Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Isuzu se MU-X ’n eerlike veldryer

Vir ’n eerlike, werkesel-tipe veldryer wat die gesin moeiteloos Botswana toe sal neem in Junie, hoef jy vandag nie veel verder as Isuzu se MU-X te kyk nie.

Die MU-X met sy Isuzu KB-bakkiemeganika as basis is straks nie die mees dinamiese in sy segment nie. Maar hy bied kanniedood-krag, goeie veldryvernuf danksy 4x4-vastrap en ’n laestrekratkas, en ’n sewesitplekkajuit wat gerieflik genoeg vir enigeen van Wagter tot Skoonma sal wees.

Isuzu se netjiese MU-X is ’n eerlike veldryer wat jou nie sal teleurstel nie.

Lig op die enjinkap

Ek het onlangs weer nader kennis gemaak met die MU-X toe ons ’n voertuig benodig het wat lekker ruim is om groot items mee te vervoer.

Isuzu-handelaars sal straks vies wees, maar laat ons eerlik wees: Die Mitsubishi Pajero Sport, Ford Everest en Toyota Fortuner het almal ’n bietjie meer Elvis in die heupe as ons KB-meganika-Isuzu.

Die drieliterturbodiesel is nie so verfynd soos die mededingers se jongste diesels nie. Kragsyfers is billik (130 kW, 380 Nm), maar hy is meer Os du Randt as Frans Steyn in die middelveld.

Dit gesê, as jy ál sy veldrystelsels aktiveer en benut, sal hy jou by enige 4x4-plek bring waar jy wil wees.

Goeie sleepvermoë

In die kajuit is alles met swart leerbekleedsel beslaan. Die instrumentpaneel is ’n raps ouderwets met ’n kleinerige raakskerm wat nie aldag die mees logiese roete volg om tussen opsies en keuses te navigeer nie. Dit was ook moeilik om die radio afgeskakel te kry (dit is outomaties aan wanneer jy die voertuig aanskakel): ’n Mens moet die hele blikbrein afskakel as jy die radiostemme wil ontsnap.

Die sitplekke se rugleunings vou in ’n kits vooroor met die oplig van net een hefboom – heel prakties. Jy kan die sitplekke ook vooroor laat tuimel.

Die laairuim is groot en die MU-X het boonop ’n goeie sleepvermoë van drie ton, sou jy jou boswa wou haak. Krag- en USB-sokke is regdeur die kajuit te kry.

Twee goed wat ek gemis het, was die tik-funksie van die flikkerligte as jy vinnig van baan wil verwissel, en ’n oopsluitknop aan die niebestuurderskant (jy moet óf jou sleutel uit jou broeksak losvroetel óf jy moet terug omloop na die bestuurderskant).

Afsaal

Die MU-X het gedugte mededinging in sy leefstyl-4x4-segment. Veral die onderskatte Pajero Sport bied ’n sysagte rit in ’n moderne kajuit met ’n puik, moderne dieselenjin. Die Fortuner op sy beurt bied jou die gemoedsrus dat ’n miljoen Suid-Afrikaners hom bly koop.

Die Isuzu is daardie eerlike stut in die span wat jou nooit in die steek gaan laat nie. Dalk nie die kêrel met die jongste haarstyl nie, maar hy sal jou veilig terug by die huis besorg.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.