Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kia rol moue op vir T-Cross met nuts

Kia se Indiese filiaal is besig om sy spiere behoorlik te bult nadat hy verlede week die derde nuwe model binne ’n jaar bekend gestel het wat die afdeling self ontwerp het.

Kia se nuwe Sonet is streng gesproke nog net ’n konsepmodel, maar hy is bykans markgereed, dus sal sy voorkoms nie te veel verander nie.

Die Indiese afdeling van die Koreaanse reus het die Nieu-Delhi-motorskou gebruik om die Sonet-konsepmodel uit te stal, ’n klein sportnuts wat bykans produksiegereed is.

Die Sonet is op die Hyundai Venue se onderstel geskoei en behoort ook van sy meganika te benut. Hoewel die Sonet nog slegs ’n konsepmodel is, lyk hy bykans markgereed. Trouens, Kia sê hy wil hom reeds in die tweede helfte van die jaar op Indiese toonvloere hê.

Die klein Sonet sal onder die nuwe Seltos in sy portefeulje inskuif, wat einde verlede jaar by ons bekend gestel is. Hulle ding mee met Volkswagen se gewilde T-Cross en die Ford EcoSport in die uiters gewilde marksegment vir klein, bekostigbare sportnutse.

Kia het nog glad nie foto’s van die binneruim gewys nie, maar ons weet hy het ’n raakskerm wat nutsfunksies asook ’n satnav-stelsel sal huisves.

Die klein sportnuts word op die jong koper gerig en dus is ’n fris Bose-radio en koordlose verbinding met jou slimfoon ’n gegewe. Kia beloof verder klasleidende ruimte in die binneruim, maar dit is ’n redelik vae stelling.

Die sportnuts sal slegs voorwielgedrewe wees, maar geen inligting is nog oor die enjin-reeks beskikbaar nie. Ons vermoed die groep se jongste 1.0-liter-petrolturbo met drie silinders sal in topmodelle diens doen, gekoppel aan ’n outomatiese ratkas. Daar is ook sprake in Indië van ’n gerobotiseerde handratkas, iets wat die Renault Kwid onder meer ook benut. Dit is ’n goedkoper ratkas en glo makliker om te gebruik vir Asiatiese kopers as outomatiese ratkaste. Ander enjins kan ’n 1.6-liter-petrol wees sonder enige aanjaging.

Kia Suid-Afrika is nog snoep met inligting oor of die Sonet na Suid-Afrika gaan kom, maar ons sal nie verbaas wees as hy die einde van die jaar hier opdaag nie. Die segment is vuurwarm en Suid-Afrikaners wil ál meer iets goedkoper hê. As hy rondom die magiese R300 000-kerf hier aangebied kan word, sal Kia ’n wenner hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.