Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Italië se mooiste hopelose ryding

Een van Italië se treffendste Gran Turismos het sommer gou ’n vroeë dood gesterf. Marnus Hattingh vind meer uit oor die Lancia Gamma.

In die 1970’s het Lancia met dié pragtige Gamma verskyn. Pininfarina kon die enjinkap so laag maak danksy die plat bokser-vier se plat ontwerp.

Motors bou was nog nooit ’n maklike taak nie. Veral nie in Italië nie, waar ’n nonchalante houding jeens ingenieurswese al menige belowende sportmotor se vroeë einde op die produksielyn beteken het.

Neem Lancia as ’n voorbeeld. Deur die jare het dié klein vervaardiger ’n reeks treffende rygoed opgelewer. Maar regdeur sy geskiedenis moes hy stoei om kop bo water te hou.

Sy eerste groot krisistyd het in die laat 1960’s gekom toe hy finansieel bankrot was. Fiat het Lancia oorgekoop vir ’n hand vol lire, maar in die proses ook al Lancia se skuld oorgeneem.

Destyds het Lancia pragtige voertuie soos die Fulvia gehad, maar dié was in 1969 met die Fiat-oorname reeds ses jaar oud. En hy was Lancia se jongste produk. Nog ’n probleem was dat Lancia bes moontlik geld verloor het op elke produk wat hy gebou het. Fiat het in ’n ondersoek na sy nuwe aanwins gevind dat die Lancias tot soveel as drie keer duurder was om te bou as die ekwivalente Fiat.

Turyn het dadelik een van sy beste ingenieurs, Sergio Camuffo (wat aan die Fiat 130-sedan gewerk het), opdrag gegee om twee nuwe modelle vir Lancia te ontwerp om kopers mee te lok.

Die plan was om ’n klein sportmotor, wat later die Beta gedoop is, en ’n groter model, wat aanvanklik as die Ammiraglia bekend gestaan het maar later met die bekendstelling in 1976 onder die naam Gamma bemark is, te ontwerp.

In hierdie tyd het Fiat en Citroën ook ’n samewerkingsooreenkoms gehad. Camuffo se plan was dus om sy nuwe Lancias met die Franse se hidropneumatiese veringstelsel toe te rus.

’n Bankrot Italiaanse sportmotor met ’n komplekse Franse veringstelsel, wat kon skeefloop?

Pininfarina het met twee pragtige ontwerpe vir die Gamma na vore gekom. Die een was ’n vierdeur-luikrug (die Berlina-styl, wat destyds gewild was) en die ander een ’n asemrowende tweedeur-koepee.

Die luikrug sou by Lancia se fabriek aanmekaargesit word, terwyl Pininfarina die koepee saam met die Ferrari 400 in sy eie aanleg gebou het.

Camuffo se kaartehuis met sy nuwe Gamma het egter stelselmatig ineengestort.

Eerstens het die Citroën-samewerking platgeval, wat beteken het dat sy nuwe Gamma gewone vering sou kry.

Die volgende terugslag was sy plan om Fiat se 3.0-liter-V6 te benut, sodat die Gamma met BMW en Mercedes se koepees kon meeding. Fiat wou dit egter nie toelaat nie, waarna die projekspan moes terugval op ’n nuwe, selfgeboude 2.5-liter-bokserenjin.

In teorie was dit ’n slim plan, maar die plat aluminium-enjin het weens sy rits ontwerpprobleme, wat nooit vooraf uitgestryk is nie, gou geblyk die Gamma se achilleshiel te wees.

Lancia se enjinontwerper het dit byvoorbeeld goedgedink om die kragstuur se pomp nie met die alternator te verbind soos wat die gebruik was nie, maar vanaf die tydreëlband.

Die gevolg was dat as jy die enjin op ’n koue oggend aangeskakel het, en die stuur was ten volle na een kant gedraai, het die band se tande hul greep verloor en dit sou dan breek, wat groot skade aan die enjin kon aanrig.

Nog haakplekke was die seëls wat nie dig genoeg was nie, sodat water by die olie beland het. Of dat die nokaste nie genoeg smering gehad het nie. En dan was daar die algemene probleem met roes wat so baie Italiaanse motors van daardie era gehad het.

Lancia het strykdeur die foute probeer regstel, maar teen 1984 – skaars ses jaar nadat met produksie begin is – moes hulle die projek stop. Slegs 6 790 koepees is gebou.

Vandag is die Gamma ’n skaars ryding. Trouens, ons sien hom glad nie in Suid-Afrika nie. Dit is werklik jammer van sy ontwerpfoute, maar vir daardie Pininfarina-voorkoms met sy lae enjinkap, skuins voorruit en skerp lyne alleen sal ons wat wou gee om een in die hande te kon kry.

Meer oor:  Italië  |  Motors  |  Motorbedryf  |  Lancia Gamma  |  Vintage Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.