Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Bra Fiks en SA se kampioenstatus

Kyk, Knormoer het nog altyd vermoed Suid-Afrikaners sukkel maar as hulle agter die stuur inklim. Maar nou het ’n Amerikaanse drukgroep, Zutobi, dit netjies in syfers vergestalt: Suid-Afrika is amptelik die land met die gevaarlikste paaie ter wêreld.

Zutobi se span het vyf maatstawwe gebruik om by hul ontleding van die wêreld se gevaarlikste en veiligste lande vir padgebruikers te kom.

Aspekte wat in berekening gebring is, sluit in die padsterftesyfer per 100 000 mense, die spoedgrens, die bloedalkoholvlak, die koers van sitplekgordel-dra en die dronkbestuurskoers.

Op sosiale media kan jy wees wie jy wil. Soos dié 50-jarige Japannese motorfietsryer (regs) met tegnologie bewys het – en in ’n kits ’n rits mans as volgelinge gekry het.

En raai wat? Ons is weer wêreldkampioene. Met ’n telling van 3,23 is Suid-Afrika loshande voor die volgende hopelose land, Thailand, met sy 4,35 en Amerika in die derde plek (5,09).

Aan die ander kant van die skaal is Noorweë (geen verrassing hier nie) heel bo met ’n telling van 8,21, gevolg deur Japan (7,89) en Swede (7,87).

Volgens die Amerikaanse drukgroep was dit veral Suid-Afrika se swak dronkbestuursyfer (57%) en lae sitplekgordeldra-koers (31%) wat gemaak het dat ons so hopeloos vaar.

Om suksesvol te vaar soos die Skandinawiese lande, sê die drukgroep, moet ’n land se bestuurders padreëls gehoorsaam en bedagsaam wees.

Knormoer vermoed ons minister van vervoer, Fikile Mbalula, het nog glad nie hiervan gehoor nie. Ou Fiks wil mos die bloedalkoholvlak na zero afbring, wat al ons probleme gaan oplos.

  • Voorspoed, Fiks. As jou spietkops nie eens die huidige roolig-jaers en geelbaan-cowboys kan aankeer nie, hoe gaan hulle dronkbestuurders vasvat? Gehoorsaam die padreëls. Kan jy nou meer. Daar’s nou ’n innoverende, nuwe denkrigting!

Koningin van die ’Ring

Die vroeë afsterwe van die Duitse renjaer Sabine Schmitz (51) verlede week het Knormoer sommer oor ’n paar goed laat moersleutels gooi.

Eerstens, dis jammer dat iemand in die fleur van haar lewe en met nog so baie om te bied, so vroeg moes sterf. Kanker is ’n derduiwel. In ’n era waar ons binne maande ’n entstof vir Covid-19 kan ontwikkel, en die MIV-pandemie kon begin hokslaan, sukkel ons beste mense vir dekades al om ’n duik teen kanker te maak. Dis vreemd.

Op ’n verwante noot het die afsterwe van die vriendelike Duitse renjaer maar net weer die mag van die Britse (en dan Engelssprekende, in die breë) media gewys.

Maar ook hul oogklappe.

Schmitz was al vir jare ’n bekende en suksesvolle renjaer in haar tuisland. Maar dit was eers toe die BBC-program Top Gear ’n insetsel met haar op die Nürburg­ring gemaak het, wat sy in die Engelse wêreld “ontdek” is.

Die afgelope paar dae, in al die Engelse publikasies se verslaggewing oor haar afsterwe, is daar telkens verwys na haar as die “ster van Top Gear”, of wat deur Top Gear na vore getree het.

  • Dis om in jou tone vas te kyk. Bloot omdat Britse publikasies sukkel om anderstalige publikasies te lees, beteken nie daardie persoon is nou onbekend nie. Knormoer wil nou nie die Vierkleur in sy voortuin hys nie. Maar die Ingilse se onderrok hang uit.

Aangeja op sosiale media

In Japan sit daar ’n paar hardebaard-motorfietsryers vandag wat diep agter hul leerbaadjies se moue wegkruip. Die rede? ’n Jong, aanvallige juffer met lang lokke wat graag foto’s van haarself op superfietse op haar sosialemedia-rekening geplaas het, was toe al die tyd ’n 50-jarige oom. Met harige arms.

Die man het sy gesig op foto’s digitaal gemanipuleer om soos ’n meisie s’n te lyk. En toe duisende (manlike) volgelinge gekry.

  • Totdat iemand sy harige arms sien uitsteek het. Klas, hier’s jou internet-les: Daar’s vuil uile daar buite.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.