Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hoor hoe klingel die Bitcoin-kasregister

Laat Knormoer nou sommer dadelik oop kaarte speel en sê dié hele Bitcoin-storie is vir hom maar ’n lawwigheid. Die item is net te vaag en wollerig om ernstig opgeneem te word.

Maar, soos met Cora Marie-liedjies het jy vurige ondersteuners ook.

Soveel so dat ’n motorhandelaar van gebruikte voertuie in Johannesburg pas die eerste handelaar in die land geword het wat ’n voertuig verkoop het deur Bitcoin as betaling te aanvaar.

Een Bitcoin is sowat R500 000 werd, maar soos aandele wissel die prys voortdurend. Jy kan ook kleiner Bitcoin­-dele (as een R500 000-eenheid) besit.

Die weeldemotor, ’n Ferrari California, is op ’n glansgeleentheid by die handelaar oorhandig. Die media is uitgenooi, saam met ’n rits gaste in aandpakke en swierige uitrustings. ’n Hele gedoente.

Om dinge nog meer spesiaal te maak, is die Bitcoin-transaksie regstreeks op ’n groot TV-skerm die aand gedoen.

Knormoer verstaan nie heeltemal die geroesemoes oor die hele affêre nie. Dis mos maar dieselfde as om Sasol-aandele vir ’n voertuig aan te bied. Die handelaar het wel sy gratis ronde publisiteit gekry, want die Engelse media het uitasem daaroor berig.

Presies hoe die Bitcoin-waardasie gewerk het, is nie gesê nie. Wat die Blink Stefaans-handelaar gaan doen as sy Bitcoins skielik daal in waarde, is ook ’n raaisel. Maar ook, waarom die koper nie bloot net sy Bitcoins kon verkoop en die Ferrari met die kontant kon aanskaf nie, is bisar.

  • Knormoer raai dit is seker net te vaal vir ’n blinkkuif-verkoopsman van tweedehandse motors.

Revolusionêr, my vriend!

Knormoer kry koue rillings wanneer hy deesdae motorberigte op die interwebs gade slaan. Lepel-voer en gunsies te ruil vind al hoe meer – en al hoe meer blatant – plaas.

Lepel-voer is wanneer ’n vervaardiger ’n mediaverklaring uitreik en die joernalis die inhoud vir soetkoek opeet. Die verklaring word dan feitlik net so as ’n nuusberig aangebied.

Gunsies te ruil is weer wanneer ’n vervaardiger ’n joernalis na sê maar ’n motorwedren vlieg en die joernalis dan oor daardie bepaalde vervaardiger se lot berig eerder as oor die objektiewe uitslag self. Byvoorbeeld, as die gasheer (wat hom ingevlieg het) slegs vierde in die ren gekom het, sorg die joernalis dat daardie vervaardiger steeds in die opskrif genoem word en dus die hooffokus is eerder as die uiteindelike wenner.

Pleks van ’n objektiewe verslag, word dit dus ’n geborgde verslag.

Volvo het verlede maand sy eerste e-voertuig, die XC40 Recharge­, plaaslik bekend gestel. Met ’n pryskaartjie van R1,2 miljoen is die battery-Volvo meer as dubbel die goedkoopste­ petrol-stalmaat (R500 000).

Nou, e-voertuie speel in ’n spesiale nis-segment van ons mark. Teen R1,2 miljoen is dit nie enige Piet, Koos en Sannie wat dit kan aanskaf nie. Nie as jou Plan B minder as die helfte kos nie.

Daarom is dit nie vreemd dat Volvo binne vier dae al 15 sy XC40 Recharges verkwansel het nie. Dis ’n klein groepie kopers wat gewag het op die motor.

Nou berig ’n plaaslike webwerf dat 1) die XC40 Recharge ’n “revolusionêre voertuig” is, en 2) dat daar “ongekende aanvraag” vir die Volvo was.

Sak, Sarel. Die Volvo is bloot ’n batterymotor. Daar-die kopers wag al jare lank op hierdie model. Gaan verkoop eers 50 e-motors per maand vir ’n jaar lank, dan praat ons weer.

  • Knormoer klink nou na ’n suurknol. Maar in ’n tyd van vals nuus op die webwerwe (in die algemeen), is dit hoogtyd dat redakteurs die leisels stywer vashou.
Meer oor:  Volvo  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.