Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Klein Baleno ’n gawe stadsbuks

Die klein Baleno is ’n goeie spieëlbeeld van wat in die plaaslike motorbedryf aangaan.

Suzuki se op en wakker luikrug is al ’n paar jaar op ons mark, maar verkoop ondanks sy gawe voorkoms en lewendige 1.4-liter-turbo straks nie so fluks as wat ’n mens sou verwag het nie.

Toe vind ’n paar gesprekke tussen Suzuki en Toyota plaas, en vandag mag Toyota die einste Baleno as ’n Toyota Starlet bemark – en verkope skiet deur die dak. Selfs al is dit dieselfde motor, met identiese meganika. Kortom, Suid-Afrikaners is dol oor hul Toyota-handelsmerk.

Maar daar is steeds niks verkeerd daarmee om eerder die groot S op die sierrooster te kies as die gekrulde T nie. En werklik, Baleno mag dalk aan eetgoed vir jou hond herinner. Maar Starlet klink darem net soos die verhoognaam van ’n danser by ’n laatnag-kroeg vir lewensmoeë middeljariges.

Suzuki se vaartbelynde Baleno kombineer ’n mooi voorkoms met ’n heel lewendige rit. Ons sou die outomaties kies vir groter rygerief in die dorp. Foto: Marnus Hattingh

Danksy ’n onlangse opknapping bied die Baleno nou nuwe bekleedsel, ’n herontwerpte instrumentpaneel en ’n lekker groot raakskerm met trukamera.

My toetsmodel was die vyfgang-handrat, wat weliswaar ’n goeie prys bied (net onder die R260 000-kerf). Maar vir rygerief tussen verkeersligte en met parkeerplek soek, sou ek my stadsbuks as ’n outomaties wou hê. Jy moet maar die voet op die petrolpedaal hou as jy voortkruie.

Suzuki’s het egter nog altyd ’n lekker skerp draaisirkel en -aksie, en met die Baleno is dit niks anders nie. Parkeer, daardie sleur van ons stadslewens, is nooit werklik moeite nie.

Op die oop pad het die 1.4-liter-turbo (68 kW, 130 Nm) heel billik gevoel, maar moenie ’n skop in die rug verwag as jy die voet plant nie. Sy verbruik is wel besonder lig, ek het 5,8 liter gehandhaaf met Suzuki wat 5,1 liter as maatstaf voorhou.

Enigiets wat pla? Ek sou verkies het dat albei die voorste vensters outomaties is – nou is slegs die bestuurder s’n. Die sleutelvrye toegang is ook lekker nuttig, maar as jy die bestuurder se deur oopgesluit het, moet jy steeds ook die passassiersdeur individueel oopsluit. ’n Een-vir-almal-aksie sou beter werk.

Soos dit met sakpas stadsmotors gaan, moet jy maar fyn kyk na individuele spesifikasies. Maar wat rygerief betref, is die Baleno ’n heel gawe stadsknaap.

Prys: Suzuki Baleno 1.4 GLX – R259 900.

Meer oor:  Motors  |  Baleno
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.