Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Heitou, kyk dié Mswenko!

Volkswagen se klein Polo Vivo is gereeld die topverkoper-voertuig in Suid-Afrika. Om sy voetspoor in die nuwe, ontluikende marksegment van Suid-Afrika egter te vergroot, waar jong swart kopers die middelklas betree en na bekostigbare (maar steeds lekker opwindende) wiele soek, het hy nou ’n spesiale weergawe in die Vivo-gesin uitgebring.

Die Vivo Mswenko is die eerste Volksie wat ’n “Afrika”- naam kry. Dis nogal slim, dink ons. Onthou hoe ougat was die “rooi vellies-Kombi” destyds toe David Kramer se TV-advertensies met die Kombi oor die stofpad-bergpas so gewild begin raak het. VW het onder meer ’n kenteken met rooi vellies agterop sekere Kombi’s gesit om as ’n bemarkingsveldtog van sy eie te dien.

In Zoeloe beteken Mswenko om straatslim en sjarmant te wees, en dit is presies wat die netjies opgemaakte Vivo Mswenko wil wees.

Loop verby as jy blokkiespatroon-hemde dra. Volkswagen se windmaker Polo Vivo Mswenko is sy jongste Vivo-lid gemik op die ontluikende mark in die land. Foto: Marnus Hattingh

Die Mswenko is op die Comfortline-vlak gegrond, maar kry nou spesiale 16 duim-allooiwiele, blou strepe met Mswenko-kentekens op die deure, ’n blink uitlaatpunt agter, ’n swart geverfde dak, donker getinte vensters agter en swart kantspieëls.

Binne is die blou tema voortgesit met blou panele op die sitplekke, leerbedekking vir die stuurwiel, ’n paar silwerkleurige panele op die instrumentpaneel, ’n frisser radio met ses luidsprekers en ’n grys dakvoering.

Hei, jy!

Nou, dis als kosmeties van aard, want die Mswenko benut steeds Volkswagen se natuurlik geaspireerde 1.4-liter met 63 kW en 132 Nm wringkrag. Dis nou nie iets waarmee jy deurwagte deur die gesig kan klap en dink jy sal vir hulle kan wegry nie. Die Mswenko is boonop ’n vyfganghandrat, en hoewel die vensters elektronies is, is die kantspieëls se verstelling met die hand. Die radio kan wel koordloos met jou slimfoon verbind.

Dus, ’n eklektiese mengsel van hipster-styl en basiese draai-die-sente-om besparings.

As ’n stadsmotortjie dink ek slaag hy in sy doel. Hy lyk windmaker met sy blou aksente, en die blou sitplekke is net so “hei jy!” spoggerig. Ek sou die blink uitlaatpyp weglaat, en eerder die kantspieëls elektronies maak.

Die handratkas skree “intreemodel” uit volle bors. Maar, jou verbruiksyfer is werklik laag – ek het lag-lag 5,6 liter gehandhaaf met ’n mengsel van stads- en ooppad-ryery.

Dis ’n besige segment hierdie. Maar VW het slim gedink om die ontluikende mark met hierdie knaap te teiken. Dit behoort te werk.

Prys: VW Polo Vivo Mswenko – R246 900.

Meer oor:  Vivo Mswenko  |  Middelklas  |  Marksegment  |  Bekostigbaar  |  Spesiale Weergawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.