Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Jare se onthou by Cars in the Park uitgestal

“Oe, jy kon lekker vry in dié kar. Daar is so baie ruimte dat jy ’n dubbelbed agter kan insit,” sê ’n tannie met die grys kop vir haar vriendin terwyl hulle deur die blou 1959 Chevrolet Impala se venster loer.

Barney Marais (70) van Middelburg in die Oos-Kaap en Clive Barnard (75) van Benoni eet Vrydag middagete by die Cars in the Park-saamtrek by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein. Foto: André Damons

Hulle giggel soos twee tienermeisies en kyk rond om te sien wie hoor hulle.

Hulle was deel van die duisende mense, oud en jonk, wat Vrydag die Cars in the Park-saamtrek in Bloemfontein bygewoon het om na voertuie van weleer te kom kyk.

Dit is die 28ste keer dat dié saamtrek aangebied is en is vanjaar by die Martie du Plessis-skool gehou.

Barnard Knoetze (73) van Pentagon Park, Bloemfontein, het sy vierjarige kleinseun, David, tussen die motors rondgewys. Hulle het byna die hele terrein platgestap om na elke motor te kyk.

“Hy het baie vrae oor die ou karre. Hy ken die Mercedes-Benz, want hy ken die driehoek en ek ry ook ’n Mercedes. Hy vra uit oor die ander karre, watter maak is dit, hoekom hulle so groot is.

“Ons is mal oor die karre en ek is mal oor hom. Ek is lief vir die mannetjie,” sê Knoetze.

Volgens Knoetze, wie se gunstelingmotor op die terrein die Mercedes-Benz SL 180 is, bou David ook sy eie karretjies en kry hy sy liefde vir rygoed by hom.

Dit was veral die ouer gaarde wat hul kennis, ervarings en herinneringe met hul kinders en kleinkinders gedeel het.

Clive Barnard (75) van Benoni en Barney Marais (70) van Middelburg in die Oos-Kaap, het onderskeidelik ’n Ford A-model van 1931 en ’n Chevrolet-bakkie van 1925 uitgestal.

Barnard Knoetze (73) het sy kleinseun David (4) al die ou motors by die Cars in the Park-saamtrek by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein gewys. Foto: André Damons

Die twee mans is bure in Middelburg waar Barnard ’n plaas het en met resiesperde teel.

“Die ou motor is my stokperdjie. Dit is baie werk en vat baie tyd om die voertuie reg te maak,” sê hy.

Hy het ook twee ander Ford A-model-voertuie by die huis.

Barnard Knoetze (73) en sy kleinseun David (4) het veral van die Mercedes-Benz SL 180 gehou wat hulle Vrydag by die Cars in the Park-saamtrek in Bloemfontein van nader bekyk het. Foto: André Damons

Marais, die eienaar van ook ’n Chevrolet wat van 1916 dateer, sê dié motor is die oudste Chevrolet in Suid-Afrika.

Volgens hom ry hy nog gereeld met van sy ander “oues” om rolbal op die dorp te gaan speel.

Daar was egter ook oorgenoeg “nuwer” modelle soos ’n bloedrooi Ferrari 458, verskeie nuwer Ford Mustangs GT en Chevrolet Camero SS.

Van die interessanthede wat vanjaar te sien was, sluit in veteraantrekkers, asook talle ou enjins wat uitgestal is.

Daar was ook ’n uitstalling van modelmotors wat te koop was.

René Greenland, een van die organiseerders, sê teen 11:00 was die 3 000 kaartjies wat hulle laat druk het, reeds uitverkoop. Mense het egter steeds ingestroom.

Sowat 500 motors van oor die land heen is ook vanjaar uitgestal, sê sy.

Barnard Knoetze en sy kleinseun David bestudeer Vrydag ’n Citroen van die 1940’s met hul besoek aan die Cars in the Park-saamtrek in Bloemfontein. Foto: André Damons
Colin Kearney (5) en sy broer, Reinhardt (7), het Vrydag se uitstappie na die Cars in the Park-saamtrek by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein geniet. Foto: André Damons
Colin Kearney (5) bestudeer Vrydag een van die veteraanmotors by die Cars in the Park-saamtrek by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein. Foto: André Damons
Al die oues op ’n ry by die Cars in the Park-saamtrek wat Vrydag by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein gehou is. Al dié Ford-motors is van die 1930’s. Foto: André Damons
Die Cars in the Park-saamtrek is Vrydag by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein gehou en die veteraanmotors het honderde toeskouers gelok. Foto: André Damons

Meer oor:  Bloemfontein  |  Veteraanmotors  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.