Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Hyundai wil harte wen met sy i30 N

Een van die langs verwagte motors skuif vroeg volgende jaar dwars oor die Suid-Afrikaanse teer wanneer Hyundai sy nuwe i30 N na die land bring.

Hyundai moes eers ’n paar somme maak om te sien of hy die blitsbuks reg kan posisioneer waar hy plaaslik met die gewilde Volkswagen Golf GTI, Renault Megane RS en Honda Civic Type R gaan meeding. Maar die besluit is nou geneem en volgens Hyundai is hy einde Januarie of vroeg Februarie reeds hier.

Druk hom in die rooi! Hyundai se GTI-vreter, die i30 N, is vroeg volgende jaar hier.

Die groep beplan om hom eksklusief by 15 uitgesoekte handelaars oor die land heen te verkoop. Dít omdat Hyundai spesialisopleiding aan ’n groep uit­gesoekte verkoopspersoneel gegee het wat hulle op die i30 N sal toespits. Jy sal egter jou i30 N by enige Hyundai-handelaar in die land kan laat diens.

Die i30 N benut ’n warm twee­liter-turbo wat 202 kW en 353 Nm wringkrag uitpomp. Krag word met ’n sesganghandratkas na die voorwiele gestuur. Die krag­syfers vergelyk goed met wat die GTI en Type R bied, maar ’n maltrap soos Mercedes se A45 AMG (280 kW, 475 Nm) is steeds in ’n klas van sy eie.

Bygesê, die i30 N bied vir ’n kort periode 378 Nm wringkrag as jy die voet plant, om verbysteek makliker te maak. Versnelling word dan ook deur die vervaardiger op 6.1 sekondes gestel.

’n Vet sportstuurwiel, kortaksie-handratkas en blink pedale bied ’n gawe pakket in die binneruim.

Soos dit die mode met hierdie soort warm luikrûe is, sal jy uit vyf ritmodusse kan kies – Eco, Normal, Sport, N en N Custom. Soos jy kan sien, is dit eintlik vier verstellings met N Custom wat jou toelaat om jou eie verstelling saam te stel.

Dinge wat in elke modus deur die blikbrein aangepas word, sluit in die fermheid van die skokbrekers, die stuuraksie se direktheid, die klank van die uitlaatstelsel en die sensitiwiteit van die petrolpedaal.

Die voertuig sit amper ’n sentimeter laer in sy sokkies as ’n gewone i30 en die vering is ’n raps fermer gemaak. Hiermee saam kan jy ook die skokbrekers se viskositeit bepaal om dit fermer of sagter te maak. Daar is ook ’n elektroniese sluitewenaar op die vooras wat help om krag na die wiel met goeie greep te kanaliseer.

Hyundai het ook ’n flap in die uitlaatstelsel ingebou waarvan jy die grootte van die opening met die druk van ’n skakelaar kan verstel. Dit laat die enjin growwer klink om by sy karakter te pas.

Vir die kajuit kry jy diep sportsitplekke met N-kentekens op geborduur, silwer pedale, kontrasterende stikwerk op die bekleedsel, ’n kleiner en dikker stuurwiel, en ’n meter op jou ritrekenaar wat jou swaartekrag in draaie meet.

Meer oor:  I30 N  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.