Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Het Max ’n Plan B?

Ná drie diep asems en vyf dubbeldoppe vir die senuwees – om konteks te probeer gee aan die gebeure in Sondag se Hongaarse Grand Prix – moet jy terugkyk tot so ver as 2005 se Amerikaanse Grand Prix.

Dít was die millennium se mees omstrede wedren waarin al 20 deelnemers die opwarmingsrondte begin het, maar slegs ses daarna vanweë bandkomplikasies vir die wegspring sou aantree.

Die oudkampioen Fernando Alonso (voor) het Sondag laat in die ren sy Alpine vir etlike rondtes breed voor die haastiger Mercedes van Lewis Hamilton gehou om die Britse jaer tot raserny te dryf. Dit het Hamilton straks die kans op ’n sege in die ren gekos. Alonso se spanmaat, Esteban Ocon, het die ren verrassend gewen. Foto: Getty Images

Daardie titel is nou in gedrang: Sondag het daar één motor weggespring – en hy sou nie eens wen nie. (Nog enetjie, asseblief, dié keer sommer vier vingers diep. En sonder ys.)

Eisj, dis wat gebeur as die hemele ’n halfuur voor die wegspring oopskeur, jaers ná ’n versengende naweek geen ervaring van die nat baan het nie; en kontak onafwendbaar by die eerste draai volg wanneer die kleurkrokodil opkrul soos jaers die ankers verwysingloos uitgooi op ’n skaatsbaan.

Sekondes ná die wegspring en met die toeval van tragiese misrekening óf uitstekende skutskap (afhangende van of jy ’n silwerswart of ’n bontblou onderbroek dra), het Valtteri Bottas se agterwiele tydens dié remfase gesluit, waarna sy Mercedes rolskaatse gekry en Lando Norris se McLaren getref het. Wat op sy beurt die Red Bulls van die kampioenskapsvoorloper, Max Verstappen, en Sergio Pérez geharpoen het.

Die Mercedes was flenters, Pérez se Red Bull het ’n genadedood geniet, terwyl Verstappen s’n gesmeek het vir die doodskoot.

Vir die tweede ren op ’n ry is die vlieënde Hollander se seile deur ’n skalkse Mercedes aan flarde geskeur: Lewis Hamilton, wat los voor was, was ongedeerd en is – soos in die ren op Silverstone twee weke gelede – danksy ’n onthoofde Rooi Bul ’n sege op ’n silwerskinkbord aangebied.

Die ren is vir ’n halfuur gestop om die puin te verwyder en waartydens die son die Hungaroring gelooi het. Met die helfte van sy regter- aërodinamiese pakket daarmee heen is Verstappen se gewonde ryding in die kuipe gelap en geplak; voortaan met – aldus die span – minder afwaartse druk as die Haas-motors (straks die maatstaf vir 2021 se stadigste motor).

Met die hervatting en daaropvolgende opwarmingsrondte is alle motors uitgestuur op die middelslag-reën-Pirelli, wat duidelik geen weerstand teen die dor gebakte Magjaarse teerblad kon bied nie.

Maar wat sou Hamilton as voorloper doen – kennelik alte bewus dat hy die verkeerde paar skoene na die dansbal aangetrek het?

Twee faktore val op: Spanne mag geen instruksies oor die radio tydens die opwarmingsrondtes aan jaers oordra wat ’n moontlike verrigtingsvoordeel kan bied nie. Dit wil sê dat al het Mercedes geweet die groengestreepte Pirelli’s was die ongewenste keuse, kon slegs Hamilton op daardie oomblik besluit om hulle te ruil.

Ook was die Mercedes-kuip heel vooraan die laan, wat sou beteken as Hamilton eerste daar aandoen, hy vir minstens ses anders motors moes wag om verby te ry voordat hy sy kuip kon verlaat.

Die geskiedenis sal getuig dat in die vierde rondte van die Hongaarse ren Hamilton se Mercedes die enigste motor op die wegspringrooster was. Dit sal ook wys dat sy verbintenis tot reënbande desondanks verdoemende teendeel die swakker van sy twee hande kaarte was.

En die een wat hom uiteindelik die ren gekos het.

Een rondte later het hy wél sy reënstewels gaan afskop en van heel laaste tot uiteindelik die derde plek teruggeveg.

Dít het ure later tweede geword nadat die aanvanklik tweede geplaasde Sebastian Vettel van Aston Martin gediskwalifiseer is omdat sy motor agterna te min brandstof oorgehad het vir die FIA om die vereiste eenliter-grootte monster te trek.

Verstappen is hiervolgens ook bevoordeel en sy tiende na ’n negende plek verbeter.

Met 11 felle renne agter die rug en 12 wat nog uitgespook moet word, is Verstappen (met 187 punte) se puntevoorsprong teenoor Hamilton (195) in Hongarye eindelik tot niet. Eersgenoemde het ’n skamele twee punte oor die laaste twee renne ingepalm – en die Brit 47.

Red Bull se onlangse storting van punte, geld en spreekwoordelike bloed sal die span se deursetting tot die uiterste beproef wanneer die seisoen se tweede helfte aan die einde van vandeesmaand aanbreek.

Verstappen se Silverstone-ongeluk het Red Bull se sak met $1,8 miljoen geruk – dié onvoorsiene koste in ’n jaar onderworpe aan ’n $145 miljoen-bestedingsplafon uit ’n begroting wat versigtig tussen vanjaar en 2022 se ontwikkeling gebalanseer moet word.

Erger nog sal albei Red Bull-jaers weens hul ongelukskade op een of ander tyd vanjaar ’n vierde enjin moet gebruik, wat buite die reëls is en hulle met laer wegspringposisies gestraf sal laat.

Gegewe die haarfyn wenmarges waaroor die twee kroonaanspraakmakers deurlopend toutrek, kan dit deurslaggewend teen jaareinde wees.

Terwyl 2021 F1 se mees kookwaterjaar sedert 2012 is (waar sewe verskillende jaers in die eerste sewe renne gewen het) en die titelstryd vanjaar aanvanklik aangrypend tussen Verstappen en Hamilton wipplank gery het, het die nadraai van die afgelope twee renne die seisoen na ’n donkerder en ongemakliker dimensie verplaas.

Die moontlikheid van ’n kampioenskap wat besleg word deur ongelukke en kostebeheer, maar bowenal boetedoening deur onskuldige slagoffers as die gevolg van opponente se dade, moet eenvoudig die sport se reëlmakers tot betragting roep.

Wat die tweede helfte van die jaar betref, sal albei hoofprotagoniste meer gereeld op hul onderskeie spanmaats – wat albei grootliks nog afwesig was – moet kan staatmaak om teen hul mededingers te help skrum.

En ’n sekondêre stryd tussen Pérez en Bottas om die derde plek op die puntelys sou ook ’n verdere fees wees.

Gaan kyk egter weer na Sondag se ren: Kan jy regtig kla terwyl jou beker só oorloop?

Meer oor:  Grand Prix  |  Max Verstappen  |  Hongarye  |  Amerika  |  Motorsport  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.