Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hou vas, die RS3 wil net lóóp

Dit was ’n lang wag (en nog so ’n bietjie langer vir Suid-Afrikaners), maar Audi se nuwe RS3 het pas in Europa die lig gesien – reg om die Mercedes A45 AMG by die eerste en naaste verkeerslig aan te vat. Dis nou nadat die bestuurders mekaar eers op sosiale media goed sleggesê het.

Want ja, deesdae is die teikenmark vir hierdie tipe blitsbukse jong knape wat met PlayStation en geselsgroepe op die internet grootgeword het en dit steeds soggens en saans benut. In hul ouerhuis.

Die bykans oordadige voor- en agterkant van die nuwe RS3 en die talle truuks in die kajuit, is nog ’n sprekende voorbeeld. Maar, bygesê, dit is waaraan hierdie nuwe jong mark gewoond is en wat hulle graag in hul speelkarre wil hê.

Kyk na daardie nuwe rooster. Die RS3 het ’n diep, breë rooster in pikswart afgewerk met ’n mooi heuningkoek-patroon. Op die hoeke is massiewe openinge wat soos ’n aria-sanger op die hoogste noot na lug hap.

Dis die wintie-RS3! Audi se nuwe blitsbuks lyk dalk asof Hannon hom beetgehad het, maar vir sy teikenmark is hy nommerpas. Dit is eers middel volgende jaar hier, ongelukkig.

Binne al dié skerp lyne en groot openinge is slim LED-liggies wat allerhande truuks speel. Byvoorbeeld, skakel jy jou RS3 af, belig die LED’s die letters “RS3” vir ’n oomblik. In die ry sal die liggies ’n blokkiespatroon- wenvlag vertoon.

Geen 45-jarige koper sou hieroor mor as dit nie teenwoordig was nie. Maar die nuwe jong PlayStation-generasie verwag dit aan hul voertuie.

Star Trek se kajuit

Ook binne word die speletjie-truuks voortgesit. Kyk na die beligting van die paneel voor die bestuurder, in driedimensionele beelde, en met jou G-kragte en allerhande verrigtingsyfers dadelik byderhand, groot op die skerm gewys.

Jy kan ook die motor se instellings verpersoonlik in ’n ontelbare aantal verstellings. ’n Bietjie later meer hieroor.

Eers die kajuit. Als is digitaal, natuurlik, met skerms voor die bestuurder en in die middel vir nutsfunksies. Die rathefboom is net so ’n kort, stomp affêretjie en stemmingsbeligting skyn van onder elke hoek en paneel-las uit.

Ons hou van die ietwat ouskoolse ruitpatroon van stikwerk op die leersitplekke. Heerlik.

Die vet stuurwiel kry ’n streep op 12-uur, soos ’n wafferse renmotor, en wikkel jy deur die ritmodusse, is daar nou ook ’n Drift Mode vir, ja, om so dwars-dwars in die straat af te gly as jy gaan brood koop.

Looi hom, Boeta

Onder die enjinkap sit Audi se 2.5-liter-turbo-enjin met vyf silinders. Die enjin is al ’n dekade of twee oud, maar Audi gebruik dit bitter min.

Liggies oral, en die vreemdste inligting denkbaar op jou skerm, soos G-kragte, kwartmyl-versnellopies en rondtetye. Ons hou baie van die diamantpatroon-stikwerk op die sitplekke.

Die vyf silinders is ’n ongewone keuse in die moderne landskap, maar is ’n kopknik na Audi se vyfsilinders van die 1980’s wat hy in al sy gesinsmotors benut het.

In die RS3 lewer die enjin 294 kW en 500 Nm wringkrag, wat 30 Nm meer as voorheen is. Krag gaan na al vier die wiele met ’n sewegang-outomatiese ratkas, en benewens die ritmodusse is daar ook aanpasbare vering en kragverspreiding tussen die twee asse moontlik.

Audi maak aanspraak op ’n versnellopie van skaars 3.8 sek. vir die RS3, terwyl die topspoed ’n ongelooflike 294 km/h is.

Afsaal

Dis was te verwagte dat Audi soveel moeite sou doen om die klein luikrug (en sy sedan-stalmaat) so in pas te kry met wat sy jong kopers vandag wil hê. Dit gaan hom beslis help met bemarking.

Die neus is dalk oordadig met sy wilde openinge, maar wat verrigting betref, sal die RS3 harde houe uitdeel.

Die RS3 behoort teen Junie 2022 in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

Meer oor:  Rooster  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.