Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai het blink e-planne

Kort op die hakke van die Duitsers gaan Hyundai nou ook ’n eie, toegewyde reeks e-voertuie na die mark bring wat almal onder ’n nuwe groepnaam bemark sal word.

Die Koreaanse vervaardiger het groot planne om een van die topvier-vervaardigers in die wêreld te word, en deel van sy uitbreidingsplanne is ’n nuwe gesin eklektiese motors. Die groep gaan die naam Ioniq hiervoor gebruik, ’n naam wat hy tot dusver vir ’n Prius-tipe e-motor oorsee bemark het.

Met hierdie skuif voeg Hyundai hom by ander groot motorvervaardigers soos Volkswagen, BMW en Mercedes wat almal reeds nuwe familiename vir hul beplande gesin e-voertuie het. VW gaan ID benut, Mercedes gebruik EQ en BMW gebruik die voornaam i (i3, i8).

Hyundai het verlede week in ’n verklaring gesê drie nuwe e-voertuie word vir die volgende drie jaar beplan. Eerste aan die beurt sal die Ioniq 5 wees, ’n klein sportnuts wat hy hoop om volgende jaar reeds markgereed te hê.

Hyundai se rekenaarbeeld van sy beplande nuwe gesin e-voertuie wys die Koreaanse reus is vasbeslote om die wêreld se grootste name uit te daag. Die Ioniq 6 (links) en 5 (regs) is dadelik herkenbaar.

Hierna kom die Ioniq 6 (in 2022) wat ’n middelslag sedan is (soos die Tesla Model S en Porsche Taycan), terwyl die Ioniq 7 vir 2024 beplan word en ’n groot sportnuts sal wees.

Die naamgee-struktuur reflekteer wat die Duitsers doen: die Ioniq-familienaam dui aan dis ’n e-voertuig, terwyl die syfer die bepaalde model verteenwoordig. Hyundai sê hy wil gelyke nommers vir sedans inspan, terwyl die ongelyke getalle op sportnutse se agterente geplak sal word.

Die Koreane bult egter ook hul spiere op tegnologiese vlak om te wys hulle is nie bloot hier vir spek en bone nie. Die groep het in ’n nuwe platform belê (E-GMP, Electric Global Modular) wat slegs vir e-voertuie ingespan gaan word. Dis ’n basiese, buigsame platform met die battery-pak (wat in groottes kan wissel) wat in die vloer tussen die asse sal lê, terwyl elektriese motore op die voor en agteras gepas kan word. Die asafstand kan dan gewissel word gelang van die bepaalde model.

Hyundai beloof ’n slim, goed verpakte kajuit vir sy e-voertuie. Die plat vloer en langer as normaal asafstand vir e-voertuie beteken sy ontwerpers kan die sitplekke in meer posisies laat rondskuif as wat dit in ’n gewone motor die geval sou wees. Een geheim wat hy voorlopig verklap is die paneelkissie wat in die e-voertuie se geval ’n laai sal wees.

Die groep wil ook mildelik van raakskerms gebruik maak wat ’n skoon, moderne kajuit sal skep (sonder skakelaars en knoppies).

Vervaardigers is tans redelik optimisties oor toekomstige e-verkope, en in Hyundai se geval reken die boontjietellers ’n teiken van een miljoen e-motors per jaar teen 2025 is vir die groep haalbaar. Trouens, Hyundai sê reguit hy wil die derde grootste vervaardiger van e-motors ter wêreld wees teen 2025. Dit beteken die Koreane vat Toyota, General Motors, Ford en Volkswagen direk aan met twee van hierdie groep bekende name wat hy beplan om uit te knikker.

Dis ’n treffende teiken. Slegs die tyd sal leer.

Meer oor:  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.