Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Juweel in die kroon

Die Monaco Grand Prix is een van die jaar se glansrykste geleenthede en wie gaan vanjaar wen: ’n Silwer Pyl, ’n Rooi Perd of ’n Rooi Bul? Egmont Sippel lewer agtergrond.

’n Bon vivant, Nelson Piquet. Mal oor sy seiljag in Monaco, die een met ’n telefoon wat geen inkomende oproepe aanvaar het nie. Somer, son, see en saffier vir Nelson. En meisies.

Maar om met ’n F1-motor deur die strate van Monaco te boender?

Probeer eerder ’n motorfiets in jou sitkamer, aldus die Brasiliaan. Piquet was juis tuis op vinnige, oop bane soos Silver­stone en die ou Österreichring. Monaco se nou strate en onvergeeflike mure het hy vir manne soos Nico Rosberg, Jackie Stewart en Stirling Moss gelos, elk driemalige wenners. Alain Prost het vier keer geseëvier, Graham Hill en Michael Schumacher vyf keer elk.

En heel boaan die lys die towenaar, Ayrton Senna, met ses seges (sien bit.ly/SennaMansell vir sy epiese 1992-stryd teen ‘Our Nige’).

Jim Clark? Nul. Gilles Villeneuve, Häkkinen en Räikkönen? Een elk. Fangio, Lauda, Alonso, Hamilton en Vettel? Twee elk, nes onse eie Jody Scheckter.

Monaco, waar net die rykstes rondhang, is snoep met uitdeel.

Moeilik om verby te steek

Die grootste sondaar is natuurlik die straatbaan se beperkte verbysteekgeleenthede. In 2001 het Enrique Bernoldi 20ste gekwalifiseer, 3.9 sekondes stadiger as David Coulthard op troon.

En toe stol die Skot op die wegvlierooster, waarna dit hom helfte van die ren gekos het om uiteindelik verby Bernoldi te glip.

Dis maar een van vele episodes wat illustreer hoe allerbelangrik troonposisie plus ’n goeie wegspring in Monaco is.

Dis feitlik kritiek om eerste deur die eerste draai te flits, die winkelhaak na regs genaamd Sainte Devote, en dan aan die voorpunt teen Beau Rivage (oftewel “mooi strand”) se heuwel uit te jaag, deur die bedrieglike linkerhander wat blind om die hoek van Monaco se operahuis swiep, op pad na Casino Square.

Voorspellings

Ten tyde van hierdie skrywe het die manne en motors nog nie eens in Monaco opgedaag nie. En een ding wat jy liefs in die motorsport moet vermy, is om wenners te voorspel.

Daar’s net te veel veranderlikes in ’n spel vol spitstegnologie plus derduisende gemasjineerde komponente.

Goed, Monaco stres nie die enjins teen topsnelhede nie, maar jaers wat vandag ál 78 rondtes voltooi, sal amper 5 000 keer ratte verwissel.

Dink net aan die elektroniese, laat staan nog die meganiese, eise wat dit stel.

Voorts is daar die wispelturigheid van die weer asook renbande om mee rekening te hou, plus die kanse van ’n ongeluk of twee; nóg ’n rede om aan die spits te opereer, sodat jy nie deur die bondel verswelg word as motors mekaar begin rondklits nie.

Mercedes het nou weliswaar die eerste span geword om in elk van die eerste vyf renne van ’n F1-seisoen eerste sowel as tweede te klok – en as hulle dit vandag weer vermag, sal hulle die eerste wees om ses 1-2’s op ’n ry te behaal.

Maar die afgelope twee jaar het Brackley se motors gesukkel om hul bande vinnig genoeg vir kwalifisering op te warm, waarna dit ’n gespook was om die rubber op Sondae in die regte temperatuurstrekke te hou.

Dit terwyl Ferrari (2017) en Red Bull (2018) gemaklik die botoon in kwalifisering én renne gevoer het.

Laas jaar het Ricciardo byvoorbeeld troon losgejaag en toe selfs met ’n siek bul gewen; juiste beloning, natuurlik, vir die sege waarvan hy in 2016 deur swak kuipewerk beroof is.

Verstappen

En Max Verstappen, veral daar Red Bull so sterk in 2016 en 2018 was?

Inderdaad is die 21-jarige genie in 2015 en 2016 deur ongelukke gekelder, terwyl hy in laas jaar se derde oefensessie teen ’n muur vasgekletter het.

Kan die Vlieënde Hollander hierdie sakie vanjaar regstel?

Dis allermins iets waarop hy vooraf wou reken. Volgens Mad Max is Mercedes die enigste span wat tot dusver die kompleksiteite wat deur 2019 se nuwe regulasies meegebring is, onder die knie kon kry.

Sy Red Bull, seg Verstappen, het goeie balans; daar’s geen buitengewone stuurywer of -traagheid nie.

En die Honda-enjin is al amper so sterk soos die Merc-bron.

Maar die RB15 kort aërodruk om genoeg greep te genereer, en Mercedes was juis twee weke gelede in Barcelona buitengewoon blitsig in die baan se kronkelseksie – presies waar die Ferrari’s oorhoops was.

Ferrari versus Merc

Een van Mercedes se groot fokuspunte in die ontwikkeling van die W10 was natuurlik aërodruk, terwyl Ferrari op laer sleur en meer krag gefokus het.

En die SF90 is blitsig op lang pylvakke. Carlos Sainz en Pierre Gasly sê onomwonde dat die Ferrari-enjin kop en skouers bo die res s’n uittroon.

Maar dis niks nuuts nie. Laas jaar het die Merc-spanbestuurder Toto Wolff beweer dat die Pronkende Perde ’n halfsekonde vinniger op Hockenheim se strekke as die Silwer Pyle was. En vanjaar se hoëspoedbane kom nog: Kanada, Silverstone, Hockenheim, Spa, Monza . . .

Vandag is dit egter Monaco, die juweel in die F1-kroon, en teen die tyd dat u hier lees, is die kwalifiseringsuitslag al ou nuus.

Het Mercedes gedoen wat vooraf verwag is en Hamilton en Bottas spring vandag voor weg, sal dit moontlik met meer as net stewige aërodruk, hope greep en goeie enjinkrag te make hê.

F1-binnekringe bespiegel dat Mercedes al vir geruime tyd probeer om, via agterveertoleransies en/of elektroniese rembeheer, die voordele van agterwielstuur te simuleer en dat die truuk nou bemeester is.

Hoe dan anders as die motor met die langste asafstand die ratsste deur Barcelona se kinkel was?

Ieder geval sal die spits van vandag se aantreerooster ook die wenner bepaal.

Is die akrobatiese Verstappen dus goed geplaas? Het Ferrari hul beweerde nuwe voorveerstelsel betyds tot vervolmaking ontwikkel, sodat die SF90 met die nodige penshelling (laag voor, hoog agter) kan hardloop om ’n stabiele stert te lewer – iets wat veral deur Vettel benodig word om sy beste te lewer?

Of gaan die jong ram Leclerc nogmaals met die ou strydjakkals Seb se kop smokkel?

Lugvloei-filosofie en bande

Dis alles vrae waarop die antwoorde gister reeds vorm begin aanneem het, maar dit sal ’n verrassing wees as ’n Rooi Perd of Bul troon kon losjaag, wat beteken dat ons vir die vinnige bane sal moet wag – en daar’s heelwat van hulle tussen nou en Singapoer in September – om ’n antwoord te kry oor wie se lugvloei-filosofie die beste werk: Ferrari se lae sleur, gebore uit ’n voorvlerk wat, van binne af, vinnig na bo bol en dan op die punte weer afplat; of Mercedes en Red Bull se voorvlerke wat, van binne af, so hoog as moontlik tot teen die eindplate spar?

Saam met Pirelli se 2019-bande, met ’n dunner skil as laas jaar s’n (juis om vinniger van hitte ontslae te raak, sodat die rubber nie oorkook en blase onder die loopvlak vorm nie), kan gister se bandgedrag Z en weersomstandighede Z dalk net die deurslag in vandag se ren lewer.

Merc het juis laas jaar in Spanje al geskitter toe die dunskil-Pirelli vir die eerste keer beproef is.

En Hamilton en Bottas moet nou maar skep, want wie weet, van Kanada af (Sondag 9 Junie) betree ons dalk Ferrari-terrein.

Beleef die aksie
Die Monaco GP word vanaf 15:05 op SuperSport 1 gebeeldsend; die voorprogram begin om 13:30. Die Indianapolis 500 word vanaf 18:45 op SS 11 uitgesaai. Lees ook Egmont Sippel se huldeblyk aan die ontslape Niki Lauda in Weekliks.

Die seisoen is inderdaad nog ver van klaar af, al sou Mercedes vandag ’n sesde opeenvolgende 1-2 klok.

Meer oor:  Monaco Grand Prix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.