Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Isuzu D-Max kan nou saamblaf

Isuzu het uiteindelik sy D-Max-bakkie (die ou KB-reeks) ’n broodnodige verfrissing gegee – agt jaar nadat hy al op die pad aangekom het.

Eindelik! Daar is ’n nuwe Isuzu op pad en dié keer kry hy ’n frisser drieliterdiesel onder die enjinkap. Ons vermoed Isuzu-handelaars is redelik verlig.

Die D-Max kry deesdae sterk opdraande van die nuwe Toyota Hilux en Ford Ranger, terwyl die Mitsubishi Triton ook ’n moderne pakket bied.

Die sierrooster het nou ’n breër, dieper lugopening met hoofligte wat ’n platter en skrefiesoogvoorkoms bied. LED-lampies omring die hoofligte vir ’n moderne aanslag.

Nuwe wielontwerpe vir die allooiwiele maak ook ’n treffende buiging.

In die kajuit het Isuzu die lomp, ou radiostelsel met ’n nuwe raakskermeenheid vervang. Die harde, grys plastiek is met swart, ferm sponsmateriaal vervang, wat die gehaltegevoel van die kajuit sommer stukke beter maak. Trouens, daar is binne nou baie meer donker plastiek­kleure sigbaar.

Maar dalk die beste nuus is die opknapping van die drie­literturbodiesel. Die ou eenheid (130 kW, 380 Nm) het maar klippe gekou teen sy hedendaagse mededingers, wat selfs meer krag kon losdraai met ’n kleiner slagvolume. Dis maar die geval met tegnologie wat oud geword het.

In die nuwe, opgeknapte weergawe van die drieliter lewer die enjin nou 140 kW (+10 kW) en 450 Nm wringkrag (+70 Nm), wat die bakkie met die groot honde laat saamblaf.

Die sesgangratkaste (handrat en outomaties) is behou, maar die sluitewenaar met sy viskeuse koppeling op die agteras is met ’n nuwer, elektromagnetiese eenheid vervang. Isuzu sê hy het ook die skakelmeganisme tussen agterwiel- en vierwielvastrap verbeter vir ’n vinniger skakelaksie, terwyl die oorskakeling tussen hoë en laestrek nou ook vinniger geskied.

Isuzu Suid-Afrika hoop intussen om die kontrak met sy moedermaatskappy in Japan los te slaan om weer die bakkie (die nuwe weergawe) hier by sy aanleg in Port Elizabeth te kan bou.

Die groep bou tans die huidige bakkie nog hier. Maar die Suid-Afrikaanse filiaal moet met elke nuwe model maar weer sy voorlegging aan die Japanners gaan doen, waar hy teen Isuzu se ander fabrieke oor die wêreld heen te staan kom vir dié voorreg. Japan moet nog sy keuse bekend maak, maar Suid-Afrika hoop hy sal die positiewe nuus nog voor einde vanjaar hoor.

Meer oor:  Isuzu  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.