Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Klein maar getrein

Hy’s kort en klein en sy driesilinder-oondjie berg minder as ’n liter. Maar in een felle slag het Hyundai se oulike nuwe Venue as die Ford EcoSport en VW T-Cross se ernstigste mededinger ontpop. Egmont Sippel het die bekendstelling in Kaapstad bygewoon.

Hyundai Venue
Hyundai Venue

Lancia is nie ’n naam wat mens noodwendig met stasiewaens vereenselwig nie; eerder sportiewe weelde (die 1950’s se Aurelia, die 1960’s se Flaminia) of GT- en tydrenverrigting (die 1960-’70’s se Fulvia Coupé, die 1980-’90’s se Delta Integrale).

Weerskante van die eeuwisseling was die Turynse maatskappy, onder Fiat-eienaarskap, egter obsessief oor wa-weergawes van elke motormodel: die Kappa, Lybra, Thema, Dedra, noem maar op.

Deesdae is dit Hyundai se beurt om ’n motorsegment te oor te bevolk. As Elantra-op-stelte doen die Tucson (amper 4,5 m lank) sy ding teen ander gesinsgrootte lewenstylers soos die VW Tiguan, Kia Sportage, Mazda CX-5 en Toyota RAV4.

Ónder die Tucson is daar egter uit ’n kwartdosyn kleiner Hyundai-kruiswaentjies te kies: die Creta (effe korter as 4,3 m), die Kona (net-net langer as 4,15 m) en nou die Venue (’n aks korter as 4 m).

Dis klein. Die Ford EcoSport strek al verbý 4,3 m, Volkswagen se oulike nuwe T-Cross verby 4,2 m.

En ons noem hierdie twee, want uit hoofde van hul 1.0-liter-driesilinder-petrol-oondjies ding hulle direk met die Venue mee – die Ford met 92 kW/170 Nm, die VW met 85 kW/200 Nm.

Die Venue? Met dieselfde 998 cc-trippel as die Kona 1.0T skop die nuweling – wat uiteraard ook uit sy voorwiele trek – krag uit wat identies aan die Kona s’n is: 88 kW/172 Nm.

Maar die Venue is kleiner en meer as ’n leeuwyfie ligter. Daarom voel hy ook ratser en lewendiger.

Hyundai Venue
Hyundai Venue.

Enjin, verrigting en ratkaste

Met ’n 6-g-handratkas breek die Kona byvoorbeeld net-net deur 180 km/h as jy voluit stook. In einste handratvorm haal die Venue 183 km/h, of met ’n 7-g-dubbelkoppelaarkas (DCT) 187 km/h.

Dis meer as vinnig genoeg.

Einste van die streep af klop die Venue die Kona (0-100 km/h in 11.3 sekondes vir die handrat-Venue versus 12 sekondes vir die handrat-Kona).

Interessant genoeg is die 6-g-handrat-Venue se standaard-versnellopie 0.2 sekondes vinniger as die 7-gang-DCT-Venue, al bied laasgenoemde meer gange, wat korter ratverhoudinge (en selfs ’n korter einddryfverhouding) in die wegtrekratte beteken.

Omgekeerd span die Venue se DCT-kas ’n langer einddryfverhouding in die hoë ratte in, juis vir gemakliker topsnelhede en laer verbruik op oop paaie. Dis hoekom DCT-variante van die Venue 187 km/h haal, teenoor handratmodelle se 183.

Die twee einddryfverhoudinge (4.861 vir ratte 1/2/4/5 en 3.650 vir ratte 3/6/7 plus trurat) word natuurlik deur die dubbelkoppelaar en derhalwe die ratkas se twee dryfskagte moontlik gemaak.

Die nadeel hiervan is dat DCT-variante 25 kg swaarder as handratmodelle is, wat – saam met korter ratte in wegtrekfases – amper ’n halfliter/100 km by handratmodelle se 6,5 liter/100 km voeg. DCT-modelle sal dus in die orde van 650 km uit die Venue se 45-liter-tenk tap, en handratmodelle amper 700 km.

Dis die harde syfers. Maar hoe voel die Venue op die pad?

Op die pad

Die kort antwoord is goed. Nog ’n antwoord sou wees: beter as die Creta en Kona. Die Venue se asafstand mag nou wel korter as genoemde twee stalbroers s’n wees, maar ritgehalte is marginaal beter, al stem veerstelsels en bandprofiele merendeels ooreen – menende voorste MacPherson-stutte plus ’n agterwringbalk, in die Venue se geval op 15”-wiele met hoë 65-bandprofiele.

Teen 20 km/h oor spoedhobbels was daar goeie veerabsorpsie; op gebroke padoppervlakke teen vinniger snelhede effe van ’n onrustigheid in ritgehalte, moontlik vererger deur ’n uiters stewige en soliede bak. Ons vermoede was dat toetsmotors se bande boonop dalk met 0,1 bar te hard gepomp was, moontlik met 0,2 bar, wat – indien reg – beteken dat ritgehalte selfs nog beter kan wees as wat tydens bekendstellingsritte ervaar is.

Ieder geval is bouwerk, dinamika, meganika en GVR (geraas, vibrasie en ruheid) deurgaans van ’n gehalte wat vir geen oomblik verklap dat die Venue uit Indië stam nie. Hyundai kan trots op hul Chennai-aanleg wees, soos onlangs ook deur die gehalte van hul nuwe Atos bewys.

Koppel dit met die nuweling se wakker oondjie plus kort rat- en einddryfverhoudinge in die openingsratte, en versnelling is op en wakker.

Die roer bied ook genoeg gewig om teen te werk; ’n aangename verrassing. Vir die Venue se hoogte gemeet teen sy kort asafstand (onderskeidelik 1,59 en 2,5 m) hanteer die Hyundaitjie ook verbasend goed. Daarby werk albei ratkas-soorte met ’n meganiese en tegniese integriteit wat segmentstandaarde stel.

Wat moontlik kan pla, is remming. In ’n reguit lyn stop die Venue met oortuiging, maar noodremming in draaie het ’n onrusbarende neiging getoon om die neus aanvanklik met ’n sweepslag stywer in die rigting van die draai te trek, en dis die laaste ding wat mens teen spoed soek, daar dit die voertuig se stert terselfdertyd na buite gooi.

Net die DCT-model is tydens bekendstellingsritte só getoets, en die probleem kan dalk eie aan daardie een enkele eenheid wees, wat beteken dat ’n finale oordeel sou moes oorstaan totdat die Venue aan deeglike padtoetse onderwerp word.

Dis ieder geval iets wat Hyundai sonder enige abrakadabra sou kon regstel, bloot deur die elektroniese beheereenheid se rem-regime te herprogrammeer.

Nie dat die gemiddelde Venue-koper normaalweg teen die soort snelhede sou ry waar die probleem kop uitsteek nie – maar mens weet nooit wat op ’n nat pad kan gebeur nie.

Ontwerp, stilering, verpakking en uitleg kry vyf sterre.

Ontwerp, stilering, verpakking en uitleg

Wat wel duidelik is, is die deeglike aard van ontwerp, stilering, verpakking en uitleg; al vier elemente kry vyf goue sterretjies.

Van buite vertoon die Venue met die kompakte, moderne, selfversekerde bonkigheid van ’n Volvo XC40, maar met tipiese Hyundai-neuskenmerke, soos ’n heksagonale rooster en forse kopligte onder skrefiesoë (nes op die Kona).

Van agter word die prentjie weer met Polo-agtige vierkantige stertligte afgerond.

Binne-ontwerp spreek eweneens van sobere eenvoud en die kajuit lewe lekker, selfs agterlangs, as jy pikkie genoeg is; die Venue meet korter as 4 m, maar ruimte word uitstekend gebruik.

Benewens die feit dat Fluid- en Glide-variante se voorsitplekflanke met leer afgewerk is, en einste variante se voorstoele hoogteverstelbaar is, bied hulle ook goeie ondersteuning. Die voetruim en -rus is boonop mooi wyd en instrumente en beheerpunte ergonomies in’t plek; maklik om te lees, maklik om raak te vat, maklik om te verstaan, maklik om te verstel.

Die stuurkolom is ongelukkig net hoogteverstelbaar en die voorpaneel en deurplastieke is hard, maar dit pla min, daar bopaneelplastieke met ’n pragtige fyn spikkeltekstuur versier word.

Toerusting en waarborge

Die Venue is ook mededingend toegerus. Selfs die intreevlak-Motion-variant kry ABS-remme met ESP asook twee lugsakke, halogeenkopligte, kragvensters alom, afstandbeheerde sentrale sluiting, lugversorging, Bluetooth/USB en ’n radio – alles vir R65 000 minder as die VW T-Cross en vir R33 000 minder as die goedkoopste Ford EcoSport 1.0T.

Die Venue se Fluid- en Glide­variante voeg ’n verdere vier lugsakke by die vergelyking, asook outoligte, swaailigte, voorste misligte, kruisbeheer, heuwelwegtrekhulp, ’n infovermaakstelsel met Android Auto en Apple Carplay plus ’n segmentleidende 200 mm-skerm, ’n parkeerkamera en -sensors, kragvensters en -spieëls, wegvoubare syspieëls, 60-40-verdeelbare agtersitplekke, poeierkasverkoeling en Isofix-kinderstoelhegpunte.

En hier’s dalk die belangrikste “byvoordeel”: ’n fabriekswaarborg van 5 jaar/150 000 km plus ’n ekstra 2 jaar/50 000 km op die enjin en ratkas.

Padbystand is hoeka vir 7 jaar/150 000 km en die diensplan hou vir 3 jaar/45 000 km.

Tel alles bymekaar, en die Venue staan sy plek vol, nie net in die R300 000-poel vir kompakte kruiswieletjies nie, maar ook in die sterk Hyundai-lewenstylstal.

  • Pryse: Hyundai Venue 1.0-handrat – R275 000-R310 000; 1.0-DCT-duppelkoppelaarkas – R305 000-R370 000
Meer oor:  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.