Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Japan se Spele-waagstuk

Tussen die veldbrande in Australië en die vies gesig van Swede se suurknol-tiener moet jy ’n ignoramus wees om nie te sien watter warm patat klimaatkwessies vandag is nie. Later vanjaar, by die Olimpiese Spele in Tokio, gaan dit weer na vore tree.

As jy van motors hou, was die rook in Januarie nog digter. Private voertuie is ’n administratief maklike en sosiopolitieke warmwatersak in die winter vir wetmakers as daar na ’n belhamel gesoek word.

’n Tarief, soos ’n belasting, is maklik om in te stel en jy kan dit op enigiets – die brandstof wat hy verbruik, die gas wat hy uitlaat of selfs die voertuigprys – hef. Die betaling geskied in ’n kits en daar is min rompslomp daaraan verbonde.

Toyota – en Japan – vestig sy hoop op brandstofsel-tegnologie om die e-golf die toekoms in te ry. Maar die res van die wêreld moet saamspeel.

Die heuning op die toebroodjie, vir die owerhede, is dat voertuie ook negatiewe sosiopolitieke kapitaal het. Daardie groen belasting word eintlik as ’n positiewe stap gesien. ’n Nuttige, geldige slaanstok teen als wat ryk, ontwikkeld en oordrewe is.

Hoe moet vervaardigers hierop reageer? Ek het simpatie, want eintlik is hulle in ’n hoek vasgevang. Daar’s die idealistiese linkerkant van die politieke spektrum, en dan die harde werklikheid van tegnologie, markkragte, en, les bes, die menslike aard.

Kortom, blinkbaadjie-wetmakers wil ’n Formule Een-vertoning uit ’n draadkar hê.

Belaglik? Moenie glo nie. Die grense van die werklikheid het nog nooit enige politikus teruggehou om sy beloftes nuwe oktaan te gee nie. Dink daaraan: Sy horison is korttermyn, en sy oogmerk is herverkiesing. Dit is eerder die vryheidsvegter wat die Groot Ideaal nastreef. Die gewone politikus volg maar net die tydsgees om meer stemme te werf en so sy kans tot herverkiesing beter te maak.

Dit is in hierdie konteks wat ons die aanvoorwerk by September se Somerspele moet beskou. Toyota gaan 100 busse wat met waterstof werk aan deelnemers en toeriste beskikbaar stel om van hotel na baan te reis. By 2022 se Winterspele in Beijing gaan daardie 100 na 1 000 opgepomp word.

Die belangrikheid hiervan is dat Toyota se waterstof-strategie ook ’n Japanse regeringstrategie is. Op lang termyn het Japan en sy nasionale bedryf besluit waterstof – en nie gewone litium-ioon-batterye soos wat Tesla en die res van die motorlandskap gebruik nie – is die toekoms.

Massiewe beleggings word tans in Japan gedoen om hierdie toekomsvisie te laat werk. Dit is soos om te besluit om ’n kind te hê: Geen omdraaikans of tou opgooi as dinge haak nie.

Gevestigde belange van groot nywerheidslande – ja, wetmakers – gaan die laaste sê hê.

Die Japanse rubberstempel, van owerheidskant, op Toyota se waterstofbusse dien dus enersyds as globale uitstalvenster vir hul vermoë en gevorderdheid met hierdie nuwe tegnologie. Maar andersyds is dit ook ’n oorredingstaktiek aan die buitewêreld: Kyk hoe goed werk dit. Julle kan dit gerus ook probeer.

In die motorbedryf is daar tans twee benaderings tot e-mobiliteit. Die hoofstroom het die litium-ioon-battery gekies as voorsiener van elektrisiteit vir e-voertuie.

Waterstoftegnologie, die alternatiewe keuse, benut egter ’n sogenaamde brandstofsel om die nodige elektrisiteit op te wek. Dit behels ’n tenk vloeibare waterstof wat deur ’n proses van omgekeerde elektrolise die waterstof in waterdamp (wat by ’n gewone uitlaatpyp uitblaas) en elektrisiteit omskakel.

As die waterstof in die tenk opgebruik is, hervul jy dit bloot soos jy met petrol en diesel doen.

Die voordeel van dié stelsel bo batterye is dat die energielewering digter is. Met ’n tenk waterstof kan jy 800 km ver ry, teenoor 300 km met ’n volgelaaide battery. Die hervul-tydperk is ook dramaties vinniger (minute, teenoor 12 ure vir ’n battery).

Japan se uitdaging nou is om die res van die wêreld te oortuig om saam te speel.

En hiervoor span hy 100 busse tydens die Olimpiese Spele later vanjaar in. Gaan sy waagtoertjie werk?

Gevestigde belange van groot nywerheidslande – ja, wetmakers – gaan die laaste sê hê.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.