Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Klein Atos met die groot hart

Jy sal verskoon wees as jy nie aldag tred hou met die jongste sakpas-rondritser op die plaaslike mark nie.

Die Asiatiese vervaardigers is meesters van dié klein stadskarretjies en Suzuki, Honda, Toyota, Hyundai en Kia het almal een ding in gemeen. ’n Motortjie so groot as jou eetkamertafel, meestal afkomstig uit ’n Indiese fabriek, Spartaans afgewerk en met die prys van ’n halwe skaap en ’n sak biltong.

Jip, Hyundai se jongste Atos is hier en hy lyk sommer stukke beter as sy voorganger.

Neem Hyundai se nuwe Atos as ’n voorbeeld. Dis die Koreane se stadsbuksie gemik op die ontluikende Asiatiese mark en ander ontwikkelende lande. Destyds in 2005 het die Atoz (kyk na die Z in die naam; die gedagte was om dit oorsee as die “A to Z” te bemark, maar is later laat vaar) soos ’n komieklike tiener gelyk.

Die dak was kiertsregop en te hoog, maar vir daardie belangrike dimensie van neus tot stert was hy nommerpas. Net reg om in Asiatiese straatmarkte tussen stalletjies en duisende motorfietse deur te vleg.

Die Atos het hier in 2013 se koers van ons mark verdwyn, en is later met die Grand i10 vervang. Dis ’n effens groter stadsmotor maar ook met ’n mooier, geronder profiel en Europese stilering. Hy is steeds gewild in Suid-Afrika.

Maar dit het gemaak dat Hyundai aan die onderkant van die mark weer ’n vastrapplek makeer. Veral noudat die rand so swak is, die ekonomie nie koers kry nie en hoër belastings en tariewe volgende jaar ons voorland is. Kortom, kopers gaan al meer na kleiner, goedkoper voertuie soek. Dis al wat al meer mense kan bekostig.

Dit is dan die scenario waarbinne die nuwe Atos die plaaslike mark betree. Hyundai voer hom vanuit hul fabriek in Indië in, wat beteken hy kan hier mededingend op die mark geplaas word. Teen R159 900 is hy ’n klipgooi van die Renault Kwid, Datsun Go en Suzuki Celerio, almal ook klein stadskarretjies wat in Indië gebou word.

Afwerking is maar eenvoudig, maar daar is wel ’n raakskerm wat jy met jou slimfoon kan verbind.

Afwerkings

Wat bied die nuwe Atos jou vir daardie R160 000? ’n Gawe voorkoms, om mee te begin. Straks nie die ougat sportnuts-voorkoms van die Kwid nie. Maar beter as die Celerio en Go, sal ons sê. In die binneruim is daar ’n USB-sok, Bluetooth- koordlose koppeling vir jou slimfoon met die radio-stelsel, elektriese vensters voor, knoppies op die stuurwiel waarmee jy die radio kan beheer en ’n toereteller.

Vanuit ’n veiligheidsaspek is dit ook belangrik om te let dat die Atos standaard kom met twee lugsakke en ABS-remme.

Interessant genoeg het die Atos net ’n eenjaardiensplan (die effens groter Suzuki Swift bied ’n tweejaarplan standaard), maar jy kan die Atos s’n teen R4 500 na drie jaar verleng. Die mark is egter so sensitief vir prys dat dit eerder as ’n opsionele keuse gelaat word; dit nou om die rakprys so laag moontlik te hou.

Hoe ry hy?

Hyundai gebruik sy gewone 1.1-liter-petrolenjin (50 kW, 99 Nm) in die Atos, gekoppel aan ’n vyfgang handratkas. Ek het hom op kusvlak gery, dus kan jy verwag dat sy verrigting beslis geraak sal word deur die dun lug van die Hoëveld.

Versnelling is gemaklik en egalig, sonder dat dit gaan voel Duane Vermeulen help stoot teen die agterbuffer. Die ratskakeling is flink, maar ek self sou van ’n outomatiese ratkas gehou het vir besige stadsverkeer.

Die kajuit is redelik stil van enjingeraas, maar iets wat vreemd opgeval het, was die skakelaars vir die vensters wat nie by die armruste geplaas is nie, maar onder die radio in die middel van die voertuig. Dis dalk anders, maar teen-intuïtief.

Afsaal

Vir ’n klein stadskarretjie voel die nuwe Atos baie meer vasvoetig as sy Kwid en Go mededingers. Die voorkoms is redelik generies, maar die afwerkings is billik en die rit heel gemaklik. ’n Winskoop, teen R160 000.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors  |  Hyundai Atos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.