Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Honda staan sterk in Wêreldmotor-lys

Die kortlys van finaliste vir die jaarlikse Wêreldmotor van die Jaar-kompetisie is pas bekend gemaak met ’n groot stoeigeveg wat tussen Honda, Toyota en Volkswagen oor die volgende twee weke voorlê.

Motorjoernaliste van oor die wêreld heen dien as beoordelaars, met elke land se markgrootte wat ’n rol speel in hoe baie beoordelaars hy na die paneel kan aanbeveel. Suid-Afrika het drie beoordelaars.

Die voertuie ding in een hoofkategorie – vir die titel van Wêreldmotor van die Jaar – asook vier subkategorieë (Stadsmotor, Weeldemotor, Verrigtingsmotor en Beste Ontwerp) deel. Motors kan in meer as een kategorie benoem word, soos wat onder meer met die Honda-e en Toyota Yaris die geval is.

Die beoordelaars het eers ’n langlys saamgestel uit die beskikbare kandidate (nuwe voertuie wat vanaf laat verlede jaar tot middel vanjaar bekend gestel gaan word). En daarna is dié langlys tot die huidige kortlys van drie finaliste in elke afdeling verfyn. Die wenners word aanstaande week bekend gemaak.

Ons voorspel die klein Honda-e gaan met ’n paar titels in die Wêreldmotor van die Jaar-kompetisie wegstap.
Wêreldmotor

Vir die algehele titel het die joernaliste op drie stadsvoertuie as hul finaliste besluit. Toyota se nuwe Yaris (die Europese model, nie ons s’n wat in Asië gebou word nie), die nuwe Honda Jazz en die Volkswagen ID.4 is die drietal wat sake om die glansryke titel gaan uitspook.

Wat interessant is, is dat slegs die Yaris ’n “tradisionele” voertuig met ’n binnebrandenjin is. Die klein Honda-e en die Volksie is altwee battery­gedrewe motors.

Volkswagen Suid-Afrika sal nogal met ’n opgehoue asem na dié kompetisie kyk, want hy beplan om volgende jaar die einste ID.4 na Suid-Afrika te bring. Daar is reeds die kleiner, stadsgerigte ID.3 in Europa op die mark, maar die effe langer, en meer sportnuts-tipe, ID.4 is die model waarop VWSA besluit het om as sy eerste e-voertuig na ons mark te bring.

’n Laaste opmerking oor die drietal: Dis almal stadsvoertuie; geen groot sportnutse of verrigtingsedans of sportmotors nie.

* Hou die Honda-e dop as ’n gevaarlike buiteperd in hierdie ren om die kroon.

Stadsmotor

Hier is dit weer die Honda-e en Yaris wat sake met die Honda Jazz uitspook. Die Jazz is al ’n wêreldlegende met sy gewildheid in enige wêreldmark. Die Yaris is ook ’n bekende gesig vanaf Noorweë tot Kaapstad. Die Honda-e is die Japannese vervaardiger se ougat klein stadsmotortjie wat met ’n battery aangedryf word.

* Ons raai die Honda-e gaan hier met die louere wegstap vanweë sy mooi ontwerp, knap stadsvriendelike lyfie en moderne aandryfstelsel.

Weeldemotor

In hierdie afdeling het die joernaliste op die nuwe Mercedes S-klas, die Land Rover Defender en die Polestar 2 besluit as finaliste. Min sou nog die Polestar (Volvo se e-handelsmerk) en S-klas al gery het, dus is dit interessant waarop joernaliste hul besluit gaan grond. Trouens, dié voertuie is nog nie in Suid-Afrika te kry nie.

Die Defender is al sedert einde verlede jaar op die wêreldmark, en het ’n groot publisiteitsveldtog al agter die rug. Almal het ook al met hom gery. Daarby is dit ’n redelik geliefde handelsnaam wat ’n terugkeer gemaak het.

* Ons vermoed die warmkombers-stem sal na die Defender gaan, al verdien die voertuig dit tegnies nie werklik nie.

Verrigtingsmotor

In die afdeling van brullende V8’s en swart rubberstrepe op die teer is dit ’n driepunt­geveg tussen die Audi RS Q8, die Porsche 911 Turbo en die Toyota Yaris GR.

Die Duitsers is fisiek twee groot voertuie met hope krag en hompe tegnologie om dit haastig oor die weg te kry. Die enkele Japannees daarenteen benut billike krag op ’n slim manier in ’n klein, kompakte lyf om hope bestuurderspret te skep.

* Weer eens is daar twee voertuie wat al lank op die mark is (die Porsche en die Audi), maar selfs dit ingereken dink ons die joernaliste sal vir die Yaris stem.

Die Yaris verteenwoordig ry-pret in die basiese, ou sin van die woord: ’n Kragtige enjin, maar rats en lig om die draaie. Dis tradisioneel aspekte waarmee joernaliste hulself vereenselwig.

Volgende jaar sal die nuwe BMW M3 en M4 egter op die toneel wees, en dan sal die stemmery weer na rasende wiele en brullende uitlate gaan.

Beste Ontwerp

Hier het ons met ’n interessante drietal te doen. Die Honda-e sal niemand laat wonder hoe hy die kortlys gehaal het nie. Maar die Defender en Mazda MX-30 (’n e-voertuig) laat ’n mens frons.

Veral die Defender op hierdie lys laat ’n mens wonder watter aspekte belangrik geag word wanneer dit by ontwerp kom.

Die Defender is bloot ’n moderne interpretasie van ’n ouer voertuig, maar sonder om dit noodwendig suksesvol reg te kry.

* Ons dink die Defender gaan met die louere wegstap.

Meer oor:  Honda  |  Kortlys  |  Finaliste  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.