Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kleinste renfiets jaag Brandfort aan die brand

’n Superklein renfietsie jaag Brandfort behoorlik aan die brand.

Martin Muller (28) se motorfietsie is nie net die kleinste in Brandfort nie, maar seker ook die vinnigste.

Hy laat behoorlik die nekke rek as hy soos ’n supersoniese grassnyer in die hoofstraat afblits.

“Dis nie ’n gewone baaik dié nie. Hy ry op etanol. Op vliegtuigbrandstof,” sê Muller as hy iewers stop om ’n paar woorde te wissel.

Die ding is, hy het die motorfietsie vir sy seun, MJ, wat ’n jaar oud is, gebou.

Martin Muller (28) jaag met sy klein motorfiets in Brandfort se hoofstraat af. Dis die kleinste, vinnigste motorfiets in die dorp. Foto: Theresa Senekal

Maar die outjie is nog te klein om hom te ry, nou gebruik die pa hom as die brood-en-melk-ryding.

Maar dis ’n vinnige melkfiets dié.

Hy jaag tjop-tjop 70 km/h met die gevaarte. Die dorp se straatbrakke en rondloper-bokke moet koes as hy aangewoerrrrr kom.

Muller is ’n passer-en-draaier en werktuigkundige in Bloemfontein en het self die fietsie oorgedoen tot hy só blitsig is.

Martin Muller (28) jaag met sy klein motorfiets in Brandfort se hoofstraat af. Foto: Theresa Senekal

“Hy was heeltemal kapoet. Die baas het gesê ek kan hom vat, sy vriend wil hom nie meer hê nie. Toe ruk ek alles uitmekaar en begin om die dingetjie oor te bou.”

Hy het al die onderdele self op die draaibank gedraai en aan die fiets gesit.

“Dit was maklik om die enjin om te skakel van petrol na etanol. Ek het die head gesny en oopgeboor. Toe maak ek vir hom ’n nuwe pistontjie wat die kompressie en alles kan vat.”

Etanol is baie sterker brandstof as petrol, sê hy.

“Dis baie sterker. Waar ons gewoonlik op 93 oktaan petrol hardloop, hardloop ek op 105 oktaan. Ek kry dit by my baas. Hy gooi dit in sy resieskar.”

So, hy is die vinnigste motorfietsryer op die kleinste motorfiets in Brandfort?

“Sover ja! Dis seker die enigste klein motorfiets ook,” lag hy.

Muller laai MJ en sy sussies op die motorfietsie en ry met hulle in die erf rond.

Hy is die kleingoed se held met dié vinnige speelding.

Meer oor:  Brandfort  |  Jaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.