Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Bra Fiks sal iets moet fieks

Knormoer sien ons huidige minister van vervoer, Fikile Mbalula, het pas weer die sweep geklap om te wys hy doen iets daadwerkliks oor dronkbestuur in die land.

Ou Fiks, soos die minister algemeen bekend was toe hy nog die minister van sport en ontspanning was, het met ’n swaai van baadjiepante aangekondig die land se huidige bloedalkoholperk van 0,05 g/100 ml sal voor die einde van die jaar nog na zero verlaag word.

Dít gaan nou al ons probleme opfieks, sê Fiks. Knormoer kan maar net sy kop skud. Ja, die minister moet gesien word dat hy ’n plan het en iets aan die saak doen. Maar dít is nou om van die wal af in die sloot te ry.

Iemand wat alreeds vere voel vir die huidige perk, gaan hom nie yskoud nugter skrik by die aanhoor van die nuwe, zero-perk nie. Hy drink alreeds ’n papsak leeg voor hy agter die stuur inskuif. ’n Nuwe, verlaagde perk gaan hom nie laat stop nie.

Dit het Rolls Royce se ingenieurs 100 000 uur geneem om die 90 000 gaatjies te boor waardeur die LED-liggies op die paneel skyn.

Die gedrag om dronk te bestuur, en te drink terwyl jy bestuur, is ’n sosiale probleem. Nie ’n 0,05- of 0,00-probleem nie.

Eerstens moet jy die patrollering en toetsing op standaard kry. Sodat dronk bestuurders op die plek afgetrek kan word, en dat die toetsapparaat se uitslag suksesvol in ’n hof kan staan.

Tweedens moet daar ’n hoër skuldigbevindingskoers wees, tesame met ’n strenger straf. Daar moet gevolge vir oortreders wees.

En laastens moet ons as gemeenskap alkohol- en gedragsopvoeding in skole implementeer. Vir ’n groot deel van die bevolking is daar ’n wanopvatting oor wat alkoholverbruik behels. Ook die negatiewe gevolge wat misbruik inhou.

  • Soos met vele sake in die land is die wet as sulks nie die probleem nie. Die toepassing en vervolging is waar dit haper.

Toyota met die maan gepla?

Goed, ons almal weet die Russe en Amerikaners hou daarvan om soos vlieë om die maan te wentel. Maar nou het Japan ook sy radar gestel op die stofplaneet wat saans bokant ons koppe hang.

En, soos dit ’n motornasie betaam, wil hulle ook daar gaan 4x4. Met niks anders nie as ’n spesiaal geboude nuwe Toyota. Maar Knormoer hoor dis nie sommer net enige nuwe Toyota nie. Dit gaan ’n doelgeboude voertuig wees. Wat glo alreeds in sy ontwerpstadium is.

Wat gee jy die man wat als het? ’n Instrumentpaneel wat soos sterre skyn, natuurlik.

Wat Knormoer egter meer fassineer, is wat Toyota die nuwe maantuig gaan noem. Kyk, Rush gaan dalk nie so goed werk vir iets wat rond bons op die maan se oppervlak nie. En Fortuner kan na goudsoekery vir ander lande klink.

Dus het Toyota veilig gespeel, en na sy ryk herkoms van aardse 4x4’s gekyk. Daarom, roffel die tromme vir die Toyota Lunar Cruiser!

Knormoer is sommer heel in sy skik met die Japannese se naamkeuse. Daar’s mos die Land Cruiser vir rondspeel in die Kalahari, en nou die Lunar Cruiser vir Spoetniks jaag op die Maan.

Lunar Cruiser, geddit?

Knormoer sien die voertuig behoort oor twee jaar gereed te wees, en dan moet hulle nog net ’n ruimtetuig bou. En raak korrel na die maan. Maar kêrels, 2030 is wanneer jy die eerste stofstrepe op die maan vanaf jou stoep sal kan besigtig.

  • Nou wag Knormoer net vir die eerste maan-skof van die Dakar. Dit sal nuwe betekenis aan die opmerking “ons is ligjare voor die res” gee.

Hei, Rolls, jy’s my ster

Wat gee jy die man wat als het? ’n Instrumentpaneel wat soos sterre skyn, natuurlik.

Rolls Royce se nuwe Ghost is te kry met ’n paneel wat met 152 LED-liggies aan die agterkant besaai is. Die paneel self is met 90 000 mikroskopiese gate geboor. Rolls sê as jou oog oor die paneel beweeg, blink dit soos sterre.

  • Knormoer sê dan koop hy liewer ’n diskobal vir die spieëltjie.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.