Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Isuzu slyp sy D-Max vir Afrika-toestande

Isuzu het verlede week ’n skelmkyk gegee na hoe sy nuwe D-Max-bakkie vorder om vir plaaslike toestande nommerpas te wees.

Die Japanse vervaardiger het einde verlede jaar aangekondig dat die Japanse moedermaatskappy R1,2 miljard in sy Suid-Afrikaanse aanleg in Port Elizabeth belê het om die volgende D-Max te bou, benewens die fabriek in Japan self.

Daar was vooraf nogal senuagtigheid by die plaaslike fabriek of hy wel weer die kontrak gaan kry om die bakkie te bou. Die huidige D-Max word ook in die aanleg vervaardig. Die vrees was dat die land se onteieningsdreigemente en swak ekonomiese toestande sou maak dat Isuzu Japan eerder die nuwe kontrak aan ’n ander fabriek in sy wêreldnetwerk sou gee.

Die kontrak is egter toe wel aan die Baaise fabriek toegeken en nou is die plaaslike ingenieurs kliphard besig om die bakkie se Japanse ontwerp in sekere opsigte op te knap dat dit meer gepas is vir die Suid-Afrikaanse- en Afrika-toestande.

Isuzu is tans hard besig om sy volgende D-Max-bakkie vir plaaslike toestande te toets. Die bakkie gaan weer in Port Elizabeth vervaardig word. Die ingenieurs kyk onder meer na die laaibak se versterkings, asook die stofdigting vir die kajuit.

Isuzu SA hoop om die produksievolume na 29 000 eenhede per jaar op te stoot, waarvan ’n groot persentasie as uitvoermodelle na die res van Afrika moet gaan.

Volgens Isuzu toets hy tans versterkings aan die laaibak (die kante en vloer) asook stofdigting by die deure.

Die ingenieurs wil ook sien hoe effektief en gepas die veringstelsel tans is. Duisende kilometer word op rowwe grondpaaie hiervoor afgelê. Die skokbrekers en bande se spesifikasies word ook fyn nagevors en getoets om die optimale verstellings hiervoor te vind.

Laastens is namarkse verskaffers ook besig om bakkie-kappies, rolstawe en bosbrekers se duursaamheid op grondpaaie te toets.

Die aanvanklike plan was om die nuwe D-Max aan die einde van volgende jaar plaaslik bekend te stel, maar weens die Covid-19-pandemie gaan dit nou eers vroeg in 2022 geskied.

Daar is nog nie uitsluitsel watter enjins in die nuwe reeks beskikbaar sal wees nie. Tans benut die D-Max ’n opgeknapte weergawe van sy 3.0-liter-diesel wat 140 kW en 450 Nm wringkrag lewer. Maar sy mededingers het moderner biturbodiesels en selfs ’n tiengang outomatiese ratkas (Ford Ranger).

Stuurwiel van die toekoms? Duisende toetskilometers word op rowwe grondpaaie afgelê, waarna ’n rits data in die blikbrein ingevoer word om later geanaliseer te word.
“En as die stof te veel word in die kajuit, dra jy net hierdie nuwe masker.” Isuzu volg die korrekte protokol tydens die nasleep van die Covid-19-pandemie.

As die D-Max teen 2022 steeds draf met ’n ouskool-drieliter en sesgang-ratkas, kan hy die gevaar loop om reeds met sy geboorte ’n agteros te wees. Isuzu het terloops ’n kompakter, moderner 1.8-liter-turbodiesel in sy oorsese markte wat hy as ’n intreemodel benut.

Die D-Max het groot treë vorentoe gegee die afgelope anderhalfjaar met die koms van die X-Rider-modelle – ’n mooigemaakte bakkie wat grootliks ’n voorkomspakket is. Die bakkies lyk mooi met hul pikswart afwerkings en spoggerige kentekens en ondanks hul hoër pryse as die gewone modelle, raap kopers dit op.

Wanneer die nuwegeslag-D-Max opdaag, sal die bakkie meer as net ’n mooi voorkoms moet bied. Hy sal meganies ook moet kan saamgesels.

Meer oor:  Isuzu  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.