Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hiluxe kan kop lig ná fris Dakar
Carlos Sainz het sy tweede Dakar-titel vanjaar ingeoes danksy ’n bestendige vertoning in sy Peugeot-duinebesie. Foto: AP

Carlos Sainz se eindelike gemaklike sege van 43 minute in sy Peugeot oor die twee Toyota Hilux-bakkies van Nasser Al-Attiyah (tweede) en Suid-Afrika se Giniel de Villiers (derde) was die kroon ná harde werk vir dié Spaanse tydrenjaer.

Vanjaar se Dakar-ren, die 40ste aflewering van dié epiese stofpadstryd en die tiende keer wat dit in Suid-Amerika aangebied is, is vandeesweek alom deur deelnemers en spanne as die taaiste nóg op die kontinent bestempel.

Deelnemers moes in hul 13 skofte oor twee weke bykans 8 800 km aflê. Hiervan was goed die helfte renskofte. Wat dit egter vanjaar so moeilik gemaak het, was dat daar talle nuwe skofte in Peru se hoë sandduine was.

Jaers het die een ná die ander vasgeval, onder wie ’n vroeë voorloper en een van die vroeë gunstelinge, die bekroonde WRC-tydrenner Sébastien Loeb in ’n Peugeot.

En as die duine die jaers nie laat tou opgooi het nie, het dit hulle steeds heelwat tyd laat verloor. Veral die Hilux-bakkies het in die sagte sand gesukkel sodra die son warm begin bak het.

Die bakkies het nie ’n aanboordstelsel waarmee hulle die banddruk kan aanpas soos die tweewielgedrewe Peugeot-duinebesies nie. Giniel de Villiers was een van die gunstelinge wat in dié proses baie tyd in die duine verloor het.

Toe die ren ná die twee marathon-skofte halfpad deur na Bolivia en Argentinië se harder grondpaaie verskuif het, het die bakkies beter gevaar. De Villiers het selfs Meneer Dakar, Stephane Peterhansel (Peugeot), agter hom gehou in ’n dolle gejaag om die derde en laaste podiumposisie met net minute wat die twee jaers van mekaar geskei het.

Vooraf is daar uitgesien na ’n groot driestryd tussen die swaargewig-fabriekspanne van Peugeot (in sy laaste Dakar-verskyning), Mini en Toyota Suid-Afrika. Veral die twee Europese spanne het met stewige begrotings en sterjaers na die beginpunt in La Paz, Bolivia, opgeruk.

Die Mini’s het egter gou geblyk om nie die murg in die pype te hê om by die Peugeots en bakkies te kon bybly nie. Dit was dus vroeg reeds ’n stryd tussen Parys en die Kalahari . . .

Die duine se terugslae ten spyt, het Al-Attiyah en De Villiers steeds kop gehou en op die Peugeots se hakke gebly.

Ondanks hul groot fabrieksteun moes die Peugeots steeds hard werk om die vasbyt-Hiluxe agter hulle in hul stofstrepe te hou.

Loeb was een van die vroeë groot name wat ná ’n harde stamp in die duine onverrigter sake huiswaarts moes keer.

Hierna het Peterhansel die voortou met sy spanmaats gewissel, alvorens Sainz sy neus met ’n nuttige uurvoorsprong voor gekry het in die naweek se marathonskofte. Hierna het Sainz nooit weer die stokkie laat val nie.

Die duine se terugslae ten spyt, het Al-Attiyah en De Villiers steeds kop gehou en op die Peugeots se hakke gebly. Al-Attiyah het moedig probeer om in te haal, maar die uur was net te veel om in die oorblywende skofte op te maak.

De Villiers het in die voorlaaste skof ’n voorsprong van agt minute oor Peterhansel om die derde plek gehad. In die finale skof het hy dit suksesvol verdedig om sodoende aan Toyota die netjiese troosprys van tweede en derde plek op die podium te verseker.

  • ’n Hoogtepunt vir die sewe SA deelnemers in vanjaar se Dakar was die private inskrywing van Hennie de Klerk in sy Amarok (met ’n Ford-V8). De Klerk het 28ste algeheel klaargemaak as die vinnigste nuweling in die motorafdeling.
  • Wat die motorfietse betref, was vanjaar se stryd mededingender as ooit met enigeen van agt jaers wat kon wen. Eindelik was dit navigasieprobleme in die duine, in Woensdag se 11de skof, wat die uitslag bepaal het.

Oostenryk se Mathias Walk­ner (KTM) het saam met vyf ander voorlopers deur die duine geploeg toe vier jaers besef het hulle is op die verkeerde koers, en in die proses 40 minute verloor het voordat hulle weer terug op die regte pad was.

Slegs Walkner en Yamaha se Adrien van Beveren was op die regte pad – maar toe, enkele kilometers voor die eindpunt, maak Van Beveren ’n ongeluk wat die algehele titel in effek aan Walkner oorhandig het.

  • Suid-Afrika se David Thomas het die beste van die vier SA tweewieljaers gevaar met ’n goeie 36ste plek. Die drie nuwelinge, Willem du Toit (54ste), Donovan van de Langenberg (58ste) en Gerry van der Byl (85ste, en laaste), het ook goeie ervaring opgedoen.
Meer oor:  Dakar  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.