Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Hei, Wey, is jy ’n lekker Chinese wa om mee te ry?

Knormoer wil dit net weer eens duidelik stel dat daar geen waarheid in die gerugte steek dat Great Wall Motors se nuwe weeldehandelsmerk, Wey, later as Which Wey, Wrong Wey of No Wey bekend sal staan nie.

Die stigting van Wey as ’n alleenstaande naam in die GWM-stal, spesifiek vir die groep se nuwe weeldemotors, is al ou nuus. Maar wat nuut is, is die idee om nou ’n tweede, afsonderlike maatskappy te stig vir e-voertuie. Dit nou om in pas te wees met BMW (i), Volkswagen (ID) en Volvo (Polestar) se manier van doen.

Veral waarde-vir-geld-handelsmerke sit kort voor lank met die probleem dat kopers dit moeilik vind om die hand dieper in die sak vir ’n deftiger produk te steek. Al is dit die geld werd.

Die persepsie van ’n sakpas-naam bly maar net kleef.

Wey was dalk nie die slimste keuse vir ’n naam vir jou nuwe weeldesedan nie. Maar Knormoer hou in die stilligheid sy hart vas in afwagting wat GWM sy nuwe e-handelsmerk gaan noem.

  • Sprake dat dit Zing, Zap of Wat Weng Wong gaan wees, is net goedkoop praatjies. A nee a.

Hoe maak jy? Só maak jy

Knormoer is ligweg opgewonde oor wat tans in die Wolfsburg-raadsale aan’t gebeur is. Noudat die ingenieurs hard werk aan ’n stadstipe e-karretjie, die ID.1, is daar sprake van ’n Skoda-ekwivalent, die Citigo.

Dis mos nou wat Knormoer ’n wen-wen- situasie noem. Skoda is VW se sakpas-handelsmerk. Met sy fabriek in Oos-Europa is arbeidskoste laer as in peperduur Duitsland.

Plus, die Skodas word tradisioneel met minder tierlantyntjies afgewerk, sodat jou prys ’n knerts laer kan wees.

Die gedagte is nou om hierdie sakemodel ook op die nuwe, klein stads-e-motortjie toe te pas.

Knormoer hoop hierdie Skoda vind sy weg na Suid-Afrika. Dis wat ons kopers sal noop om na e-voertuie oor te skakel. Nie R2 miljoen-voertuie soos die Jaguar I-Pace nie – al is dit tegnies hóé goed en luuks.

Met ’n klein stadsbuksie is jou koopprys veel nader aan bekostigbaar vir Jan Alleman, terwyl dit ook sin maak vir pendelritte, waar jy jou minder oor jou beperkte reikafstand hoef te bekommer. ’n Paar ritte in die week met een lading, en herlaai hom dan oornag tuis.

  • Komaan, VWSA, maak ’n plan. En onthou, jy’t dit die eerste hier by Knormoer gelees.

Laat wiel – letterlik

En daar kry Knormoer toe ’n pap wiel op die slegste van tye. Net toe hy op pad was na die lughawe om iemand daar te gaan aflewer, besluit die agterwiel om die aftog te blaas.

Maklik, besluit Knormoer, geen rede om angstig te raak nie. Ruil dit net gou om.

Wel, wanneer laas het jy ’n wiel omgeruil? Vandag se fênsie karre het meer tegnotruuks in ’n marie-dun-wiel en sy moere ingepak as wat jy sou kon dink.

Elke moer het ’n doppie, wat eers moet afkom. Met ’n spesiale tangetjie. Op sy spesiale bêreplek in die bagasieruim se vloer.

Dan die spesiale moer met sy spesiale kop wat met slegs ’n spesiale moersleutel losgedraai kan word.

Reg geraai, ook dié lê op sy spe­siale plek in die ruim.

En só karring ons aan. Daar’s meer gereedskap nodig vir tjoep omruil as impromptu handlangers wat bereid is om (teen ’n fooitjie) jou te help.

  • Knormoer het reggekom, maar sy passasier moes plan B beraam. Wel, nou weet ons hoe.

Tjeers vir eers

Kyk, as jy 2020 oorleef het, weet jy jou ysterpakkie is nie by die tombola-tafel gewen nie. Dit was maar rof op ’n kol (raai wie is met die drank-broek om die enkels betrap?).

Goeie nuus, ons kan nou ’n blaaskans neem. Kyk mooi na jou mense, ontspan, en gedra jou soos Knormoer sou, nè?

  • Ons ginnegaap weer op 14 Jannewarie.
Meer oor:  Great Wall Motors  |  Knormoer  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.