Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kar aan fiets: Bzzt, ek sien jou

Daar’s tans ’n interessante debat in Brittanje aan die gang oor selfryvoertuie. Die Britse owerhede het verlede week aangekondig dat die eerste selfrymotors reeds voor die einde van die jaar op paaie toegelaat sal word.
Tegnologie wat jou toelaat om fietsryers se gedrag te voorspel is nou op navorsers se horison. Kaapse bestuurders laat hulle vir eers eenkant.

Versekeraars is egter nie heeltemal oortuig ons moet nou reeds opgewonde raak hieroor nie. Een versekeraar, InsuretheGap, het trouens ’n steekproef se verrassende resultate bekend gemaak wat hy pas onder 2 000 Britte gedoen het.

Hieruit blyk dit slegs 9% van die mense wat ondervra is, sal gemaklik voel in ’n selfrymotor en net 12% sal een koop. Waarom? Wel, omtrent die helfte het gesê hulle geniet dit te veel om hul motor self te bestuur.

Hier’s nou ’n ding, sien Knormoer. Die versekeraars is uiteraard nog bekommerd oor hoe veilig hierdie nuwerwetse tegnologie gaan wees. Maar dit is ook insiggewend dat die publiek self nie juis wawiele maak oor die gedagte van ’n kar wat self ry en bestuur nie.

Soos wat Knormoer die bedryf die afgelope jare dopgehou het, is vervaardigers vas oortuig dit is presies wat kopers bitter graag wil hê. Ja, goed, dit is net een steekproef, maar 9% is nogal ’n skok. Hier’s Knormoer se wysheid, gratis en verniet: Dié selfry-storie gaan dieselfde roete volg as slim kontrepsies soos ’n stuurwiel wat jou terug in jou baan druk as jy oor die wit lyn ry, of ’n masseerfunksie in jou rugleuning. Dis dinge wat ’n witjas geraai het mense absoluut dol oor sal wees, maar eindelik toe nie die geval was nie.

Dalk moet ons eers hoor wat motoriste rêrig wil hê, voor ons aan hulle ’n spyskaart opdwing.

’n Ferrari-burger, meneer?

Knormoer besef dinge is tans maar rof in die motorbedryf. Viruspandemies, die goudprys, olieskokke, e-motor-beleggings. Jip, dis ’n oerwoud daar buite.

Die Italiaanse ikoon van rooi sportmotors het egter ’n plan hoe om dié, um, perd in die bek te ruk. Die groep het pas sy eie klerereeks bekend gestel, asook ’n nuwe restaurant.

Goed-goed, altwee is nie heeltemal nuwe idees nie. Jy kry alreeds Ferrari-hemde en -bofbalhoedjies van Kolkata tot Kaapstad. Die groep se hoof van handelsmerk-uitbreidings, Nicola Boari, wil dinge egter ’n rat hoër neem. Hy’t ’n oud-Armani-ontwerper, Rocco Iannone, nader getrek om ’n bietjie, wel, die skêr in te lê.

Verwag voortaan by jou handelaar dus mooi aanddrag en kantoorhemde wat jy nie sommer by Woolies gaan vind nie.

Net so ook die nuwe restaurant, Il Cavallino. Dis g’n gewone eetplek nie. Nee, dis immers die einste plek waar Enzo Ferrari homself destyds gou ’n potensiële belegger of F1-renjaer vir brekfis gestiek het. Boari het die Michelin-sjef Massimo Bottura nader geroep om, ag ja, te sien hoe die vurk in die hef steek.

Knormoer hoop die kool is die sous werd met dié nuwe inkomstestrome vir Ferrari. ’n Mens wil mos nie ’n gegewe perd, ja wel, in die bek kyk nie.

Kar, fiets klets nou tesame

Padveiligheid is een plek waar tegnologie die afgelope paar jaar groot bydraes gelewer het. Dink aan selfstop-funksies, ABS-remme en vastrapstelsels. Dit red lewens (en versekeringseise).

Nou begin navorsers fokus op ander padgebruikers, soos voetgangers en fietsryers. Die plan is dat dié mede-padgebruikers GPS-toestelle (of ’n app op jou slimfoon) moet hê waarmee voertuie se blikbreine kan kommunikeer. Jou motor sal dus kan “hoor” daar is ’n fietser skuins voor jou wat haastig in jou rigting op pad is, of dat ’n voetganger die pad oorsteek. Die stelsel kan beweging vir die volgende 5 sekondes glo voorspel, sê die witjasse.

Knormoer is versigtig optimisties. As daar ’n blikbrein is wat ’n Kaapse bestuurder se gedrag kan voorspel, vul hy die nominasielys vir die Nobel-prys in.

Meer oor:  Motorbedryf  |  Ferrari  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.