Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: Bemarkers se pêrels van wysheid

Knormoer is dol oor persverklarings. Daardie artikels wat geskryf word om ’n nuwe produk se deugde te besing. En hoe kry sommige dit nie reg nie.

Neem die nuwe Toyota bZ4X. Kyk net na daardie naam: Eerstens, die “b” wat met ’n kleinletter geskrywe word. Dit skep mos nou intrige, visuele spanning, ’n ademlose stilte . . .

Toyota sê die “bZ” gedeelte in die naam staan vir “beyond zero”. Jy weet, nie net die gewone skoon batterykrag nie. Nee, ’n stap verder. Dit gee terug aan die natuur. Presies wat als terug aan die natuur gegee word, is Knormoer nie seker nie. Maar daarvoor word die b met ’n kleinletter gespel. Man, dis kuns.

* Jy kry name soos Stallion, Hilux en Sportwagon. En dan kry jy die bZ4X. Wat so gemaklik van die tong af rol. Knormoer wil graag in sy volgende lewe ’n bemarker word. Maar karnaam-uitdinker kan ook nie te doodvrot wees nie, of hoe?

Sterre in die Staria se oë

Moet egter glad nie die res van die motorbedryf weggooi wanneer dit by lawwe bemarking kom nie.

Knormoer kom toe op hierdie pêrel van wysheid af. Dis Hyundai se bemarkers wat meegevoer raak oor hul nuwe Staria-bussie. Onthou, dis ’n bussie en paneelwa waarvan ons hier praat.

“Die Staria is ’n tree vorentoe om ons nader aan ons omgewings te bring, sodat ons meer uit ons alledaagse lewens kan put en meer dinge kan doen wanneer ons pendel.”

Of wat van hierdie ene: “Die Staria spreek ons nuwe leefstylbehoeftes aan, soos wat ons by ons nuwe leefgewoontes inskakel. Die Staria herdefinieer jou reiservarings.”

* Terwyl Knormoer se kop nog draai van hierdie bemarking-spookasem, tref die laaste juweel in die kroon toe sy oog. “Die Staria stu Hyundai se transformasie as ’n slimmobiliteit-oplossingsverskaffer.” Ouens, bou julle bussies, of drink julle die heeldag rystee en praat twak met die diere?

Iets pastels vir meneer? Aston Martin het sy vroulike kant herontdek met sy Pastel Collection.

Intussen, in Ingolstadt

Die goeie mense by Audi het pas die sluier gelig van hul nuwe A7L. Dis reg, dis ’n langas-A7.

Tot hier toe is als nog gaaf. Wat Knormoer egter ’n bier laat haal het, was die meegaande foto van die genoemde A7L. Dis ’n sedan.

As jy jou motors ken soos jou vroue-rofstoeiers, sal jy natuurlik weet die gewone A7 het ’n luikrug-ontwerp. ’n Swiepende profiellyn met ’n geronde dak, wat afdaal na die kort, stomp stert. ’n Mooi motor, die A7.

Die A7 opsigself is die Sportback-weergawe van die A6-sedan.

So, wat het Audi dan nou eintlik hier gedoen?

* Ontspan, Knormoer het dit als fyngetrap en ontpluis. Die A7L is ’n sedan-weergawe van ’n luikrug wat op ’n sedan geskoei was. Nee, Knormoer weet ook nie wat in die water by Ingolstadt is nie. Maar hy verkies brakwater, dankie.

Iets vir die vrouemark

Knormoer weet nie of Aston Martin ’n nuwe ontwerper aangestel het, en of die vervaardiger maar net meer in pas met sy vroulike sy gekom het nie.

Ieder geval, net betyds vir die Europese somer pryk die nuwe Aston Martins nou in ’n vyftal sagte pastelkleure wat enige handsak perfek sal pas.

* Daar is appelkoos, laventel, peperment en rooswit. So pragtig. Dankie, ouens. Julle verstáán ’n man se behoeftes.

’n Taycan vir haastig gaan

Uit Stuttgart kom die brokkie nuus dat Porsche se nuwe e-voertuig, die Taycan, heel fluks verkoop, dankie. Porsche sê hy’t al 9 000 modelle verkoop, wat dit een uit agt verkoopte Porsches maak.

* Knormoer wil nou nie sy dipstiek in die partytjiekoek druk nie. Maar mag die 911 sy stem weer dik maak, binnekort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.