Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: As jou Taycan wil Can-Can

Knormoer sien Porsche het toe op ’n naam vir sy nuwe e-sedan besluit – die Taycan.

Goed, die eerste vraag natuurlik is: Hoe spreek jy Taycan uit?

Sommige sê dis Taai-kwon; ander hou van Tay-kên. ’n Vasbyter het selfs voorgestel as ons die Macan as Mah-kaan uitspreek, moet die Taycan seker die Tay-kaan wees.

Terwyl jy kopkrap oor jou gunsteling mondverwringing, is Knormoer een tree verder. Wat beteken hierdie uitheemse woord?

Winnie Harlow waai die geruite vlag ’n rondte te vroeg tydens Sondag se Grand Prix. Knormoer noem dit betaaldag-sindroom: Jy kan nie wag nie.

Want weer eens is dinge nie so eenvoudig as om melk oor jou Post Toasties te gooi nie.

Porsche sê Taycan beteken ’n “lewendige, jong perd”.

Op die groep se kenteken is daar immers ’n perd wat op sy agterpote staan.

Of ou Vos egter nog altyd as ’n Taycan-perd bekend was, is ’n wollerige gebied.

Maar wat, so op die oog af lyk Cayenne, Macan, Cayman en Taycan almal redelik eenders. Dis nou net 911 en 718 (die Boxster) wat die pas markeer.

  • Knormoer sal nou nie slapelose nagte oor Taycan hê nie. Maar as Porsche die Can-Can bekend stel, trek hy die streep.

Geluk, herr Porsche

So van Stuttgart se geliefde sportmotorbouer gepraat: Dit was die afgelope naweek Porsche se 70ste verjaardag en dié geleentheid is natuurlik oor die wêreld heen luisterryk deur die groep gevier.

In Suid-Afrika het Porsche ’n groot partytjie by Kyalami gehou waar Porsche-eienaars en -ondersteuners na ’n treffende versameling van dié vervaardiger se gunsteling-rygoed kon gaan kyk.

Ook op die podium was onder meer ’n 356 Roadster, die eerste Porsche van knap ná die oorlog.

Knormoer sien wyd en syd is dit verkondig dat hierdie model – daardie einste een op die podium – die ware Jakob was wat in 1947 die eerste lig gesien het.

Wat natuurlik ’n foutjie is.

Die ligblou knapie was bloot ’n replika.

  • Maar, wat is feite nou wanneer dit kan inmeng met ’n lekker storie? Sê Knormoer mos ook elke dag as hy ink op papier neerlê.

Spieëltjie, spieëltjie

Knormoer sien Ferrari se fris V8 van 3.9-liter is pas aangewys as die Wêreldenjin van die Jaar.

Fantasties. Maar, watter doodse stilte heers daar dan nou so? Dit is tog ’n peperduur en hoogs eksklusiewe motor wie se enjin gewen het.

Net enkele maande gelede is Porsche se Panamera as die nuwe Motor van die Jaar aangewys. En die gort was gaar op die sosiale media. Woorde soos “eksklusief” en “geen relevansie” is die algemeenste rondgegooi.

Goed, ’n enjin is nou nie so visueel bemarkbaar as ’n kar nie. Maar, is die beginsel dan nie dieselfde nie?

Knormoer wil iets sê en hy gaan dit sê: Dubbele standaarde is maar deel van die lewe. Ons sien dit elke dag in die politiek, in kommentaar, en ook op sosiale media – daardie barometer van feite en wysheid.

Die twee kompetisies is presies dieselfde. Albei wil uitmuntendheid beloon, in ’n spektrum wat wissel van klein en goedkoop (Fies­ta; 1.0-liter-enjin) tot groot en duur (Ferrari; V8).

In elke geval kyk kenners na mededingers in onderlinge klasse, en wys kategoriewenners aan, maar kies ook ’n algehele wenner. So het Ford se 1.0-liter al drie keer die Enjin van die Jaar gewen, en nou die vet V8.

  • Knormoer sê steeds, manipuleer dinge só dat net ’n gesinsmotor jou nuwe Motor van die Jaar word. Maar doen dit wetende dat jou gehoor dubbele standaarde toepas.

Gehoor in die stoor

Knormoer wil net dese en gene daarop attent maak dat, in hierdie dae wat selfrymotors al hoe gewilder raak, ons binnekort die dag kan bereik waar ’n countrysanger gaan kla dat sy vrou, hond en bakkie hom verlaat het.

Meer oor:  Toyota  |  Porsche  |  Knormoer  |  Motors  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.