Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Alonso se Hilux-tuiskoms laat die mielielande stoom

Knormoer vermoed die ou Wes-Transvaal (of dan Noordwes, in vandag se taal) was lanklaas so in rep en roer soos die afgelope naweek.

Die pragtige Mercedes 600 Pullman Landaulet wat tans by die Frankfurtse Motorskou te sien is. Eens het dit aan Senegal se diktator behoort.

Dis mos nie aldag wat ’n Spanjaard in Lichtenburg se hoofstraat afry nie. ’n Voormalige Formule Een-kampioen, op die koop toe. En dit in ’n Hilux, nogal.

Knormoer vermoed dit was meer as net die mampoerketels wat Saterdag gestoom het.

Die plaaslike dames (en heelwat van Gauteng en die Vrystaat, as hy so na die gegons op sosiale media gekyk het) het behoorlik bontgestaan om ’n selfie met die Spaanse held te neem. En enigiets het getel, selfs al was Fernando Alonso net doer op die agtergrond in sy rooi-en-wit ren-bakkie.

Knormoer sê nie veel hieroor nie. Hy maak maar net ’n nota. Vir wanneer Maria Sharapova eendag hier gaan kom tekkies aantrek vir ’n tennisstryd, en ons manne die kameras sydelings laat draai.

  • Vlees is vlees, en mooi is mooi. As dit boonop in ’n warmgemaakte bakkie is, sing die engele korale.

’n Berg van ’n burg

As Knormoer ’n rand kon kry vir elke keer wat Lichtenburg as Lichtenberg geskryf is tydens die naweek se stofkapades in die mielielande, het hy nou iewers op ’n eiland met ’n sambreeldrankie in die hand gesit en kyk hoe julle almal werk.

Vingers op die knoppe: Was dit ’n geval van onkunde, luiheid of moedswilligheid? Of sommer al drie?

Komaan, mense. Lees net op die kaart: Colesberg, Lichtenburg. Hoe moeilik kan dit wees?

  • Geen wonder hierdie dorpies kry so min toeriste nie. Die mense spel dit konstant verkeerd!

Die Pullman en die diktator

Slap links van al die blink motors by die Frankfurtse Motorskou was daar ’n saal wat spesiaal gereserveer is vir ’n uitstalling van klassieke voertuie.

Maar nie net sommer enige Volksie en Ford nie. Daar was allerhande interessante en historiese rygoed, en peperduur ook.

Een vuurwa wat Knormoer se oog getref het, was ’n lang, slap Mercedes van 1971: ’n 600 Pullman Landaulet.

Dié Merc had ’n gawe storie. Dit is een van net 49 modelle wat ooit gebou is. Die Pullman was die langste weergawe van die 600-familie (oor die ses meter, buffer tot buffer) en dié weergawe het ses deure gehad.

Dié Landaulet was die “halwe cabriolet”-weergawe. Dus, die agterste gedeelte van die slap weeldewa (tot by die agterste ry sitplekke) het ’n lapdak gehad wat plat kon wegvou. Die res van die voorkant het die gewone metaaldak gehad.

Die pous het desjare in so ’n wit Landaulet gery. Daardie oop dak agter was ideaal vir Papa om regop in te staan en vir die waarderende skares ’n pouslike kus te waai.

Die ander kopers van die Landaulet was meer puntenerige individue. Soos, wel, diktators.

Ons swart Landaulet by Frankfurt is in 1971 by die voordeur van Senegal se president afgelewer.

Of Dakar nou swak paaie gehad het al dan nie, het nie gepla nie. So ook nie die vraag of sy mense daai Merc met sy komplekse en toe unieke lugveringstelsel hoegenaamd sou kon herstel het nie. Of die motor se outomatiese vens­ters, die wegvoubare lapdak en sy grote 6.3-liter-V8 nie.

Jip, die 600 Pullman Landaulet, een van net 49 in die wêreld, het gou onder die stof gestaan. En toe spoorloos verdwyn. In die 1990’s het ’n Duitser dit weer opgespoor, verwaarloos en verrinneweer. Toe, later in 2008, het die Mercedes-museum in Stuttgart dit weer gekoop en kon hy die statige motor tot sy volle glorie herstel.

  • ’n Hartseer verhaal vir die 600 Pullman én vir Senegal. Slegs een het ’n gelukkige einde gekry.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.