Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai se spogbakkie laat oë rek

Hyundai se nuwe Santa Cruz-bakkie het groot belangstelling in Suid-Afrika wakker gemaak.

Die bakkie is pas in Amerika bekend gestel waar hy ook in Hyundai se fabriek in Alabama gebou word. Die klein dubbelkajuit is volgens Hyundai ontwerp en ontwikkel met spesifiek die Amerikaanse mark in die oog. Daarom is die plan voorlopig ook om hom slegs in linkerstuur in Alabama te bou, wat beteken hy is nie vir Suid-Afrikaners beskore nie.

Kyk net so! Hyundai se windmaker nuwe Santa Cruz het die landlyne aan die gons van Pofadder tot De Aar. Ons reken as hierdie leefstylbakkie ook in regterstuur beskikbaar raak, sal jong Suid-Afrikaners lang toue by Hyundai-handelaars staan.

Tog het Hyundai Suid-Afrika aan ons gesê dat hulle baie graag die bakkie ook hier sou wou versprei, en dat hulle met sakeplanne en voorstelle na Korea is om te sien of die arm nie tog gedraai kan word nie. Suid-Afrika se mark opsigself is egter te klein vir Hyundai om slegs vir ons ’n regterstuur-weergawe te bou. Australië, met sy groter mark en wat nes Suid-Afrika ook ’n sterk voorsmaak vir bakkies en leefstyl-dubbelkajuite het, sal ook eers oortuig moet word om vir die bakkie met ’n regterstuur aansoek te doen. Dan mag die syfers straks vir die Koreane klop.

Die Santa Cruz is wel ’n kleiner tipe dubbelkajuit as waaraan ons mark tans gewoond is. Die bakkie is op die Tucson se platform gebou en het dus nie ’n leerraam-onderstel soos ons Hiluxe en Rangers nie. Dit is ook ’n halwe meter korter in lengte en in asafstand.

As ’n monostruktuur-bakkie ding die Santa Cruz in Amerika met soortgelyke bakkies soos die Honda Ridgeline en Ford Ranchero mee. Dit is ook voertuie waarmee die Aussies vertroud is, maar in Suid-Afrika ken ons slegs volgrootte dubbelkajuite met ’n leerraam-onderstel, wat dus baie meer robuus is.

Wat die nuwe Santa Cruz egter ougat maak, is sy lekker windmaker voorkoms en slim ontwerp. Die neus kom omtrent net so uit die Tucson, terwyl die flanke vol skerp aksentlyne is. Die C-pilaar is breed en strek skuins na agter, wat die bakkie ’n aanvallige voorkoms help gee. Die laaibak is net 1,3 m lank, maar bied ’n sluitbare toetreklaai. Daar is ook ’n slim klap wat jy kan oplig om items buite sig onder die vloer te bêre.

Slim afwerkings sluit in ’n bêrekissie in die laaibak sowel as agter in die kajuit. Het enigiemand “drankverbod” gesê?

Binne het die Santa Cruz ’n moderne raakskerm vir al jou nutsfunksies, en jy kan jou Android- of Apple-slimfoon koordloos daarmee koppel. Daar is ook ’n vakkie om jou foon in te bêre om koordloos herlaai te word.

Onder die enjinkap het die Amerikaners toegang tot ’n 2.5-liter-petrolenjin wat natuurlik geaspireer is (141 kW, 244 Nm) met ’n gewone agtgang- outomatiese ratkas, of ’n turbogedrewe weergawe van daardie enjin (205 kW, 420 Nm) met die Koreaanse vervaardiger se eie, nuwe agtgang-dubbelkoppelaar-tipe outo’kas.

Die Santa Cruz is volstrek ’n leefstylvoertuig vir die naweekkryger. Die bakkie se ritmodusse sluit dus ’n Sport-modus in wat hom lewendiger laat voel, terwyl dit ook ’n remfunksie het vir as jy katvoet teen ’n bult wou afry. Die 4x4-modus (albei beskik oor 4x4-vastrap) bied ’n elektroniese sentrale ewenaar wat die krag tussen die voorste en agterste as kan afwissel.

Ons hou die oor teen die grond om te sien of daar wel later ’n regterstuur-weergawe uit Alabama gaan kom.

Meer oor:  Motors  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.