Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kia, Mazda verras met fyn ontwerpe

Porsche se nuwe 911 het die Los Angeles-skou oorheers, maar tussen die rits Amerikaanse voertuie het ons ook ’n paar interessanthede vir die SA mark gewaar. Marnus Hattingh vertel meer.

Mazda skep tans van die mooiste gesinsvoertuie op die mark. Hier is sy nuwe Mazda3 – maar let op die breë C-pilaar. Hoe gaan jy tru parkeer?

Hoewel Kia se klein Soul nooit in Suid-Afrika werklik vastrapplek gekry het nie, is hy groot nuus in Amerika. Dus, g’n wonder die nuwe, derde weergawe is in Los Angeles bekend gestel nie.

Die nuwe Soul ry op ’n nuwe onderstel wat hom ’n 5 cm langer asafstand en ekstra algehele lengte bied. Die hoogte en breedte bly egter dieselfde. In die geheel het Kia sy voorkoms ook grootliks onveranderd gelaat.

Die neus kry wel nou ’n nuwe, plat rooster met dun hoofligte (LED-eenhede) weerskante. Agter vorm die remligte se hulse ’n boemerang-voorkoms, en die kenmerkende breë C-pilaar het nou ’n knak wat hom soos ’n vliegtuigvlerk moet laat vertoon. Binne is daar ’n raakskerm wat jou nutsfunksies huisves, maar die interessantste is die stemmingsbeligting wat jy in verskeie temas kan aktiveer, soos Hey! Yo!, Party Time! Romance en Cafe. Die ligte sal onder saam met die ritme van jou radio se musiek kan flikker, sê Kia.

Twee enjins is oorsee te kry, ’n normaal-geaspireerde tweeliter (110 kW, 178 Nm) en ’n 1.6-liter-turbo (147 kW, 265 Nm). Voorlopig is daar net sprake van ’n linkerstuurmodel, maar as aanvraag uit Japan, Brittanje en Australië sterk is, kan Kia ’n regterstuur oorweeg.

’n Model wat gewis Suid-Afrikaners se belangstelling sal prikkel, is Mazda se jongste weergawe van sy stadsluikrug, die Mazda3. Die nuwe 3 het ’n treffende ontwerp en is weer as ’n luikrug of kompakte sedan te kry. Veral by die luikrug val die breë C-pilaar dadelik op.

Kia se jongste Soul het die oorspronklike model se ontwerp voortgesit. Die lyf is ietwat langer, wat meer binneruimte skep, maar ’n nuwe digitale binneruim met flitsende stemmingsbeligting bring die partytjie na jou ryding toe.
Marc Lichte, hoofontwerper van Audi, by die groep se netjiese e-tron GT, hul toekomstige e-sportsedan.

Binne is ’n groterige raakskerm en bitter min ander skakelaars, om ’n minimalistiese kajuit te skep. Die groep se gewone falanks enjins sal aanvanklik gebied word. Dit sluit in ’n 1.5-, ’n 2.0- en ’n 2.5-liter-petrolenjin, asook ’n 1.8-liter-turbodiesel, vir oorsese markte.

Onthou egter ook dat Mazda beplan het om ’n nuwe petrolenjin in sy 3 te laat debuteer, maar hiervan was daar min sprake by LA. Die enjin benut dieselontbrandingstegnologie, dus pleks van ’n vonkprop wat die ontploffing verskaf, het die enjin ekstra hoë druk wat die petrol laat ontplof. Die resultaat is glo amper 30% beter brandstofverbruik en skoner uitlaatgasse, sê Mazda.

Onthou die Nissan Murano? Ná al die jare is die voorkoms grootliks behou. Ons reken hy behoort goed te vaar in Suid-Afrika, sou Nissan besluit om hom te bring.
Toyota het ’n opgeknapte Prius gewys, nou met ’n vierwielgedrewe weergawe ook te kry aangedryf deur twee elektriese motors.

Die Volkswagen-groep het benewens die nuwe Porsche 911 met twee ander konsepmodelle die koppe laat draai. In die Audi-kampie was daar die mooi e-tron GT, ’n sportsedan wat elektries gedrewe is. En dan oorkant in die VW-hoek het Wolfsburg ’n werksbussie van sy ID Buzz gewys, die groep se komende e-minibus wat ’n retro-model van die eerste Kombi is.

Ons is veral in die GT geïnteresseerd. Dit deel dieselfde onderstel en elektriese aandryfstelsel as die Porsche Taycan, maar sal sy eie veringverstellings en bakwerk hê, asook binneruim-uitleg.

Dus, twee elektriese motors (een voor, een agter) bied die aandrywing, en lugvering bied jou wisseling tussen ritmodusse. ’n Groot raakskerm dien as die digitale inligtingskerm, en om die omgewingsvriendelike faktor eksponensieel te verhoog, kan jy die vloermatjies gemaak van herwonne visnette aftik. Selfs die doekstof van die bekleedsel kom van dié herwonne visnette. Jy kan ook vir leerbekleedsel vra. Die e-tron GT is glo bykans produksiegereed en word vir 2021 beplan, sê Audi.

En laastens het ons oog op die Honda Passport geval, die groep se groot sportnuts wat in die BMW X5 se kategorie val.

Die Passport is dus groter as die CR-V wat ons ken, maar is net in linkerstuur te kry. Sy ontwerp is baie hoekig, maar ook heel ruim binne. Onder die enjinkap sit ’n 3.5-liter-V6, en aandrywing gaan deur ’n negegang- outomatiese ratkas na die voor- of al vier die wiele.

Meer oor:  Kia  |  Motors  |  Mazda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.