Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai sê veni, vidi, en . . . Venue

Ons het al vroeër na die Suid-Koreane se planne vir ’n nuwe baba-sportnuts verwys, maar nou is die nuus amptelik: Hyundai sou vanoggend by die New Yorkse motorskou formeel die doek lig oor sy jongste sypaadjie-bestormer van die voorstede, die Venue.

Hyundai se nuwe Indies geboude sportnuts het ’n lawwe naam, maar draf tog met ’n spoggerige voorkoms te oordeel aan die sketse.

Vroeg die week, toe ons al na die drukpers moes gaan, het Hyundai nog net hierdie enkele sketse uitgereik as voorsmaak van sy nuwe klein sportnuts. Maar te oordeel aan die sketse alleen kan ons reeds aflei dat die nuwe Venue ’n lekker wintie sportnuts sal wees, gemik op jong kopers met ’n aktiewe leefstyl.

Hierdie segment (vir klein sportnutse) is tans vuurwarm en benewens Volkswagen se nuwe T-Cross wat later die jaar hierheen kom, is daar ook Renault se Captur, die Mazda CX-3 en Ford se klein EcoSport. Terloops, verlede week het ons ook vertel van Ford se planne om nog ’n baba-sportnuts onder die EcoSport uit te bring, die nuwe Puma.

Wat die Venue betref, hou ons duim vas dat Hyundai darem ’n ander naam vir hom mag kies voordat hy van die skip in Durban af rol. Seoel sê hy het op Venue besluit omdat dit ’n bestemming verteenwoordig, iets waarheen jy reeds op pad is of dalk nog net beplan.

Dis bemarkingstaal uit die boonste rak, maar klink tog rêrig net baie laf. Venue – sien jy ook ’n Indiese IPL-krieketspeler in jou gedagtes as jy die naam sê?

Van Indië gepraat, Hyundai gaan die nuwe sportnuts ook daar bou net soos wat hy met sy groter Creta doen. Dit beteken die Venue gaan ’n sakpas-sportnuts met ’n basiese afwerking wees, in teenstelling met sy deftiger (en duurder) Kona wat op die Europese mark gerig is.

Tog, ons reken ’n sakpas en basies toegeruste klein sportnuts is presies wat die Suid-Afrikaanse mark vandag na smag, en dit sal die Venue soos soetkoek laat verkoop. Kyk net hoe goed vaar die Renault Sandero, Kwid en Duster.

Die ontwerpsketse wys slegs twee deure vir die Venue, maar die produksiemodel sal ’n praktieser vier deure plus ’n luikdeur agter hê. Tog, daardie breë C-pilaar wat so skuins na voor lê, sal ook ’n belangrike stileringselement van die nuwe Venue vorm.

’n Eenvoudige maar opgewekte binneruim kikker die Venue se kompakte kajuit op. As Hyundai sy pryse kan reg kry, sal hy ’n gewilde model wees voorspel ons.

Om sy voorkoms af te rond sal daar ’n drukvlerkie agter by die luikdeur wees asook ’n silwer dakrak.

Binne langs kan jy die groep se jongste raakskerm op die instrumentpaneel verwag wat ’n satnav-stelsel, radio, lugversorging en koppeling met jou slimfoon sal bied.

Die skets dui op ’n opgewekte binneruim met verskillende kleurpanele.

Meganies is daar nog nie veel inligting beskikbaar nie. In die Indiese media word melding gemaak van ’n 1.4-liter-petrolenjin (natuurlik-geaspireerd) en ’n 1.0-liter-turbo met drie silinders.

Die Venue behoort so September se koers by ons aan te kom, waarna ons modelreeks ook groter duidelikheid sal hê.

Meer oor:  Motors  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.