Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: BMW kry koue (bakkie) voete

Knormoer sien die groot opgewondenheid rondom dubbelkajuitbakkies as ’n nuwe nis vir vervaardigers wat voorheen slegs gesinsvoertuie gebou het, begin stadigaan soos ’n ou klubspeler sy blaaskanse te verleng.

Volkswagen het almal verras met sy Amarok, maar nou wil hy met Ford saamwerk as dié ’n nuwe Ranger gaan bou.

Die Mille Miglia-gedenkren vir historiese motors het vandeesweek in Brescia begin. Dié een pryk nog op Knormoer se emmerskoplysie.

Toe kom Mercedes en die internet val omtrent om oor die nuwe X-klas, wat nie veel meer as ’n Navara met maskara is nie.

’n Jaar of so later, en dit blyk nou Mercedes wonder of dit die regte ding was.

Die X-klas sukkel wêreldwyd met verkope. Tot so ’n mate dat BMW, wat in 2016 nog gesê het hy hou dié nuwe tendens fyn op, nou ook verklaar het hy stel glad nie meer in ’n eie dubbelkajuit belang nie.

Verrassend? Nee wat, nie vir Knormoer nie. Die X-klas lyk pragtig, maar die interwebs is ’n lelike ding. Jy kan nie die wêreld meer flous met ’n mooigemaakte Nissan-bakkie en dan ’n paar duisend ekstra daarvoor vra nie. Kopers betaal ekstra vir jou premium produk omdat, wel, dit ’n premium produk is.

  • Onthou enigeen die harde les wat Volkswagen geleer het toe hy sy sakpas-handelsmerk Seat in Suid-Afrika as ’n premium-segment-produk wou verkoop?

Samoerai’s slyp hul swaarde

So van handelsmerke gepraat wat graag rykmanspeelgoed bou, dit blyk nou Mazda het selwers planne om sy voete op ’n hoër, duurder trap van die leer te sit.

Jare lank was Mazda in effek gemuilband weens sy verbintenis met Ford. Sedert die groep enkele jare gelede egter weer onafhanklik geword het, het hy stelselmatig sy eie voertuie en tegnologie ontwikkel wat al hoe meer respek by die bedryf afdwing.

Die jongste planne uit Hiroshima laat egter die wenkbroue lig. Op bladsy 25 berig die Amerikaanse webwerf Jalop­nik van die groep se jongste finansiële jaarresultate waarin ’n paragraaf gewy word aan ’n nuwe, groot voertuig met agterwielaandrywing.

Dis opwindende nuus. Nog lekkerder is dat Mazda ook praat van ’n nuwe reguitses-enjin in sowel die petrol- as dieselformaat. Die petrolweergawes gaan ook met die groep se nuwe, wêreld-eerste-tegnologie spog waar die ontbranding sonder vonkproppe geskied, soos ’n diesel onder hoë druk. Dit bied beter wringkrag en ’n laer verbruik, wys Mazda se vroeë toetse.

  • Of dié nuwe motors die nuwe Mazda6 gaan wees, of ’n groter en deftiger sedan, is onseker. Maar dit vorm glo als deel van ’n ander nuwe strategie, en dit is om sy produkte duurder te prys ten einde met die Duitse premium-handelsmerke mee te ding. Knormoer hou duime vas die kêrels van Hiroshima voer al dié planne uit. Hul ontwerpe is van die elegantste tans op die mark, en met nuwe tegnologie kan hulle klasleiers in die bedryf word.

Tata, Jaguar en Land Rover?

Knormoer moet erken dat die jongste nuus uit Moembai hom onkant soos ’n IPL-danser met ’n knielengte rok aan betrap het.

Die Britse media het verlede week berig dat die PSA-groep, wat Peugeot, Citroën en Opel besit, besig is om die laaste dokumente te teken om Jaguar en Land Rover by Tata te koop.

Die Indiese konglomeraat (wat enigiets van British Steel en Tetley’s-tee tot Taj-hotelle besit) het Jaguar destyds by Ford oorgekoop.

Aanvanklik het sake voor die wind verloop. Maar verkope het die afgelope twee, drie kwartale verlangsaam.

  • Hierteenoor vaar die Franse heel fluks met hul nuwe aanwins, Opel. Die Duitsers se kompakte voertuie is steeds gewild, maar dit was glo veral die Franse se kostebesparings danksy groot sinergie met sy Peugeot-handelsmerk wat die wins ontsluit het. Knormoer vermoed ’n koebaai uit Moembai sal nie te hartseer nuus vir die deftige lords wees nie.
Meer oor:  Bmw  |  Motors  |  Rubriek  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.