Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kaapstad gee eerste groen tree met e-busse

Kaapstad het pas die eerste stad in die land geword wat batterygedrewe busse vir sy metro-busdienste gaan inspan. Marnus Hattingh het met die hoof-ingenieur aan die stuur van die projek, Gideon Neethling, gesels. 

Dit het ’n rukkie vir Suid-Afrika geneem om as ’n ware agteros ook in die ekovriendelike kraal te kom. Immers, in Europa word in hul groot stede al lankal met batterygedrewe busse gery. Maar nou is die eerste, versigtige tree in Suid-Afrika gegee.

Kaapstad se metro-busdiens, Golden Arrow, het pas bekend gemaak dat sy vooraf navorsing en daarna ’n verdere jaar van toetsritte, eindelik agter die rug is. Twee e-busse gaan nou op ’n plaaslike roete in die stad ingespan word om saam met die res van die vloot dieselbusse die gewone pendeldienste in die middestad te lewer.

Die plan is om die getal e-busse geleidelik uit te brei, met die hulp van die Wes-Kaapse provinsiale regering. Ons het ’n paar vrae aan die hoof van die projek, Gideon Neethling, gerig.

1. Wie se e-busse het julle aangeskaf?

Ons het op die Chinese groep BYD (Build Your Dreams) se busse besluit. Hulle is in Shen­zhen (naby Hongkong) gesetel, en het al meer as 16 000 elektriese busse regoor die wêreld aan groot stede verkoop.

Francois Meyer (links, hoof van Golden Arrow) en Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir openbare werke en vervoer, skud blad by die eerste rit van Kaapstad se nuwe e-bus.

2. Wat was die vervaardiger se aanspraak wat reikafstand betref, en wat was jul ervaring tydens plaaslike toetsritte?

Die Chinese het gesê die busse behoort 300 km met ’n vol lading te kan haal, en dit was toe ook nogal die geval.

3. Jul eerste roete is vanaf die Retreat-voorstad na die middestad. Wat is die invloed van bulte op die reikafstand?

Ons het juis op die Retreat-middestad-roete as ’n wegspringplek besluit omdat dit so plat is. Dit gesê, met ons jaar lange proeflopies het ons die busse wel met sandsakke gelaai tot by die bus se maksimum gewiggrens, wat dus die ekwivalent van ’n vol­gelaaide bus is. En toe gaan ry ons teen Hospitaaldraai (op die N2-inkomend) en Tygerberg-heuwel (N1-uitgaande) uit.

Dit het nie die reikafstand belemmer nie.

4. Wat is die impak van verkeersligte en al die stoppe wat ’n bus op sy roete moet maak?

Die gereelde stop en wegtrek van die bus het geen noemenswaardige invloed op die bus se ver­rigting of reikafstand gehad nie.

5. Watter tegniese uitdagings het julle tydens die jaar lange proeflopie teëgekom?

Een van die busse se reikafstand was aanvanklik nie so goed as wat dit moes wees nie. Maar BYD het aan ons tegniese bystand gebied, wat gehelp het dat ons die fout met die batterye kon regmaak.

6. Hoe vergelyk die koste van ’n e-bus met dié van ’n dieselbus?

’n Elektriese bus kos sowat dubbeld die prys van ’n dieselbus.

7. Op hierdie eerste busroete, hoeveel ritte kan die bus aflê alvorens hy herlaai moet word?

Die Retreat-middestad-roete is so 40 km heen en weer. Ons doen so ses ritte per dag op dié roete. Een bus kan al ses ritte per dag aflê, waarna sy battery so op 20% sal wees.

Ons het wel ook ’n “middagpouse” tussen die oggend- en aandspitstye waartydens ons ’n battery gou kan herlaai, sou dit nodig wees.

Om ’n battery van leeg na vol te herlaai neem so twee en ’n half uur.

8. Gebruik julle net hierdie een roete tans?

Ja, maar ons het planne om later nog roetes by te voeg.

9. Ongeveer wanneer behoort dit te gebeur?

Ons het nou reeds ’n derde bus bestel, wat so in die eerste kwartaal volgende jaar hier behoort te wees.

Hierdie derde bus sal eintlik deel vorm van die huidige proeflopie­ in die praktyk, om te sien hoe kommersieel lewensvatbaar is e-busse teenoor dieselbusse.

So ’n ent in die tweede semester van 2022 in behoort ons al genoeg data te hê om ’n ingeligte besluit te kan neem oor of ons nog e-busse gaan bykoop einde volgende jaar.

Meer oor:  Golden Arrow
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.