’n Renjaer het die naweek op die Killarney-renbaan wonderbaarlik uit die wrak van sy peperduur renmotor geklouter en moes amper ’n toegangskaartjie koop om weer by die hek in te kom.

Mike Verrier vlieg deur die lug met sy Maserati nadat sy renmotor se remme skielik gefaal het. Hy het op hoë vaart die bandemuur getref, maar steeds ongeskone uit die wrak geklim. Foto: PatrickVermaak
Dr. Mike Verrier, ’n ortopediese chirurg van Kaapstad, het ongeskonde van die toneel af weggestap nadat sy motor se remme Saterdag die gees gegee het en hy van die baan af gejaag het.
“Ek is ’n bietjie styf, maar het nie ’n skrapie opgedoen nie,” het hy ná die skrikwekkende botsing gesê.
“Ek neem in ’n Maserati aan die Shelby Can-Am in die Sport & GT-afdeling deel en het volspoed in die agterste pylvak gejaag.
“Toe ek teen 230 km/h op die skerp draai net voor die haarnaalddraai aan die einde van die lang pylvak wou rem, was daar net geen remme nie,” het Verrier gesê.
“Ek kon nie uitswaai of enigiets doen behalwe om te hoop ek verloor ’n bietjie spoed in die gruis nie, maar die motor het deur die lug getrek en die bande-spermuur getref.”
Die motor is deur die spermuur en ’n hyskraan moes dit later van buite die baan se grensdrade herwin.
Die motor se data het later gewys dat hy 227,1 km/h gejaag het toe die wiele die gruis getref het en teen 159 km/h deur die versperring is.
“Die motor is nou wel erg beskadig, maar die onderstel is só sterk dat ek danksy my veiligheidstoerusting ongeskonde daarvan afgekom het.”
- In ’n soortgelyke voorval in 2017 is Dawie Olivier se BMW verwoes en hy het talle breuke opgedoen en was maande in die hospitaal.