Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ja! vir minder geroei in dié nuts

Dit was ’n slim skuif van Ford om sy gewilde EcoSport plaaslik ook met ’n outomatiese ratkas in een van die goedkoper afwerkingsvlakke beskikbaar te stel.

Tot op hede sou jy die sakke maar moes skud vir ’n topmodel in die reeks, sou jy nie self met die linkerhand wil roei en stoei in stadsverkeer nie. Dit was net die Trend (R354 800) en Titanium (R393 600) wat ’n outomatiese ratkas gehad het. Die res van die EcoSports, ondertoe op die prysleer, was met handratkaste gesool.

Twee dinge het egter intussen gebeur. Eerstens het die segment vir klein sportnutse merkbaar gegroei, sodat dit loon om kopers ’n breër keuse te bied.

En andersins was daar ’n virus met verreikende ekonomiese gevolge wat vervaardigers weer ’n keer moes laat dink oor hul model-aanbod.

Ford bied sy gewilde EcoSport nou met ’n outomatiese ratkas in een van sy goedkoper modelle aan. Slim skuif van Ford, reken ons. Foto: Quickpic

Kortom, al meer mense soek na iets goedkoper, maar steeds met die gerief van die duurder produkte wat hulle voorheen gehad het. Soos ’n outomatiese ratkas.

Daarom het Ford nou sy intreevlak Ambiente-model, wat tot op hede net met ’n vyfgang-handrat te kry was, ook met ’n sesgang- outomatiese model uitgebrei.

Teen R316 300 is die Ambiente-outomaties amper R19 000 duurder as die handrat, wat ’n stewige stoot is – en boonop net bo-oor daardie sielkundige grens van R300 000. Maar, hy bied steeds ’n stewige sowat R40 000-korting op die volgende outomaties in die reeks, die Trend.

Die Ambiente het ’n 1.5-liter onder die enjinkap, ’n natuurlik geaspireerde enjin met drie silinders, wat nou nie die wêreld aan die brand sal jaag nie (91 kW, 150 Nm). Die Trend op sy beurt het die kisduiweltjie van ’n 1.0-liter wat 92 kW en 170 Nm uitstoot.

Die kragsyfers is dus min of meer dieselfde, hoewel jou versnelling stadiger is, en dit het ook in verbysteke opgeval. Veral as jy vanaf so 80 km/h iemand wil verbygaan. Dan moet jy maar mooi mik vir ’n skoon pad van voor, want hy versnel baie rustig.

Sy verbruik was ook nie so lig as die eenliter-turbo s’n nie. Ek het pal bokant 6,8 liter gebly, en Ford self gee 6,9 liter aan as die gemiddelde verbruik.

Dis maar die dilemma van kleiner enjins wat al groter voertuie moet karwei. Hulle moet hard werk.

Die belangrikste egter van hierdie Ambiente-model is sy outomatiese ratkas. Dis geen tegnologiese wonder nie, maar hy bied jou die gemak van regtervoet plant en ontspan.

Die EcoSport met sy kombinasie van 1.5-liter en outomatiese ratkas is dus eerder as ’n stadsknaap geskik, waar jy rustig van verkeerslig na laerskool-sportveld kan pendel.

Prys: Ford EcoSport 1.5 Ambiente (out.) – R316 300.

Meer oor:  Ford  |  Motors  |  Ecosport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.