Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai maak stem dik met i30
Hyundai se eerste greep op die blitsbuks-mark is dié netjiese i30N. Ons hou van die bedeesde aanslag wat die Koreaan volg. ’n Goed gebalanseerde rit val dadelik op, hoewel sy lysprys nogal fris is. Foto: Marnus Hattingh

Ons moes ’n rukkie wag vir Hyundai se eerste proesel in die mark vir blitsbukse, maar eindelik het sy nuwe i30N toe verlede week in die land opgedaag. Teen net so 50 eenhede wat per jaar vir ons mark geoormerk is, sal jy egter gou moet spring as jy een wil hê.

Dit was juis die rede waarom ons so lank moes wag sedert hy al twee jaar gelede in Europa onthul is. Die nuweling was dadelik gewild in Europa, sodat Hyundai se fabriek in die Tsjeggiese Republiek waar hy gebou word, nie voor kon bly met eenhede nie.

Die groter en belangriker markte van Europa en Amerika is eerste van rygoed voorsien, sodat ons klein mark nou eers ná twee jaar se wag aan die beurt kom.

Biermann se plan

Maar waarom die opgewondenheid? As ’n laat aankomeling by die partytjie vir klein luikrûe met ’n tweeliter-turbo het Hyundai sy voetwerk fyn gekies, en die resultaat is ’n op en wakker knaap wat so afgerond en deurdag voel soos ’n hoofseun se eerste toespraak.

Die groep het in 2015 vir Albert Biermann nader gehark, hy is van BMW se M-afdeling, om die Koreane se nuwe strategie vir sy beplande falanks N-motors te rig. Tipies Duits het Biermann soos André de Ruyter met Eskom ’n stelselmatige aanslag beplan.

Geen wawiele nie. Net ’n deeglike, gedugte karretjie met gemiddelde kragsyfers, maar puik hantering en balans en mooi afgewerk binne. Trouens, dis die i30N se hantering en slim aanbieding van tegnotruuks in die binneruim wat die warm Hyundai straks so ’n omkyk werd maak, tussen ’n landskap van gedugte (en gevestigde) mededingers soos die Honda Civic Type R, die GTI en die Renault Megane RS.

Biermann het voorspelbaar op ’n tweeliterturbo besluit, met vier silinders, wat goeie kragsyfers lewer (202 kW, 353 Nm) maar niks wat jou sal verras nie. Daar’s warmer kêrels daar buite.

Slim skokbrekers waar ’n klep die olievloei kan wissel om óf ’n sagte, diep slag van die skokbreker toe te laat óf ’n kort, ferm stampslag sodat jy met min bakrol om ’n draai kan Sarel, help die i30N om op sy tone soos ’n Cheslin Kolbe deur ’n es te glip.

Die volgende truuk was om die ritmodusknop op die stuurwiel te plaas, in ’n lieflike ligblou wat dadelik uitstaan op die swart stuur. Tik-tik net so met die duim, en jou klein Hyundai verander van ’n slapende kat op die skoot na iets wat met muise teen die kosyne speel.

Twee blou skakelaars op die stuur laat jou toe om die i30N na jou smaak in te stel. Die knaap is vir die PlayStation-generasie opgetooi.
Maar wag, daar’s nog

Regs op die stuur is ’n tweede ligblou knop, met ’n N-kenteken op. Raps jy dié, sit hy jou Koreaan in ’n nog flukser “Gangnam Style”-galop. Wel, Sport+ soos Hyundai dit noem. Hier kry jy ’n diepe enjingegrom in die kajuit, ’n knal as jy jou voet van die petrolpedaal lig, en toere wat outomaties opgejaag word as jy wil afrat.

Die i30N kom voorlopig net in ’n sesgang-handrat na ons (’n agtgang-outomaties is volgende jaar op pad). Bokant jou spoednaald is ’n ry LED-liggies, van groen na oranje na rooi, wat lewe kry as jy die lepel diep trap. Kom jy by die rooi liggie, weet jy dis tyd om rat te wissel.

PlayStation-generasie

Ja, liggies wat flikker soos op Lewis Hamilton se F1-motor. Kleppe in die uitlaat om ’n kunsmatige enjingedreun na die kajuit te laat blaf. Twee ritmodusknoppe op die stuurwiel. Plus nog ’n skermpie op die instrumentpaneel wat al jou ritdata (kragsyfers, G-kragte om die draaie, versneltye, rondtetye) vertoon.

Dis ’n blitsbuks gebou vir die hedendaagse jongklomp. Die PlayStation-generasie. Dit is hulle wat al hierdie truuks wil hê. En eindelik is dit meer as wat die GTI of die ander bied.

In die lig hiervan raak die kragsyfers en versnelling en rondtetye om die Nürburgring irrelevant.

Die klein i30N lyk net-net omgekrap genoeg sonder om oordadig soos ’n Type R te wees. Sy verrigting is billik. Sy hantering is sy sterkpunt. Maar sy fokus op wat die konsole-spelers vandag wil hê, is wat sy gewildheid bepaal.

In Suid-Afrika sal jy wel mooi moet nadink oor jou aankoop: Die i30N is so R100 000 duurder as die GTI, maar dan kry jy als ingesluit wat die GTI nie noodwendig as standaarditems bied nie.

Dis ’n waagstuk vir Hyun­dai SA, maar ons reken sy i30N sal sy verwagte 50 kopers vind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.