Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai vat raak met sy nuwe klein Venue

Die wedywering tussen mini-sportnutse het die laaste paar maande ’n Wêreldbeker-stryd in die kleine geword. Elke vervaardiger het ’n model op die mark en die een lyk parmantiger as die volgende knaap.

Einde verlede jaar het Volkswagen sy langverwagte T-Cross hierheen gebring, en dadelik het dié Polo-op-stelte die kasregisters by handelaars laat klingel.

Maar intussen het Kia (met sy Seltos), Citroën (C3 Picasso) en nou Hyundai ook met sy Venue die segment vir wipneus-sportnutse kom deurmekaar waai.

Wat als goeie nuus vir jou, die verbruiker, is. ’n Groter keuse beteken jy kan fyner kies tussen prys, toerusting en voorkoms.

Volg die (wen)resep

Ek het onlangs Hyundai se Venue vir ’n paar dae gery, en ’n mens was nogal nuuskierig aangesien die Koreaan hoog aangeslaan is in die media sedert sy koms einde verlede jaar.

Met daardie prominente, skuins C-pilaar trek die nuwe Hyundai Venue sommer dadelik die aandag.Foto: Marnus Hattingh

Die resep is redelik soortgelyk aan wat VW met sy T-Cross volg.

Wat die voorkoms betref het die Venue ook ’n vierkantige profiel met regaf lyne voor en agter (teenoor sê maar die Renault Captur, die Mazda CX-3 of Toyota se C-HR wat almal lyk of hulle met die metaal nog warm deur ’n windtonnel gaan ry het).

Maar ook meganies sing die Hyundai uit dieselfde gesangboek as die T-Cross. Die Koreaan het ’n 1.0-liter-turbo in die neus met net drie silinders, en krag gaan na die voorwiele.

Die Venue het drie afwerkingsvlakke om uit te kies (Motion, Fluid, Glide), met ons keuse wat op die topmodel-Glide geval het.

Waar die Motion- en Fluid-modelle ’n sesgang-handratkas en sewegang-outokas as opsies bied, is die Glide-model net met die outomatiese ratkas te kry.

Jip-skuus, skuif bietjie op!

As ’n stadsmotor en vir pendelritte sal ek die outomatiese model kies, bloot vir gerief, al kos dit ’n paar rand ekstra. Bygesê, die skakeling teen stadige snelhede was soms met ’n hikslag, maar straks is dit die dubbelkoppelaar-tegnologie wat vir ’n meer robuuste rit gekalibreer is.

Die sitposisie in die Venue is lekker hoog, en in- en uitklim was geen probleem nie. Die luikdeur wip in ’n kits oop, en jy kan so twee, drie sagte sakke agter inpas.

Beenruimte agter voel gemaklik vir twee volwassenes, en die hoekige profiel beteken kop- en skouerruimte is nie beknop nie.

Die plastiekafwerkings voel hard hier en daar by die instrumentpaneel. Maar Hyundai het goed gedoen om die kajuit ’n moderne gevoel te gee met sy klein raakskerm (hoog bo in die voorpaneel op ooghoogte geplaas) wat al jou nutsfunksies huisves.

In my topmodel het die raakskerm ook ’n trukamera gehuisves, maar ander luukses sluit in spoedbeheer (met skakelaars op die stuurwiel), elektriese vensters, lugversorging met eie skakelaars agter, en ’n verkoelde bêreplek tussen die sitplekke.

Vir veiligheid en gerief is daar ABS-remme, ses lugsakke, ’n elektroniese vastrapstelsel en ’n vashoufunksie vir as jy teen ’n bult moet wegtrek.

Afsaal

Daar het die laaste paar jaar al heelwat produkte uit Indië na ons mark gekom, met die meeste wat jou met ’n geswete handpalm los as jy om die eerste draai vlieg of haastig moet rem. Die Venue kom ook uit Indië, maar goeie ontwerp en gehaltebeheer beteken sy rit is veel beter as wat jy sou verwag.

Die verfyndheid van die T-Cross is straks nie daar nie, hetsy dit nou onder harde versnelling of die algemene afwerkings binne is, maar in die geheel bied hy ’n heerlike, ligte rit verpak in ’n wintie-pakket.

Vir diegene vir wie ’n Creta (of selfs ’n Duster) te groot en vaal is, sal die kleiner maar ougat Venue baie sin maak.

Prys: Hyundai Venue 1.0 Glide – R369 900.

Meer oor:  Venue  |  Hyundai  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.