Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai kry sy planne gereed vir ’n warm Tucson

Hyundai is glo agter die skerms besig om ’n derde verrigtings­model by sy bestaande i30 N en Veloster N te voeg.

Die weergawe waarop die Koreaanse vervaardiger egter besluit het wat met dié terpentynkwas bygekom moet word, mag wel vreemd opval: die Tucson.

Het Hyundai planne vir ’n warmgemaakte Tucson? Dit kan net goeie nuus wees.

Berigte uit Brittanje wil dit hê dat Hyundai hard aan die werk is om ’n warm Tucson N markgereed te kry. Ontwikkeling is egter nog ’n ent weg van afhandeling, met die eerste weergawes wat eers vir einde volgende jaar beplan word.

Volgens Auto Express is daar aan hulle vertel die Tucson N sal 250 kW uitskop, en dat die ingenieurs mik na ’n versnellopie vir die middelslag-sportnuts van net onder ses sekondes.

Dit is fris teikens. Die Tucson is geen luikrug-grootte voertuig nie en om daardie krag op die pad neer te sit, sal daar heelwat ontwikkelingswerk aan die vering, bande en remme ook gedoen moet word om als binne beheer te hou as jy krane oopdraai op die pad.

Watter enjin Hyundai in die oog het vir die Tucson N, is nog onduidelik. Die groep gebruik ’n 2.0-liter-turbo in die i30 N wat in sy warmste weergawe 200 kW en 350 Nm wringkrag losdraai.

Dit is redelik aan die bopunt van wat moderne tweeliterturbo’s kan bied.

Die groep het wel ’n 2.4-liter in hul arsenaal wat tans onder meer diens doen in hul H-1-bussie. So ’n middelslagenjin sou straks as basis kon dien vir verdere turbo-ontwikkeling om by 250 kW uit te kom. Die 2.4-liter, wat geen turbo-aanjaging het nie, lewer tans ’n bedeesde 126 kW en 224 Nm wringkrag.

Met Hyundai wat huiwerig is om sy i30 N na die land te bring, wonder ’n mens of hulle ’n groter Tucson N vir ons mark sou oorweeg. Die groep het wel ’n beperkte getal Tucson Sport-modelle hier versprei (gewone Tucsons wat plaaslik met ’n afwerkingspakket toegerus is) wat baie gewild was. Dit het slegs ’n voorkoms-opkikkering ingesluit, geen meganiese opknappings nie.

Meer oor:  Hyundai  |  Oos-Kaap Naweek  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Tucson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.