Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Hilux, pasop!

Ford se Ranger-bakkiereeks is pas opgeknap, en dis veral die nuwe enjins en onderstelverbeteringe wat beïndruk. Stuart Johnston het die bekend- stelling op die grense van die Klein-Karoo namens Rapport bygewoon.

Ford Ranger
Ford Ranger

Die vorige geslag Ford Rangers is laat in 2011 ter plaatse bekend gestel. In Australië is hulle ontwerp en plaaslik is daar verwag dat die nuwe Ranger die bakkie-landskap gaan revolusioneer tot op die punt waar die Ford Motormaatskappy ’n krag op die plaaslike toneel sal wees, ná dekades van swakheid.

In ’n stadium was die Ranger só suksesvol dat sy verkope selfs gedreig het om die Hilux s’n verby te steek en daarmee die Toyota-bakkie se heerskappy van meer as vier dekades te beëindig.

Deesdae beklee die Ranger egter ’n soliede tweede plek in die bakkiemark.

Met hierdie soort sukses is dit seker verstaanbaar dat Ford ’n beleid gevolg het van “moenie regmaak wat nie gebreek is nie”.

Daar was ’n verbetering in 2015 en die nuutste modernisering is nogmaals relatief klein wat die bak betref, met net ’n paar detail-veranderinge aan die rooster, kopligte, stertligte en wiele.

Nieteenstaande ’n effe gesofistikeerder voorkoms het die Ranger egter niks van sy macho beeld ingeboet nie, en dis goed so, daar ’n groot deel van die bakkie se sukses aan sy taai Amerikaanse voorkoms te danke is.

Die groot nuus is egter meganies van aard. Die topmodel, die geliefde Wildtrak-dubbelkajuit, span nou ’n viersilinder-2.0-liter-biturbo-diesel in, eerder as die vorige model se enkelturbo-3.2-liter-vyfsilinder.

Ford Ranger
Ford Ranger

Daar’s ook ’n enkelturbo-weergawe van die 2.0-liter wat in die Ranger XLT-dubbelkajuit diens sal doen.

Albei enjins dryf via ’n nuwe tiengang-outokas.

Desnieteenstaande bied Ford steeds die XLT- asook die Wildtrak-dubbelkajuitmodel met die groter 3.2-liter-turbodieselbron (147 kW, 470 Nm), nou selfs in die enkelkajuit- en gestrekte-kajuit-weergawe.

Die nuwe enkelkajuit, SuperCab en dubbelkajuit kan ook steeds met die minder kragtige 2.2-liter-Duratorque-dieselenjin – plus laer spesifikasievlakke – gekoop word.

Die bekendstelling aan die grense van die Klein-Karoo het ’n paar gedugte veldpad-ritte gebied, asook goeie ooppadplesier deur die Robertsonpas, wat dit moontlik gemaak het om ’n ordentlike indruk van die nuweling se enjinver­moëns en verbeterde onderstel te kry.

Ons het die 2.0-liter-enkelturbo (132 kW, 420 Nm) in die XLT beproef, asook die 2.0-liter-biturbo (157 kW, 500 Nm) in die Wildtrak.

Albei het beïndruk, veral met sterk penswring en middestrek-skop.

Ford Ranger
Ford Ranger

In die veld het die enjin en ratkas terrein wat laestrek vereis het, met gemak hanteer.

Benewens enjins is die veerstelsel ook gemoderniseer.

Voorlangs rus die kantelkeerstaaf nou agter die aslyn, terwyl sagter vere beter skokabsorpsie op rowwe paaie beteken, sonder dat bakrol noemenswaardig toeneem.

Agtervere voel ook sagter, wat ’n selfs beter teerpadrit waarborg, maar ons kon geen bevestiging van Ford se kant kry dat so ’n verandering wel aangebring is nie.

Benewens die enjins en onderstel is die Ranger se kajuit ook opgeknap.

En hier’s ’n lekkerte: Die laaibak kry nou ’n wringstaaf wat jou in staat stel om die laaiklap met een vinger oop en toe te maak!

Nog ’n welkome verbetering is gelamineerde akoestiese glas vir die XLS-, XLT- en Wildtrak-variante en dis duidelik dat pad- en meganiese geraas beslis minder is.

Daar is 33 variante in die Ranger-reeks, maar hier’s die vraag: Sal Ranger-eienaars onthou hoe hulle doerietyd oor die 2.0-liter-Amarok tekere gegaan het, synde die enjin “te klein” was?

En nou’t feitlik elke bakkie-vervaardiger ’n kleiner viersilinderdiesel in die reeks!

  • Pryse: Ford Ranger 2.0 SiT (enkelturbo) XLT-dubbelkajuit 4x4 – R570 200; 2.0 BiT (biturbo) Wildtrak-dubbelkajuit 4x4 – R678 200.
Meer oor:  Bakkies  |  Ford Ranger  |  Opknap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.