Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Klein Swift maak jou bly vir stadsry

Ons beveel Suzuki se klein Swift gereeld aan wanneer iemand raad vra oor watter stadsritser om aan te skaf.

’n Ligte lyf en stuurwerk maak dat die Suzuki Swift die kampioen van die verkeersknoop is. Wanneer laas het iemand dit aan jou kon sê? Foto: Marnus Hattingh

Vroeër vanjaar het Suzuki die Swift ’n opknapping gegee, maar so met die verbystap gaan jy nie sommer die verskille kan raaksien nie. Suzuki het die spesifikasielys langer gemaak sodat die stompstert parmant nou ’n indrukwekkend lang lys het van dinge waarvoor jy nie ekstra hoef op te dok nie.

Die intree-GA byvoorbeeld kry parkeergonsers agter, elektriese vensters en lugversorging, terwyl die topmodel-GLX (waarmee ons gery het) ’n tru-kamera en raakskerm, elektriese kant­spieëls, sleutellose toegang en ’n aansitknop saam met groter 15-duim-sierwiele het.

Daarby kry al die modelle in die reeks voortaan ’n stabiliteit­stelsel standaard ingesluit – ’n groot pluspunt met min ander klein stadsmotors wat dit bied.

Gooi kole

Al die Swifts (behalwe die 1.4T Sport) kry die groep se bekende 1.4-liter-petrolenjin. Dit hardloop sonder enige turbo-aanjaging, wat sy lae kragsyfers (61 kW, 113 Nm) dan ook verklap. Maar teen minder as 900 kg is die Swift so lig dat hy, ten minste nie op seevlak nie, nie die gebrek aan ’n turbo voel nie. Vir stadsry is hy heel energiek.

Op die Hoëveld mag hy wel uitasem raak, veral as jy hom gaan vol laai met die hokkiespan.

Elke afwerkingsvlak bied ook die keuse van ’n vyfgang-handrat of ’n viergang- outomatiese ratkas. Ons het die handrat geneem en was redelik tevrede daarmee. ’n Outomaties gaan altyd sorgvrye rygerief gee, maar met die klein enjins en ’n wringkragomsetter met min ratte, gaan jy vinnig ’n geteem hoor. Daarom maak die handrat sin.

Een ding val wel op: Die ratverhoudings is maar baie kort. Jy’s vinnig in vierde en trek jy weg by ’n verkeerslig, roei jy nogal soos jy elke sekonde van rat moet verwissel.

Suzuki maak aanspraak op ’n verbruiksyfer van 4,9 liter, wat sekerlik haalbaar is. My verbruik­ het op sowat 5,4 liter gedraai, wat ’n paar energieke ritte ingesluit het. Kortom, met ’n vol tenk brandstof het die ritmeter­ ’n reikafstand van 530 km aangedui, vir ’n klein 37-liter-brandstoftenk.

Nog iets wat ek wil noem van alledaagse gebruik van die Swift, is sy lekker ligte stuuraksie. Die stuurwiel is nogal groot, maar die Suzi draai op ’n tiekie wat parkering in smal ruimtes werklik ’n droom maak.

Afsaal

Die Volkswagen Polo Vivo is die land se gewildste ryding, maar daar is niks wat die Swift voor hoef terug te staan nie. Behalwe miskien ’n oudmodiese instrumentpaneel, met die raakskerm wat te klein ikone op het. Maar danksy ’n ligte lyf en vingerpunt-stuuraksie is die Swift ’n heerlike stadsrakker. Hy verdien meer liefde van die publiek.

Prys: Suzuki Swift 1.2 GLX – R218 900.

Meer oor:  Motors  |  Motorsport  |  Swift  |  Suzuki
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.