Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Jong gewere

In die volgende vyf weke word sowel Max Verstappen as Charles Leclerc 22 jaar oud. Daar’s baie jare wat voorlê vir F1 se twee goue jong sterre om mekaar deeglik op te foeter. Egmont Sippel skryf op die vooraand van vandag se Italiaanse GP op Monza.

Leclerq Sondag op die podium.

Martin Brundle is die enigste F1-jaer wat op sy dag spanmaats met Michael Schumacher én Mika Häkkinen was.

Schumacher was blitsig, maar dis duidelik dat Brundle ’n selfs dieper ontsag vir Häkkinen se spoed had. Mika sou die kwalifiseringstryd tussen die twee gewen het, en Michael die wedren, aldus die man wat deesdae Sky Sports se hoofmikrofoon tydens Grand Prix-naweke volpraat.

Maar die jaer wat albei sou troef, in kwalifisering én in renne, is die onsterflike Ayrton Senna.

Seg Brundle.

Nou’s daar stemme wat reken dat Lewis Hamilton in die Senna-liga is.

Van waar? Hamilton het veels te veel afnaweke om in dieselfde asem genoem te word. Inderdaad was die aanhef van ’n nuwe seisoen tradisioneel ’n klad op Lewis se jaarverslag.

Die meeste van Hamilton se spanmaats tot op hede het ook redelik goed teen hom gevaar, spesifiek Fernando Alonso, Jenson Button en Nico Rosberg. Die gaping tussen hulle en Hamilton was gewis kleiner as die gaping tussen Senna en Alain Prost.

En op lys ná lys van F1 se groot-ste jaers nog tel Prost onder die top-vyf.

Senna? Hy’s gewoonlik onder die top-een.

Die punt is dít: Daar’s heelwat ooreenkomste tussen Hamilton en sy held. Hul spoed. Hul baanstyl. Hul verbysteekvernuf. Hul natbaan-vermoëns.

Maar dit het Lewis ’n dekade in F1 gekos om ’n seisoen aanmekaar te timmer – en dis die huidige seisoen – waar hy van begin tot einde geheers het.

Daar’s buitendien ook ’n ander jaer in F1 wat dalk net so veel soos Hamilton op Senna trek: Max Emilian Verstappen.

Voeg sy voorname bymekaar en jy kry kwansuis nog Maximilian, oftewel ’n vorm van die Latynse woord “maximus”, wat “die grootste” beteken.

Nes Senna, is Max blitsig. Nes Senna, is hy oermeester op ’n nat baan. Nes Senna is hy koning met verbysteek. Nes Senna kan hy delikaat op sy wiele wees, of beesagtig, afhangend van wat vereis word. Nes Senna is hy onverbiddelik agter die stuur en soms oor-verbonde tot ’n halwe gaping, met slegte gevolge – soos laas Sondag op Spa.

Maar hier’s die heerlikheid – vir ons – omtrent die F1-milieu waarin Verstappen homself bevind: hy’t sy Prost gevind.

Want soos Alain Prost vir Ayrton was, so gaan Charles Leclerc vir Max Emilian wees.

Die Ferrari-renjaer Charles Leclerc (21) van Monaco vier Sondag sy eerste sege in Formule Een wat hy in die Belgiese Grand Prix op Spa-Francorchamps behaal het.foto’s: getty images

Leclerc seeerste F1-sege

Snaaks genoeg is daar dan ook ooreenkomste tussen Leclerc en Prost, asook Leclerc en ’n ander Ferrari-legende, Niki Lauda, en dis die 21-jarige jonge Monegask se heldere ontledingsvermoë, sy kliniese en netjiese bestuurstyl en sy kalme gedrag, sowel in die motor as daarbuite.

Goed, ná die Oostenrykse GP aan die einde van Junie was daar ’n onstuimigheid in sy gemoed oor die manier waarop Verstappen hom ore sou aansit om ’n sege wat wedren-lank gewink het, voor sy neus weg te raap.

Leclerq
Leclerq Sondag op die podium.

Dis te verstane. ’n Oorwinning op die Red Bull Ring sou Leclerc se eerste in F1 gewees het, nadat hy vroeër vanjaar deeglik in Bahrein deur die noodlot gefnuik is. Op pad na die oorwinningsvlag – met spanmaat Vettel asook Hamilton ver in sy stof agtergelaat – het Ferrari nr. 16 vuurkrag in een van sy ses silinders verloor.

Bakoe moes ook Leclerc s’n gewees het, te oordeel aan hoe die naweek deur hom oorheers is, tot en met die oomblik toe hy tydens die Q2-gedeelte van kwalifisering in ’n muur sou vaskletter.

Op die Red Bull Ring het dit nogmaals gelyk of Leclerc sou wen, totdat Verstappen hom uit die voortou geboelie het.

Vieserig was die jonge Monegask wat, terloops, die lewenslig aanskou het ’n skamele twee weke en twee dae ná die Vlieënde Hollander se geboorte op 30 September 1997. Oor bietjie meer as ’n maand van nou af is albei van hulle dus 22.

Oud, hè? Of dan beslis in renjare, want hoe anders verklaar mens die feit dat Leclerc tans besig is om sy veel meer ervare spanmaat, die 32-jarige Sebastian Vettel, af te ransel?

Waar hulle vandag wegspring is eers gister bepaal, lank nadat hierdie storie gedruk is. Maar in die voorafgaande ses renne was Leclerc s’n die vinniger rooi kwalifiseringsperd, onder meer deur ’n tweede koningsposisie in Oostenryk los te jaag; sy eerste was in Bahrein.

Tot op Spa moes hy egter vir die geruite vlag wag.

Verstappen: Hy’t sy Prost gevind.

u Rouge- en Raidillon-rampe

Soveel te soeter was laas Sondag se sege dus.

En soveel te bitterder ook. Op die dag vóór sy eerste voltelling in F1 het Leclerc se renvriend Anthoine Hubert in ’n gru-ongeluk aan die bopunt van Spa-Francorchamps se beroemde Eau Rouge-swiep – in die kinkel genaamd Raidillon – gesterf (bit.ly/F2ongeluk.)

Heelwat jaers is al daar af. In 1998 het Jacques Villeneuve teen Eau Rouge se bult uit, op pad na Raidillon, beheer oor sy Williams verloor en die keermuur vol bande aan die baan se buitekant soos ’n bom getref. “It was the best crash of my ­life,” was ’n ongedeerde Villeneuve se lakoniese kommentaar (bit.ly/JVongeluk). Vyf jaar voor Villeneuve het Alex Zanardi sy Lotus aan die bopunt van Eau Rouge verwoes. Einste Senna moes sy McLaren doelbewus tol om sy eie spanmaat te vermy en genoeg spoed te verloor om nie die wrak van die Lotus te tref nie. (bit.ly/AZongeluk.)

Eau Rouge en Raidillon het inderdaad al ’n veelheid van skrik- en tragiese insidente gelewer – soos Stefan Bellof se sterfte in 1985. Die 22-jarige Hubert s’n was die derde noodlottige Raidillon-ongeluk in die laaste 11 jaar.

Hubert, terloops, was die heersende GP3-kampioen, ’n titel wat Leclerc homselwers in 2016 verower het voordat dit in 2017 met die F2-titel opgevolg is. Nes Senna en Verstappen, is die jonge Leclerc gebore om te wen.

Vettel se SF90-probleem

Die tafel is dus gedek. F1 se volgende groot tweestryd is klaar aangelê. As Honda en Red Bull van volgende jaar af waarlik mededingend is, gaan die vuurwerke tussen hierdie twee na Guy Fawkes lyk.

Om nie van die 34-jarige Hamilton te vergeet nie. Die Engelsman handhaaf tans die vorm van sy lewe – soos sy stormende sege-lopie net nou die dag nog op die Hungaroring bewys. As die Hamer vanjaar sy sesde F1-titel verower, sal hy alles oor die volgende paar jaar gee om Schumacher se rekord van sewe te ewenaar of te verbeter.

En Vettel?

Leclerc sit hom tans ore aan, juis daar die Monegask ’n vloeiender en aanpasbaarder bestuurstyl as die Duitser het. Seb soek spesifiek ’n wa met ’n agterent wat stabiel op die indraai is sodat die neus vinnig geroteer kan word, waarna einste agterent genoeg greep moet lewer om ’n wulpse uitswaaistert te verhoed, daar dit onnodige rubber vreet.

Die SF90 laat Vettel in dié opsig in die steek. Laas Sondag moes Seb twee keer op Spa kuip, teenoor Leclerc en Hamilton se enkele stop elk vir vars rubber.

Dis nie dinamiese eienskappe wat oornag gefieks kan word nie, synde dit uit Ferrari se overalse aëro-filosofie spruit. Die lugdinamika van voorvlerke wat na hul buitekante ontbondel en plat uitloop, help Maranello se super-sterk enjin nou wel om fantastiese reguitlynspoed te waarborg, maar dit lei ook tot die stuurtraagheid wat vir Seb so opkeil.

As Ferrari egter – nes in 2017 en 2018 – ’n stabiele stert vir hul Pronkende Perd kan ingenieur, sal Vettel bes moontlik in pas met Leclerc kom, sodat ons hopelik in die nabye toekoms weer vier jaers op die donderende spits van die F1-oorlog kan beleef: die twee ou kanonne (Hamilton en Vettel) en die twee jong gewere (Leclerc en Verstappen).

Maar eers is daar vandag se Italiaanse GP op Monza. En synde die vinnigste ren van die lot te wees, behoort die Ferrari-hingste met ’n paar furlong te wen, terwyl Leclerc dalk vir die tweede keer in sy korte F1-loopbaan tot dusver die mitiese lourierkrans om sy nek kan hang.

  • Gister se kwalifiserings-uur vir vandag se Italiaanse GP word van 12:00 tot 13:30 herhaal, waarna die voorprogram volg en dan die ren om 15:05 – alles op SuperSport 1.
Meer oor:  Charles Leclerc  |  F1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.