Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Isuzu se bakkies opgedollie
Die X-Rider-dubbelkajuit.

Isuzu is nie van plan om verkope af te staan aan ander vervaardigers as dit by sy bakkies kom nie.

By die eentonners sit die Isuzu KB elke maand veilig in die derde plek met die Hilux en Ranger wat soos kat en hond om die eerste plek baklei.

Om te sorg dat voornemende kopers nie weggerokkel word nie, hou Isuzu belangstelling lewendig met unieke weergawes van sy bestaande bakkiereeks.

Dit is ’n plaaslike inisiatief deur General Motors Suid-Afrika met lande soos Brittanje en Thailand wat ook lief hiervoor is.

So ’n tydjie gelede was daar die Serengeti, wat eintlik ’n beperkte weergawe was, omdat daar net ’n sekere aantal gebou is.

Toe volg die Midnite, wat as ’n spesiale weergawe beskou word en gebou is solank as wat daar belangstelling was.

Nou volg die X-Rider in die Midnite se wielspore en is beskikbaar as die KB 250 Hi-Rider-4x2-dubbelkajuit of die -verlengdekajuit.

Die X-Rider-verlengdekajuit.
Die netjiese allooivellings met klein rooi Isuzu-kentekens in die middel van die wiel.
Daar is ook kanttrappe met die X-Rider-kenteken.

Soos met die ander spesiale weergawes gaan dit oor die kosmetiese opdollie – binne en buite – van die bakkie. In die ­X-Rider se geval is daar darem ook iets wat nie net vir die mooi daar is nie. Dit is ’n nuwe swaardienssleepstang met ’n 2,1-ton-vermoë.

Buite is daar nuwe 18-duim-vellings met ’n vyfspeek-ontwerp in swart en silwer.

Die X-Rider spog met sytrappe, ’n rolstaaf en ’n bosbreker wat netjies in die voorbuffer geïntegreer is. Als is in swart afgewerk met klein X-Rider-kentekens in rooi daarop.

Die sierrooster is in dieselfde swart skakering en daar is ’n keerskerm vir klippe op die punt van die enjinkap. Onder die buffer is LED-dagryligte.

Binne kry eienaars leersitplekke met X-Rider-kentekens, die ratknop en stuurwiel het rooi stikwerk en die stuurwiel het boonop satellietkontroles, iets wat die standaardbakkie waarop die X-Rider gegrond is, nie het nie.

Blink klavierswart afwerking word in die kajuit ingespan in die deurpanele en het ook ’n X-kenteken in rooi op.

Verder is daar klavierswart afwerking rondom die luginlate, by die klankstelsel en in die konsole wat die rathefboom huisves.

Die X-Rider sal in wit, silwer of rooi beskikbaar wees. Dit span Isuzu se 2.5-liter-turbodieselenjin in wat 100 kW en 320 Nm lewer.

Pryse:

Isuzu KB 250 X-Rider-verlengdekajuit – R355 900.

Isuzu KB 250 HO X-Rider-dubbelkajuit – R366 380.

Meer oor:  Isuzu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.