Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Kanonklanke op Kyalami

Ná 37 jaar word Kyalami se legendariese 9-uur-uithouren vanjaar weer aangebied. Die stilte is gebreek. Die klanke gaan kanon. ’n Voorskou deur Egmont Sippel.

GruppeM-Mercedes-AMG
Die GruppeM-Mercedes-AMG begin Kyalami se 9-uur-uithouren in ’n amper onaanvegbare posisie in die Intercontinental-titelgeveg vir GT3-motors.

Klein laaitie. Groot oë. Monstermotors. Kanonklanke. En die reuk van jungle juice.

Dis herinneringe uit die goue dae van destyds se 3-uur-uithouren op Killarney en die klassieke 9-uur op Kyalami.

Daar’s buitendien nie veel meer wat jy kan byvoeg om hartkloppings hemelhoog te jaag buiten dalk om vir Linda Vaughn, Miss Hurst Golden Shifter haarselwers, op wedrendag om die baan te paradeer nie.

Dis wat die Yanks ’n halwe eeu gelede tydens sulke geleenthede gedoen het. Vaughn het vir ’n rondte of wat agterop ’n pasmotor se kattebak langs ’n drie meter hoë replika van die Hurst-ratkaskierie gepronk om renskares in ’n staat van testosteroon te plaas.

Sy was vonk vir hul buskruit. Met een swaai van haar heupe kon Linda ’n hele ren-arena se verkykers aan’t brand steek: bit.ly/32kQ2hK en bit.ly/33Bk017.

Die gees en die bees

Ten tyde van die wêreldbekendstelling van BMW se E90-3-reeks-Convertible in die middel 2000’s had ek die voorreg om Vaughn persoonlik by die planeet se grootste jaarlikse veiling vir versamelwaardige motors, die Barrett-Jackson, in Scottsdale, Arizona, te ontmoet.

Toe al in haar vroeë 60’s, het die wulpse “First Lady of Motorsports” letterlik bewoë geraak om ’n Suid-Afrikaner raak te loop, want die groot liefde van Linda se lewe, die Revlon-erfgenaam Peter Revson, het in 1974 in ’n F1-ongeluk op Kyalami gesterf.

Revson, op sy beurt, was ten tyde van die ongeluk aan Marjorie Wallace verloof. Wallace is kort ná haar kroning as 1973 se Mej. Wêreld van haar titel ontneem toe sy openlik saam met Tom Jones in Barbados gerinkink het, skynbaar toe sy reeds aan Revson verloof was.

Wallace het ook verhoudings met die sokkerster George Best en tennisster Jimmy Connors geniet.

Dis die soort tafereel waarteen die rensport doerie jare uitgespeel het. Die milieu was, nes die motors en persoonlikhede, rof en onbeskof. Die gees van die sport was inderdaad ’n bees.

Die rensport en onsterflikheid

“Cars and girls, man,” het ’n Nascar-jaer een keer gesê. “What else is there?”

Wel, volgens Ernest Hemingway ook stiergevegte en bergklim. Saam met motorsport was dit die enigste drie wat getel het. Die res was, volgens “Papa” Hemingway, blote speletjies.

Hy’t natuurlik van boks vergeet, ou Ernest, maar die strekking van sy boodskap was duidelik: dís die lewensgevaarlike sporte, daai drie. Een klein hik of proes en jy kon met jou lewe boet. “When you go to war as a boy you have a great illusion of immortality,” het hy later geskryf.

Ditto vir motorwedrenne. Tot ’n Jim Clark sterf, wat in 1967 op Hockenheim gebeur het, vermoedelik weens ’n defek op sy F2-Lotus. Vyf jaar later en Revson word deur ’n soortgelyke lot op Kyalami getref toe ’n rollaer op sy F1-Shadow se voorvering sou ingee.

Dís wat die resultaat van ’n enkele oomblik op ’n renbaan kon wees.

En daai enkele oomblik kan op enige van ’n 9-uur-uithouren se 32 400 sekondes toeslaan.

Linda Vaughn
In die 1960’s was Linda Vaughn Amerika se “First Lady of Motorsports” asook die gesig (en lyf) van Hurst-ratkieries.Foto:Getty Images
Kyalami se 9-uur-uithouren

John Love en Dawie Gous het die laaste 9-uur op Johannesburg se Grand Central-renbaan in 1960 gewen en ook die eerste een op Kyalami in 1961.

Toe’t David Piper oorgeneem, onder andere saam met medejaer Tony Maggs, gevolg deur Jacky Ickx, Brian Redman, Clay Regazzoni en Reinhold Joest, voordat Gérard Larrouse en Henri Pescarolo ’n 6-uur-uithouren in 1974 sou wen, waarna die formaat van 1975 tot 1979 na ’n 1 000 km-ren verander is.

In 1981 en 1982 was dit weer ’n 9-uur- ren in 1983 en 1984 ’n 1 000 km-uithouren voordat die afstand in 1986 na 500 km verminder is en in die laat 1990’s weer tydsgebonde sou raak.

Wenners in hierdie periode was nogmaals Ickx, asook Jochen Mass, Jody Scheckter, Stefan Bellof, Derek Bell, Riccardo Patrese, Alessandro Nannini, Bob Wollek en Gary Formato.

Dis ’n uitgelese klompie wat in legendariese motors gewen het: ’n Porsche 550 RS, Ferrari 250 GTO, Ferrari 250 LM, Ferrari 365 P2, Mirage M1-Ford, Porsche 917, Ferrari 512 M, Ferrari 312 PB, Porsche 908, Matra-Simca MS670C, BMW 3.0 CSL, BMW M1, Porsche 936, Porsche 956, Porsche 962C, Lola B98/10-Judd en ’n Kremer Lola B98/K2000-Ford.

Dit alles tot en met die jaar 2000.

En toe niks. Die 9-uur het ná 1982 uitgesterf en vir die afgelope 19 jaar was uithourenne se Kyalami-stem stil.

Byprogramme tydens die 9-uur

Nou’t alles onder leiding van baanbaas Toby Venter verander. Die 9-uur is terug. En dis nie al nie. Die hoofren – wat op Saterdag, 23 November sal plaasvind – word voorafgegaan deur twee dae van ren- en renverwante aanbiedinge soos VW Polo-motors en die Soweto Drift 60 Minute Challenge, waartydens ses van Suid-Afrika se beste “spinners” die geroemde BMW 325i, oftewel “Gusheshe”, deur sy passies sal sit. R10 000 wink vir die wenner.

Renstelle sal daar ook wees as jy self bietjie wil lepel, of vir klein Jannie of Sannie touwys wil maak vanuit die agtersitplek van ’n Sodi Kid Racer-renstel.

Uiteraard sal daar ook ’n uitstalling van rare en klassieke renmotors wees – Porsches, Ferrari’s, Lamborghini’s, Mercs en BMW’s, noem maar op – terwyl Black Coffee, Prime Circle, Shekinah, Julian Gomes en Sun El Musician afwisseling vir enjinklanke sal bied.

Inskrywings vir die hoofren

Die hoofdis bly egter 30 GT3-motors wat sake in die finale ronde van die Intercontinental GT Challenge Powered by Pirelli gaan uitsloeg.

Die Intercontinental-reeks bied agt voltydse vervaardigers – Audi, Bentley, BMW, Ferrari, Honda, Mercedes-AMG, Nissan en Porsche – maar op 23 November gaan Aston Martin en Lamborghini ook aan die 9-uur deelneem.

Drie Suid-Afrikaanse spanne (Stradale Motorsport, Pablo Clark Racing en Team Perfect Circle) sal in aksie wees, asook sewe Suid-Afrikaanse jaers waarvan drie (Jordan Pepper en die Van der Linde-broers, Kelvin en Sheldon) in ’n fabrieks-Bentley, -Audi en -BMW sal jaag.

Mercedes-AMG betree Kyalami as voorlopers in die vervaardigers- en bestuurderswedlope, met Porsche as hul enigste oorblywende uitdagers vir die vervaardigerstitel.

David Piper skuif ook agter die stuur in van die Ferrari 250 LM waarmee hy in 1964 eerste verby die geruite vlag was.

Linda Vaughn sal egter nergens te siene wees nie, maar die gees waarin sy wedrenbyeenkomste opgekikker het is “alive and well and living at Kyalami”; klein kannetjies, groot oë, monstermotors, kanonklanke en die reuk van jungle juice.

Wat ’n vooruitsig! Almal raak kind rondom ’n renbaan.

  • Kaartjies vir al drie dae is beskikbaar by www.kyalami9hour.com.
  • Geluk ook aan Giniel de Villiers en sy nuwe navigator, die Spanjaard Alex Haro, met hul sege in vanjaar se Rallye du Maroc; Giniel se vierde in Marokko en die volmaakte voorbereiding vir Toyota Gazoo Racing se volgende Dakar-aanslag, hopelik met vier Hilux-renbakkies as Fernando Alonso en Marc Coma ook ingeskryf word.
Meer oor:  9-Uur-Uithouren  |  Kyalami
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.