwe variant dra nie net ’n ontwerpersweetpakbaadjie nie, hy bied heelwat gemakstoerusting ook.

Die Sport (te kry as ’n 4x2- en ’n 4x4-model) is op die XLT-afwerkingsvlak van die Everest-gesin gebaseer, maar lyk heel peinsend-imposant met sy swart rooster en swart kantspieëls, asook die groot Everest-benaming op die snoet, wat so bietjie herinner aan Land Rover se vooraansig-stilering.

Ander kenmerke in die Sport se swart voorkomspakket sluit in swart dakrelings en twintigduim- allooiwiele (ook in swart, natuurlik).

Tog, ten spyte van sy naam is die Sport-variant nie haastiger as sy Everest-eweknieë nie. Meganies is hy identies aan die XLT-model met die enkelturbodiesel-weergawe van die nuwe 2.0-liter-enjin, wat 132 kW en 420 Nm wringkrag lewer.

Ek en my medebestuurder het laatmiddag op George-lughawe geland en seker gemaak ons laai ons tassies in die swart Everest Sport met die meeste straatkat-houding.

Lus vir ’n bietjie boerboel in jou pype? Ford het sy Everest van ’n swart voorkomspakket voorsien – die Sport kry swart wiele, rooster en kantspieëls, onder meer.

Aan die binnekant lyk die Sport heel imponerend. Die kajuit bied ’n gevoel van luuksheid danksy die ondersteunende leersitplekke met hul blou stikwerk en die bestuurdersitplek, wat elektronies verstelbaar is.

Die bokant van die instrumentpaneel ontvang ook die swartleerbehandeling, terwyl Ford sy jongste vermaakstelsel met ’n raakskerm en talle nutsfunksies vir die Sport ingesluit het. Die stelsel bied ook ’n satnav-funksie.

Jy hoef nie met ’n sleutel te sukkel om toegang tot die voertuig te verkry nie – solank dit in jou gat- of handsak is sluit die deure vanself oop as jy net aan die deurhandvatsel raak. Sodra jy gemaklik sit en reg is om die wiele te laat rol, skakel jy die Sport met die aansitterknop aan.

Ons was verál dankbaar oor die twee USB-sokke voor in die kajuit sodat ons albei ons fone tegelykertyd kon laai en van Android Auto, asook Apple CarPlay, kon gebruik maak. Ons was ook heel beïndruk met die klankstelsel se gehalte.

Die tweeliter-diesel loop lekker stil, terwyl padgeraas skaars hoorbaar is. Selfs die rit op die intimiderende Swartbergpas was geensins stamperig nie, ten spyte van die groot wiele.Ek het ook van die tiengang- outomatiese ratkas gehou.

’n Mens hoor hom skaars en hy pas blitsig aan by die hoeveelheid wringkrag wat jou regtervoet verlang. ’n Mens sukkel ook nie om iets verby te steek met daardie 420 Newtons onder die enjinkap nie.

Laastens het ek ook redelik min bakleun bespeur om die fraai draaie van Meiringspoort. Die 4x4-modelle is in permanente vierwielaandrywing, so die enigste knop wat jy draai is wanneer jy tussen die vier ritmodusse (sneeu, gras, rotse of teer) moet kies. Ons verbruik was ’n skamele 9,2 liter, wat nogal min is vir ’n sportnutswa met so ’n groot lyf.

Vir daaglikse gebruik is die goedkoper 4x2-model met presies dieselfde toerusting heel voldoende; dis net hardebaard-4x4-entoesiaste wat werklik die duurder model benodig.

Veiligheidstoerusting sluit in vastrapbeheer, ’n vashoufunksie as jy teen ’n bult wil wegtrek en rol-voorkoming, asook sewe lugsakke.

Padbystand vir die eerste drie jaar is by die pakket ingesluit.

Die Everest Sport en sy trawante het ’n 4 jaar-120 000 km-waarborg, sowel as ’n 6 jaar-90 000 km- versienplan.

Pryse:

Everest Sport (4x2) – R675 500;

Everest Sport (4x4) – R718 000.

Meer oor:  Motors  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.