Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Jaguar se I-Pace het nog ent te gaan

Dis met gemengde gevoelens dat ’n mens agter die stuur van Jaguar se nuwe i-Pace klim.

Sy CV is lank en indrukwekkend. Hy is ons SA Motor van die Jaar en hy was voor dit ook die Wêreldmotor van die Jaar.

As ’n middelslagryding, iewers tussen ’n sportnuts en ’n sportsedan, baan hy nie net wat sy aandryfstelsel betref nuwe weë nie, maar ook as die eerste van hierdie nuwe geslag van toeganklike, massavervaardigde e-voertuie vir die breë publiek.

Maar dan kom jy tuis, met net 195 km van sy 400 km-reikafstand nog oor, en jy maak somme. Hoeveel keer jy nog na die winkels kan gaan, of na die stad kan ry, alvorens hy herlaai moet word. Dit word ’n nuwe som. Prop jy hom by die huis se muursok in, kan jy maar oor drie uur terugkeer om ’n ekstra 30 km se reikafstand bygevoeg te sien. Dan skop beurtkrag in.

Jaguar se nuwe i-Pace bied ’n oulike ontwerp, maar om prakties met hom te kan saamleef lê daar nog werk voor. Foto: Marnus Hattingh

Die SA huishouding is die verkeerdste plek om die nuwe i-Pace te beoordeel. Dis eintlik onbillik teenoor die voertuig.

As ’n stuk meganika is hy ’n ingenieurswese-meesterstuk. ’n Relatief bekostigbare (vir die oorsese koper) e-voertuig met ’n relatief praktiese gebruikslewe.

En hy lyk goed.

Dis hoekom hy so gewild was by beoordelaars wêreldwyd. Jaguar was die eerste wat redelik naby aan hierdie goue middeweg kon kom in ons soeke na ’n e-voertuig wat sou kon werk vir Jan Alleman: ’n bruikbare reikafstand, goeie verrigting en aanvaarbare herlaaityd vir sy batterye.

Maar, Suid-Afrika.

Eerstens is daar sy prys. Die i-Pace word van Brittanje ingevoer. Wanneer laas het jy na die wisselkoers gekyk? Ons geld is Monopoly-geld. Dan word daar ekstra belastings gehef op dié weelde-item. Selfs al is hy ’n groenproduk wat die owerhede kwansuis steun en meer van wil hê. Dit als jaag sy prys buitensporig hoog op. In vergeleke met die Europese koper moet die Suid-Afrikaner sy hand veel dieper in sy sak steek, en langer werk om dit te bereik, net om hierdie voertuig te kan bekostig.

Die volgende haakplek is sy bruikbaarheid. In Europa is die stede oortrek van herlaaipunte by al wat parkeerplek in die straat is. Dis ook nie hierjy-stelsels nie. Dit stuur die krag in ’n kragtige stroom na jou voertuig sodat jy veel vinniger as tuis jou voertuig kan herlaai.

Die omslagtigheid van ’n lang herlaaityd, asook die vrees van “waar gaan ek hom herlaai?” word dus uitgeskakel daar. Dit help baie. Dit is massief.

Met ’n battery wat halfvol gelaai was, het die voertuig se blikbrein vir my gesê ek gaan hom 18 uur(!) aan my muurprop gekoppel moet hou alvorens hy vol gelaai is. Moet jy hom dus meer as ’n dag lank koppel as hy ’n pap battery het?

Jaguar se antwoord is dat jy ’n spesiale kragboks kan koop wat vir jou ’n vinniger herlaaityd bied. Teen R1,6 miljoen net om die i-Pace in jou oprit te trek, raak dit ’n siniese spel om ’n verdere klomp duisende te moet bestee om hom oornag te herlaai.

Dis onbillik teenoor die kar.

Jou oog bly egter daardie reikafstand-meter dophou. In ons land is dit soos ’n alomteenwoordige guillotine.

As jou battery vol is en jy laat wiel, ry hy heerlik. Die rit is doodstil in die kajuit. Die stuur voel lig en versnelling geskied onmiddellik. Daar is ook twee modusse waaruit jy kan kies waar energie herwin word as jy rem of jou voet net van die versneller lig. In die een modus geskied dit teen ’n hoë tempo – lig jou voet voor die robot en jou Jag rem hard – terwyl in die ander modus dit meer natuurlik geskied. Of jy met ’n gewone motor net na die robot aanrol.

Die voertuig is ook lekker ruim, ondanks sy middelslag­afmetings. Onthou, die kajuit sit tot ver vorentoe by die vooras, want daar is geen groot enjin en ratkas in die neus nie. Die vloer is plat, want daar is ook geen transmissietonnel nie. Beenruimte agter is dus ruim.

Jou oog bly egter daardie reikafstand-meter dophou. In ons land is dit soos ’n alomteenwoordige guillotine. Wanneer gaan hy val? Waar gaan jy dan wees? Sal jy ver moet stap? En dan, ’n kannetjie volts?

Stof tot stof.

Die voertuig is fantasties, maar in ons mark maak hy nog nie werklik sin nie. Nie vir die breë publiek nie. Daarvoor sal ons infrastruktuur eers moet opvang, en ons wisselkoers moet versterk, en ons owerhede e-voertuie as ’n omgewingsbate moet beskou en nie as ’n melkkoei vir algemene fondse nie.

  • Prys: Jaguar i-Pace – R1,6 miljoen.
Meer oor:  Jaguar  |  Motors  |  I-Pace
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.