Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai kry planne reg vir nuwe bakkie

Hyundai se volgende leefstylbakkie is steeds fluks op pad, maar dit blyk nou die bakkie kan anders lyk as wat ons aanvanklik vermoed het.

Die Koreaanse groep het redelik uit die bloute in 2015 met sy Santa Cruz-konsepmodel vorendag gekom wat ’n spoggerige en sportiewe kompakte bakkie gewys het.

Sedertdien het vier jaar egter al verloop, en geen bakkie is nog op die toonvloere nie.

In ’n onderhoud vroeër die maand met ’n Amerikaanse tydskrif het Hyundai se hoof van ontwerp, SangJoep Lee, toegegee die projek het stadiger as verwag gevorder, maar dat hulle nou weer volstoom op koers is.

Hyundai se Santa Cruz wat hy in 2015 al gewys het. Die Koreane is nou weer fluks besig om dié leefstylbakkie markgereed te kry.

Die nuwe bekendstellingsdatum is nou 2020, wat die groep nog so 18 maande gee om alles af te handel. ’n Onverwagse newe-effek egter is dat Hyundai se ontwerp-filosofie vir hul produk-reeks sedert 2015 verander het.

Destyds was dit vir Hyundai belangrik dat al sy voertuie gedeelde visuele kenmerke moes hê. Die gedagte was dat jy dadelik die voertuig as ’n Hyundai moes kan uitken. Dit was natuurlik dieselfde rigting wat Audi gevolg het, maar anders as met die Ingolstadtse groep het Hyundai vroeg genoeg die openbare teenkanting hierteen raakgesien.

Waar al jou Hyundai’s dus in die verlede konsentries ál groter geword het soos jy deur die portefeulje beweeg, wil die groep nou onderlinge reekse sterker en unieker karaktertrekke gee.

Wel, dit is wat formeel gesê word. Ons vermoed die finale weergawe van die nuwe bakkie sal heelwat van die neus van die huidige Kona- en Tucson-sportnuts eggo, met straks groter afwykings na die stertkant van die voertuig.

Die nuwe bakkie sal op die Tucson se onderstel geskoei wees en óf as ’n enkelkajuit óf as ’n kajuit-en-’n-half aangebied word. Die bakwerk is egter ’n monostruktuur sonder ’n laestrekratkas, om ’n ligter lyf, gemakliker hantering en sagter rit daar te stel. Die eenvoudiger meganika sal ook help om die prys mededingender te hou.

Van meganika gepraat, met ’n Tucson as grondslag kan jy ’n sesgang-handrat of sesgang- outomatiese ratkas verwag, met enjinkeuses wat wissel tussen Hyundai se 2.0-liter- natuurlik geaspireerde enjin, of sy 1.6-liter-turbo. Daar sal sekerlik ook ’n 1.7-liter-turbodiesel wees.

Hierdie segment vir kleiner leefstylbakkies raak ál warmer. Ons het al berig oor Volkswagen se beplande Tarok-bakkie, terwyl Ford ook ’n leefstylbakkie gegrond op sy Focus in die oog het.

Vir Suid-Afrikaners is die groot vraag of die oorsese vervaardigers hoegenaamd beplan om dit in regterstuurweergawes te bou. Dié bakkies is tans grootliks op die Amerikaanse en Suid-Amerikaanse markte gemik. Vir ons heil sou die Britte, Japan en Australië ook sterk moet belangstel om regterstuur lewensvatbaar te maak. Ons hou solank die verkyker fyn gerig op Seoel.

Meer oor:  Hyundai  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Bakkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.