Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hilux se regtrek vat dié keer raak

Terwyl Toyota omtrent tien jaar vasgebyt het met sy vorige Hilux voordat die huidige agtste model vier jaar gelede op die toneel verskyn het, is daar min gevaar dat die nuwe bakkie sommer gou vaal gaan lyk.

Die groep het pas die Hilux sy tweede opknapping gegee, en dit net in vier jaar wat hy op die mark is. Die reeks is in die proses ook ’n raps aangepas, en topmodelle kry ’n heelwat frisser turbodiesel.

Toyota se Hilux-reeks het ’n vinnige opknapping ondergaan, maar dis veral die Legend-reeks wat ons oog gevang het. Ons hou van die forse voorkoms, terwyl die ekstra kilowatts vir die warmer 2.8-liter-diesel nou hope klouterkrag bied.
Hoe lyk die reeks nou?

Die ou SRX-model, wat die middel van die modelreeks verteenwoordig het, val nou weg. In sy plek is die Raider met die 2.4-liter-dieselenjin.

Die onderkant van die reeks word deur die S- en SR-modelle verteenwoordig, terwyl die topmodelle die Legend-weergawes is.

Waar die S en SR nog met die vorige sierrooster afgewerk is, kry die Raider en Legend ’n nuwe, groter rooster. Dit het ’n omgekeerde driehoek-formaat met chroomrande in die Raider se geval, en ’n swart rubberstrook vir die Legend.

’n Deel van die rand strek tot bo-op die enjinkap en veral in die Legend se swart afwerking lyk dit heel formidabel.

Enigiets aan die enjins verander?

Die drie petrolenjins – ’n 2.0-liter (102 kW, 183 Nm), ’n 2.7-liter (122 kW, 245 Nm) en ’n 4.0-liter-V6 (175 kW, 376 Nm) – word net so oorgedra na die opgeknapte modelreeks. Almal is natuurlik-geïnspireer.

In die diesel-afdeling is die 2.4-liter wat in die Raider diens doen, ook net so oorgedra, maar sy sleepvermoë is opgeknap vanaf 3,2 ton na 3,5 ton. Dit is dieselfde as wat die 2.8-liter-diesel bied.

Die Legend het hierdie netjiese skuins rolstaaf agter.

Die groot nuus is egter die 2.8-diesel se opgeknapte spierkrag. Danksy ’n nuwe turbo-aanjaer en verbeterde lugverkoeling onder meer kon Toyota die ou weergawe se 130 kW en 450 newtons opstoot na 150 kW en 500 Nm wringkrag. Die Japannese groep sê voorts daardie 500 newtons is nou oor ’n breër toerestrek ook beskikbaar, wat rybaarheid in die veld veral sal meehelp.

En laastens het Toyota ook die Hilux se stuuraksie skerper gemaak, en enjinhegpunte aangepas om nou minder enjingeraas in die kajuit te bied.

Is dit al?

Die Legend-modelle is voortaan ook met ’n spesiale RS-pakket te kry. Dit bied jou onder meer ’n netjiese rolstaaf agter die kajuit, ’n toetreklaai (wat jy met die druk van ’n knoppie kan laat oopskuif), ’n laaibak wat met ’n beskermende rubberlaag gespuit is, en ’n laaiklap wat jy met ’n vingerpunt kan oplig om toe te wip.

Al die Legend-modelle kry ook ’n netjiese kajuit met sagte blou stemmingsbeligting (dit voel ietwat vreemd in ’n bakkie, maar goed – wat als op ’n plaas gebeur bly seker tussen die kraalmure). Die dakvoering is ook swart, die bekleedsel is van swart leer en grys aksentpanele beslaan die voorpaneel. ’n Spesiale stofdigtingspakket vir die deure is ook deel van die Legend se arsenaal.

Jy kry ook ’n toetrek-laai wat met die druk van ’n knoppie oop- en toe rol.
Gooi kole

Ons het die Legend vinnig vir ’n paar draaie op ’n rowwe 4x4-roete geneem, en heel beïndruk daar weggestap. Die bakkie met sy frisser 2.8-liter-turbodiesel klouter moeiteloos teen steil hellings uit, en danksy opknappings aan die 4x4-stelsel kan jy nou ook minder wieltol ervaar alvorens hy iewers greep sal vind en jou dan vorentoe optrek.

Armsvol krag teen lae toere het opgeval, die laestrek-ratte het gehelp met stadige trapwerk oor groot klippe, en afdraandbeheer het gemaak dat jy nooit soos ’n wildewragtig bult-af jaag nie.

Afsaal

Die stryd tussen die Ford Ranger, VW Amarok en Hilux raak behoorlik warm. Vantevore het die Hilux te kort geskiet in die enjindepartement, maar nou bied die Legend weer iets om op trots te wees.

Enkele pryse:

Hilux 2.0 VVTi S (enkelkajuit) – R291 100;

Hilux 2.4 GD-6 Raider (dubbelkajuit) – R505 200;

Hilux 2.8 GD-6 Legend (dubbelkajuit, 4x4, out.) – R765 600.

Meer oor:  Hilux  |  Toyota  |  Bakkie  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.