Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Honda mors nie met ’n wenresep

’n Mens mors nie met ’n wenresep nie. En Honda se NC-reeks is beslis ’n wenner. Soos jou tante se melktert sal dit seker nie die MasterChef-beoordelaars omboul nie, maar tog staan mense tou by die basaar daarvoor.
Met sy groter lyf en meer gerief is Honda se jongste NC-reeks fietse ’n gedugte veeldoeler vir pendel en veldry.

Sedert die NC700 se aankoms op plaaslike bodem het dié veelsydige Japanner een van Honda se topverkopers geword en die huidige NC750X geniet meer as 50%-markaandeel.

Dit spreek tot die NC se bekwaamheid as ’n bekostigbare pendelfiets en kwasi-toerfiets. Vir 2021 ontvang die enjin ’n breedvoerige opdatering en gelukkig het Honda al die regte boksies hier afgetik.

Die fiets is ligter, kragtiger, laer­, meer brandstofdoeltreffend en meer prakties as sy voorganger. En hy lyk sommer ook ’n bietjie beter.

Die stilering is ietwat verskerp, met LED-ligte alom en ’n nuwe digitale skerm wat baie goed werk, selfs in direkte sonlig. Die fiets se raam is kleiner gemaak, maar tog so ontwerp om die ryer beter teen die wind te beskut.

Ons kon op die bekendstelling ook die opsionele groter windskerm ervaar – dit sal nogal my eerste keuse wees, aangesien dit goeie beskerming bied en daar geen rukkery van die wind is nie. Dis ook maklik om agter die skerm in te buk.

Honda se raakvat

Die grootste nuus is waarskynlik dat die fietse se nuwe raam (en enjin) nie net help om 6 kg te spaar nie, maar dat die sitplek nou ook 3 cm laer is as vantevore. Dit help enersyds met die op- en afklim, maar bied ook ’n meer gerieflike sitposisie wat meer voel asof jy midde-in die fiets sit. Dit help met lae-snelheid stuurwerk – wat nou uiters lig is – maar bied ook meer vertroue deur die draaie.

Die Showa-vering voor bied korter speling wat weer eens die stuurwerk verskerp. Gelukkig wil dit voorkom asof dit nie die rit meer stamperig gemaak het nie, aangesien ek talle Gautengse slaggate op spoed getref het en nie meer as gewoonlik gekerm het met die afklim nie.

Met die aanwins van ’n elektroniese smoorklep bied die NC nou drie ritmodusse – Rain, Standard en Sport – sowel as ’n sg. User-opsie waar die ryer sy eie spesifikasies kan kies. Hierdie verstellings beheer die werking van die vastrapbeheer, die enjin se kraglewering asook die enjinremwerk. Op die DCT-model maak dit ook die skakelings meer of minder sportief.

Draai daai oor

Op die agterpaaie buite Johannesburg was ek meestal in Sport en ek vermoed selfs geesdriftige ryers sal aangenaam verras wees. Die 745 cc-enjin lewer so bietjie meer perde as sy voorganger en sy rooilyn is ook hoër, maar die opmerklikste verandering is die ekstra trekkrag teen laer toere en in die middelstrek van die toereteller.

Die koppelaar geniet ook bystand met sy werking deur ’n fop-glykoppel-stelsel wat die werking – luidens Honda – 30% ligter maak. Die koppelaar is heerlik lig en pas goed by die fiets se pendel-fokus.

Vir diegene wat hul linkerhand en -voet heeltyd wil laat rus, is daar ook ’n sesgang- outomatiese (dubbelkoppelaar) ratkas om te kies. Dit voel eers vreemd om ’n groot fiets soos dié so “draai-en-gaan” soos ’n poegie te ry, maar die gerief daarvan is sonder twyfel. Veral vir diegene wat hom baie in die dorp of vir die daaglikse pendel sal inspan.

Hierdie aanpasbaarheid word verder beklemtoon deur die 23-liter-stoorplek wat in die “tenk” van die fiets sit. Dis een liter groter as tevore en my XL-valhelm kan nou met gerief daarin pas.

Wat sê ons?

Teen R126 000 en R135 500 vir die DCT bied die NC750X baie goeie waarde. Sy ekstra woema maak hom ook ietwat van ’n middelslag-toerfiets, wat hierdie reeds bekwame alomspeler ’n baie aantreklike opsie maak.

Enjin 745 cc, twee silinders

Krag 41 kW

Wringkrag 69 Nm

Ratkas Sesgang (hand.) Sesgang (out.)

Tenkgrootte 14,1 liter

Verbruik 3,5 liter

Pryse R126 000 – handrat R135 500 – out.

Meer oor:  Motorfiets  |  Motors  |  Honda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.